Deur George de Bruin

Sowat ’n uur se ry van Amsterdam af kom mens op een van die grootste aaneenlopende natuurreservate in Nederland af. Die Nationaal Park De Hoge Veluwe lê tussen die dorpe Apeldoorn, Ede en Arnhem in die provinsie Gelderland.

Geoloë en aardrykskundiges sal jou vir ure lank met die geologiese geskiedenis van De Hoge Veluwe kan vergas. Dit was eens (iewers aan die einde van die laaste Ystydperk) die eindpunt van ’n enorme gletser wat dié pragtige stuk aarde toe geskep en gevorm het. Ek gaan nou nie te veel hierop ingaan nie – gaan lees gerus die Wikipedia-artikel hieroor. Want hoewel die natuurskoon hier ongelooflik is (en sommige dele ons aan die Hoëveld en selfs die Karoo laat dink het), het ons dié park van 55 km2 vir ’n heeltemal ander rede besoek: Tussen die bosse, gras- en veldvlaktes kruip die tweedegrootste Van Gogh-versameling in die wêreld in die Kröller-Müller Museum weg.

Mens kan die museum op een van twee wyses bereik: Jy kan óf ’n addisionele bedrag vir jou motor betaal en deur die park daarheen ry, óf jy kan een van die wêreldberoemde (en gratis!) wit fietse bestyg en sommer die park op pad na die museum verken. In Nederland maak mens soos die Nederlanders maak, en toe ons weer sien, het elkeen vir hom ’n wit fiets uitgekies en begin trap. Maar die weer besluit anders en die wolke maak bo-oor ons oop; druipstert is ons terug na die hek om die motor te kry en die tog warm en droog aan te durf (ons het ’n hele 10 km van die museum af parkeer, net ingeval iemand dink ons was lui!).

Die museum is asemrowend, om die minste te sê. Van die 90 Van Gogh-skilderye en meer as 180 -sketse word daar op enige gegewe tyd ten minste 40 werke uitgestal (die versameling word geroteer). Die hele Van Gogh-vleuel is spesiaal vir dié doel gebou. Vir my was die hoogtepunte beslis Treurende Ou Man (“At Eternity’s Gate”), Vier Geplukte Sonneblomme, Die aartappeleters, Kaffeeterras in die Aand en, natuurlik, die Pad met Sipres en Ster. Sterrekundiges het bevind dat die posisies van die sterre in Kafeeterras in die Aand presies ooreenkom met hoe die sterre in die middel van September 1888 in Arles, Frankryk gelyk het. Dan was daar natuurlik ’n hele paar van sy selfportrette, asook bekende portrette soos dié van Madame Ginoux en Joseph Roulin. ’n Ander hoogtepunt was Vilmos Huszár se skildery Vincent, wat ’n sonneblom voorstel en hy aan Van Gogh opgedra het.

Dronk van Van Gogh-kleure het ons daarna die museum se standbeeldetuin gaan verken: Meer as 160 standbeelde van alle verskillende style, mediums en groottes. Mens kan ook filosofeer oor die kunsheidsvlakke van sommige van dié skeppings, maar nou ja – elke diertjie het sy plesiertjie. Twee groot gunstelinge bly maar die wit eendjie wat verveeld op die een poel ronddryf, en die reeks borsbeelde (nogal in koper!) wat mense met diere-ore en -horings uitbeeld (sprokiesagtig!).

Ongelukkig het die weer ons weer te na gekom en kon ons nie die hele standbeeldpark deurkruis nie. Maar ’n volgende keer beslis!

Vinnige wenke:

  1. Koop ’n Museumkaart as jy beplan om ’n kulturele toer te doen – dit spaar mens baie geld en is tot 31 dae van die koopdatum af geldig. Dié kaart gee jou gratis toegang tot die Kröller-Müller Museum (hoewel jy steeds toegangsgeld vir die park moet betaal).
  2. As jy van stilte hou, is dit die beste om die museum op Vrydae te besoek.
  3. Jy mag kiekies in die museum neem, solank jou kamera se flits afgeskakel is.
  4. Neem ’n reënjas saam as jy beplan om die park per fiets te deurkruis (en die weer nie wil saamspeel nie!).

Foto’s: George de Bruin en Dirk Scholtz

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest