Leesvordering:

Die noodsaaklikheid van ’n behoorlike testament vir wêreldburgers

Sep 11, 2023

Deur Amanda Visser

Suid-Afrikaners word toenemend wêreldburgers met bates en familielede wat oor verskeie jurisdiksies versprei is. Dit maak ’n behoorlik opgestelde testament noodsaaklik om te verseker dat die testateur se wense uitgevoer kan word sonder om die boedel en diegene wat agterbly negatief te beïnvloed.

Suzean Haumann, hoof van Brenthurst Tygervallei, sê dit is raadsaam om ’n testament te hê in elke land waar jy bates het. ’n Suid-Afrikaanse eksekuteur sal sukkel om buitelandse eiendomme te hanteer, daarom is dit beter om ’n eksekuteur te hê in die jurisdiksie waar die bates is.

Sy beklemtoon ook hoe belangrik dit is om die belasting- en regulatoriese stelsels van die lande waar begunstigdes woon, te verstaan. Kinders wat in die Verenigde State woon, kan slegs beleggings erf wat in die Verenigde State gebaseer en gedomisilieer is. Haumann verduidelik dat die kinders nie ’n belegging wat in Bermuda of Guernsey gedomisilieer is in hul naam sal kan erf nie. Hulle sal moet repatrieer, die beleggings in Suid-Afrika van die hand sit en die kontant in rand omskakel voordat hulle dit na dollars kan omskakel.

Bykomende belasting

As jy in ’n ander jurisdiksie woon maar steeds ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner is, maak seker dat jy die land waar jy woon se belastingstelsel verstaan. “As daar nie ’n dubbelbelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en die betrokke land bestaan nie, kan van jou verwag word om addisionele belasting op jou erfenis te betaal in die land waar jy woon.”

Haumann en Malissa Conlin, Brenthurst se hoofbestuurder, skryf in ’n artikel baie Suid-Afrikaners aanvaar as hulle al baie jare in die buiteland woon, is hulle nie meer Suid-Afrikaanse belastinginwoners nie. Uit ’n regulatoriese oogpunt is dit egter nie die geval nie.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die konsep finansiële emigrasie heeltemal weggeval het met die onlangse implementering van belastingemigrasie. Daarom moet jy die belasting-emigrasieproses volg as jy formeel nie meer ’n belastinginwoner wil wees nie.”

Irma Dick, hoof van trusts en boedels in Stonehage Fleming se Suid-Afrikaanse kantoor, merk op dat elke persoon sy eie omstandighede moet in ag neem by die besluit oor belastingemigrasie. “Belastingemigrasie is ’n komplekse, langdurige en duur oefening,” voeg sy by.

Vrystellings

Dick verduidelik dat Suid-Afrikaanse belastinginwoners onderhewig is aan inkomstebelasting en boedelbelasting op hul wêreldwye bates. Daar is egter vrystellings ten opsigte van bemakings aan ’n gade en liefdadigheidsinstellings.

Alle bates wat aan kwalifiserende openbare weldaadsorganisasies bemaak word, kwalifiseer as aftrekkings en is dus uitgesluit van die netto waarde van die boedel en nie onderhewig aan boedelbelasting nie.

Daar is ’n korting van R3,5 miljoen op die netto waarde van die boedel. Boedelbelasting word dan gehef teen ’n koers van 20% op die eerste R30 miljoen daarna en teen 25% op die belasbare waarde van die boedel bo R30 miljoen.

Na gelang van waar die buitelandse bates is, kan jy dalk ook aanspreeklik wees vir wat bekend staan as situsbelasting op die oorsese bates; dit is belasting op grond van die ligging van die buitelandse bate, sê Dick.

“Die testateur moet besluit of die boedel voldoende likiede fondse het om die boedelbelasting en situsbelasting te betaal binne die tydperk waarbinne die situsbelasting betaal moet word. Sommige mense neem versekeringspolisse uit om die boedel se aanspreeklikheid vir hierdie uitgawes te dek.”

Sy voeg by as die buitelandse bates in ’n land is wat nie ’n dubbelbelastingooreenkoms met Suid-Afrika het nie, kan jy uiteindelik in albei lande belasting betaal. “Die bepalings van die verskillende dubbelbelastingooreenkomste is nie almal dieselfde nie. Jy sal moet vasstel wat die besonderhede is van die ooreenkoms met die land waarin jy wil belê.”

Dick waarsku dat een van die grootste wanopvattings is dat jou belastingverpligtinge in Suid-Afrika wegval en dat jy net in die buitelandse jurisdiksie belasting betaal as daar ’n dubbelbelastingooreenkoms bestaan.

Buitelandse begunstigdes

Suid-Afrikaanse burgers mag bates aan buitelandse begunstigdes nalaat. As die begunstigdes nie meer Suid-Afrikaanse inwoners en belastinginwoners is nie, moet hulle bloot bewys lewer dat hulle geëmigreer het. Die bewys is gewoonlik ’n brief van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens met ’n ECA-verwysingsnommer. Alternatiewelik kan die eksekuteur die Suid-Afrikaanse Reserwebank vra vir bevestiging van die erfgenaam se emigrasie en by ontvangs daarvan voortgaan met die oordrag van fondse aan die oorsese begunstigde.

Foto: romain-dancre-unsplash

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest