Leesvordering:

Die mooi van die Kalahari besing

Des 1, 2021

Titel: “Die ou Kalahari”

Woorde: Danie Pretorius

Musiek: Tradisioneel

Opgeneem deur: Danie Pretorius op die album Die man van die Kalahari en ook deur Jim Reeves op die album Jy is my liefling in 1963.

Die man van die Kalahari

Noem die woord “Kalahari” en die kans is goed dat die liedjie “Ver in die ou Kalahari” reeds iewers in jou gedagtes begin draai het. Dié liedjie is al só eie aan die Afrikaanse kultuur dat dit byna soos ’n asemrowende sonsondergang is – ’n sonsondergang waarvan die lyne tussen die hemel en die aarde in mekaar gevleg het. Só ook is dié liedjie in Afrikaans: Die lyne van ’n tyd vóór en ’n tyd ná die koms van “Ver in die ou Kalahari” is só verweef dat ’n mens kwalik die lyne kan onderskei. Dit voel maar bloot asof dit altyd met ons was.

Die sanger en liedjieskrywer Danie Pretorius het reeds in die 1950’s die woorde van dié liedjie geskryf. Dit het op sy eerste album, Die man van die Kalahari,verskyn. Op die omslag van sy tweede langspeelplaat, Die man van die Kalahari sing alweer!, word die gewildheid van dié Kalahari-man beskryf: “Daar in Vryburg se wêreld – die kontrei van beesboere en vriendelike mense – is die naam van Oom Danie Pretorius sommer baie bekend. As daar ’n plaaslike konsert is, dan staan sy naam sommer bo-aan die program … en met rede: Hy is die stem van die Kalahari, die man wat een van Suid-Afrika se gewildste liedjies ‘Die ou Kalahari’ geskep het!” Volgens die einste omslag was die eerste album ’n blitsverkoper.

Oom Danie, soos Pretorius bekendgestaan het, was ’n kranige kitaarspeler en musiek was vir hom ’n passie. “Oom Danie sing ook omdat dit vir hom ’n plesier is. Dit borrel sommer na die oppervlakte wanneer sy vingers die ghitaar se snare aanraak … en daarom is dit vir sy luisteraars, soos altyd, ’n genot,” lui die boodskap op die omslag.

Latere albums deur Pretorius was meer grappig van aard, soos Dis lekker om te lag saam met Chris Blignaut en Danie Pretorius sing lekkerlagliedjies.

Lied besing skoonheid van droë, droë land

Die Kalahari strek oor die grootste gedeelte van Botswana, bykans ’n derde van die oostelike dele van Namibië en die noordelike gedeelte van die Noord-Kaap. Dié gebied strek op sy langste bykans 1 600 km van noord na suid en sy totale oppervlakte word op nagenoeg 930 000 km2 gereken.

Volgens oorlewering is die naam “Kalahari” afgelei van die woord “makgadikadi” wat beteken “die groot dorsland”. Die gebied se naam is afkomstig van die Kgalagadi, die eerste inwoners in die streek.

Die liedjie “Ver in die ou Kalahari” besing die rykheid van ’n landskap wat deur talle as dood, droog en depressief beskou word. Die fauna en flora, riviere en mense word besing. Die Moloporivier (wat ’n gedeelte van die grens tussen Suid-Afrika en sy buurland Botswana vorm), die “eindelose vlaktes”, kameeldoringbome, die sand, sonbesies en selfs die “rooi Afrikaner-osse” skets die prentjie van wat Pretorius in dié liedjie die “eensame, vreedsame wêreld” noem.

Die idee wat Pretorius met “Ver in die ou Kalahari” probeer oordra het, het ’n idilliese beeld by mense gevorm. Dit het boonop deel van die Afrikaanse idiome-skat geword. Vandag nog, meer as 60 jaar sedert die liedjie geskryf is, word dikwels in die media en in die volksmond digterlik gepraat van “die ou Kalahari”. Dié liedjie het waarlik een van die hoogste sporte in die musiekerfenis behaal, deur onlosmaaklik van die werklike Kalahari te staan. In ’n artikel wat oor dié streek in die reisbylaag van Beeld verskyn het, lui Anena Burger haar artikel oor dié droë, woestynland soos volg in: “As jou motor se neus, punt in die wind, in die rigting van die Kalahari ry en die lirieke van Jim Reeves se ‘Ver in die ou Kalahari’ in jou kop bly vassteek, weet jy, jy is op pad na groot rustigheid. Dit bly maar net ’n pragtoneel hierdie kameeldoringboom- en sandvlakte waar die rooi duine soos ’n see voor jou uitgestrek lê.”

Ja, waarlik, die “ou Kalahari bo”!

Die Amerikaner sing Afrikaans

Jim Reeves, een van die bekendste Amerikaanse country- en gospelsangers en liedjieskrywers van die 1950’s en 1960’s, was in Suid-Afrika bekend vir veel meer as sy treffers soos “Adios Amigo”, “Distant drums”, “I love you because” en sy weergawe van “From a Jack to a King”.

Na aanleiding van sy besoek aan Suid-Afrika het hierdie internasionaal gerekende sanger verskeie liedjies in Afrikaans opgeneem en selfs hier in sy enigste rolprent, Kalahari Jim, gespeel. Sestien tydlose Afrikaanse treffers soos “Daar doer in die bosveld”, “Ver in die ou Kalahari” en “Sarie Marais” is op Reeves se Afrikaanse album Jy is my liefling ingesluit. Die album wat in 1963 uitgereik is, was ’n groot sukses onder Gentleman Jim (soos Reeves ook bekend gestaan het) se Afrikaanse aanhangers. Dit is weer in 1995 uitgereik. Verskeie bronne meld dat Reeves plaaslik selfs meer gewild as die koning van ruk-en-rol, Elvis Presley, was.

Volgens die vervaardiger van die album Jy is my liefling, Louis Combrinck, is die liedjies vir die album so gekies om by Reeves se styl pas. Combrinck is genader om die liedjies te kies. Hy is ook gevra om die lirieke op ’n manier vir Reeves uit te skryf sodat hy dit “darem min of meer korrek kon uitspreek”. Die eerste liedjies wat Reeves opgeneem het was die vier liedjies “Bolandse nooientjie”, “Die ou Kalahari”, “Ek verlang na jou” en “Tahiti”. Reeves is op die kruin van sy loopbaan, in 1964, in ’n vliegtuigongeluk oorlede.

Intussen het verskeie ander Afrikaanse sangers, insluitend Dozi, ook die tydlose Kalahari-lied opgeneem.

Bronne:

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest