Leesvordering:

Die onsigbare dood – Koronavirus

Apr 1, 2020

Die groot stilte het soos ’n sagte donskombers op die Verenigde Koninkryk (VK), wat die vyfde grootste ekonomie in die wêreld het, neergedaal. Hierdie rustigheid is egter bedrieglik, want die onsigbare aanvaller se meedoënlose verspreiding en uitwissing van dié wat kwesbaar is, gaan voort met rasse skrede. Dit is nog steeds moeilik om die omvang en inpak van Covid-19 heeltemal te begryp. Jy kry die gevoel soos met die 9/11-aanvalle in die Verenigde State dat dit ’n massiewe, amper apokaliptiese gebeurtenis is, maar hoe moet ek die huidige gebeure hanteer? Die onvergeetlike tonele van die brandende torings en mense wat na hulle dood spring in New York destyds, het die wêreld soos ’n hou van ’n voorhamer getref, maar Covid-19 se uitwerking is meer soos dié van ’n stadige, voortslepende, verlammende gif. Hoe gaan ons wêreld verander? Wat gaan van die ekonomie, van besighede oorbly.

Die onsekerheid en onvoorspelbaarheid lok drasties uiteenlopende reaksies uit: Christene en ander gelowiges sien ’n Hoër Hand agter die universele ontwrigting, ekonomiese stilstand en stygende lewensverlies. Ek kan amper my pa se stem hoor wat sê “die mens wik, maar God beskik”.

Dan is daar natuurlik ook samesweringsteorieë vir die wat wil luister, byvoorbeeld dat die virus spesifiek in China ontwikkel is om die Westerse ekonomie op sy knieë te dwing, sodat China kan oorneem en bates teen ’n appel en ’n ei kan opraap. Dit is sogenaamd in reaksie op die ekonomiese sanksies wat die Verenigde State teen China ingestel het. Om gewig aan hulle teorie te gee, noem die mense hoe vroeg die Chinese drastiese maatreëls ingestel het, soos die bou van hospitale en die bestel van groot hoeveelhede ventilators en ander noodtoerusting. Beijing self is nooit getref nie, sê hulle, en China is alweer oop vir besigheid, terwyl die Weste steier onder die ekonomiese aanslag, en blue chip-aandele en ander bates teen ongekende lae pryse opgeraap kan word. China se bondgenote, Rusland en Noord-Korea, het ook tot dusver lig daarvan afgekom. Sir Ian Duncan-Smith, ’n voormalige leier van die Britse Konserwatiewe Party, het in ’n baie kritiese artikel in die Mail on Sunday die Chinese regering van ’n toesmeerdery oor die virus beskuldig, en só ver gegaan as om te eis dat die Britse regering in die lig van die huidige krisis hulle verhouding met China geheel en al moet hersien.

Die huidige gebeure verseker dat ons nou terug is by die basiese dinge in die lewe, soos om gesond te eet, gereeld oefening te kry, in kontak met jou geliefdes te bly, jou hande gereeld te was en net die werklik nodige dinge te koop. Ons dolle gejaag na wind is tot stilstand geruk. Ons is gedwing om ons prioriteite te hersien. Geen wonder dat ’n radiospreker nou die oggend daarop wys dat Christus net een keer as’t ware Sy humeur verloor het, naamlik toe hy die handelaars se tafels in die tempel omgegooi het nie!

Sterftesyfer realiteit ‒ verskille tussen lande

Die sterftesyfers tussen lande met min of meer dieselfde demografiese profiel varieer drasties.  Dit is moeilik om te verklaar. In Spanje sterf byvoorbeeld 8.5% van die korona-gevalle, teenoor net 2.0% in die naburige Portugal. Ook in Duitsland sterf net 0.8%, terwyl Nederland langsaan, ’n dodetal van 7.1% het. Kan dit wees dat Duitsland net meer effektief is om op ’n groot skaal te toets, en dat die ander lande duisende gevalle het waarvan hulle nie weet nie? Die VK het nog geen openbare toetssentrums nie, terwyl my susters wat onderskeidelik in Australië en Ierland woon, my vertel van hulle deurry toetsstasies. Australië is tans op ’n lae 0.4% en Ierland op 1.8%. (The Times van 30 Maart 2020 se bron vir dié persentasies is Worldometer).

Spekulasie op die stasie

Volgens prof. Philip Thomas, ’n risiko-ontleder verbonde aan die Universiteit van Bristol, het sy span bereken dat indien die bruto binnelandse produk (BBP) van die VK vir ’n aanhoudende tydperk met meer as 6.5% val, die ekonomiese gevolge van die koronavirus die land meer lewens sal kos as die siekte self. Hy het op BBC Radio 4 se program, The World at One verduidelik dat ’n langdurige depressie of resessie tot grootskaalse lewensverlies kan lei, aangesien daar ’n duidelike verband tussen die BBP en ’n gemeenskap se gemiddelde lewensverwagting is. Een rede daarvoor is die feit dat ryker lande baie meer aan gesondheidsorg, veiligheidsmaatreëls en omgewingsbewaring kan spandeer.

In teenstelling met sy mening, het prof. Neil Ferguson van die Imperial College in Londen (wat ook ’n direkteur van die MRC-sentrum vir die Globale Ontleding van Aansteeklike Siektes is) die afgelope Sondag gewaarsku dat die tydperk van afsondering ten minste drie maande lank moet duur. Dié uitlating het gevolg op ’n skerp toename in die aantal sterftes in Brittanje. Dit het naamlik in drie dae verdubbel tot by 1 019 op 29 Maart 2020.

Net een dag later het dr. Jenny Harris, die Britse adjunkhoof mediese beampte, verklaar dat Britte ses maande van beperkings moet verwag. Sy is oortuig daarvan dat drie maande van algehele grendeltyd moet geld, gevolg deur maande waarin die maatreëls geleidelik verslap word.

Prof. Stephen Powis, die nasionale mediese direkteur van die Britse Nasionale Gesondheidstelsel, het tydens ’n nuuskonferensie teen oorgerustheid gewaarsku en beklemtoon dat die doel van maatreëls teen die virus is om die dodetal onder 20 000 te hou.  As hierdie pogings slaag, sal dit volgens hom beteken “dat ons goed gevaar het”.

’n Miljoen Britte in die buiteland?

Die VK se bevolking is 67.9 miljoen, waarvan ongeveer ’n miljoen siele normaalweg buite die landsgrense op ons ou wonderlike planeet rondloop. Nou het die Britse regering die ingewikkelde taak om hierdie wêreldreisigers terug huis toe te bring. Die minister van buitelandse sake, Dominic Raab, het aangekondig dat ’n aantal kommersiële en huurvlugte Britte wat in lande soos Indië, Peru, Nepal, Nieu-Seeland en Soedan is, terug te bring. Die dienssentrum wat in die lewe geroep is om hierdie probleem te hanteer, ontvang tans 15 000 oproepe per dag.

Rol van die kerk in die krisistyd

Die Church of England het alle formele dienste vir die afsienbare tyd opgeskort. ’n Leser van The Times, Martin Pettinger, wys daarop dat sy plaaslike ou kerkie al eeue lank bestaan en dat dit nou die eerste keer vir die publiek gesluit is. Hy vra as die Church of England dan nie die kerkgeboue vir gemeentelede kan oop los om deur die dag daar te gaan bid nie, waarvoor is die kerke dan daar?

Dodelike begrafnis

Twee dae voor grendeltyd in Brittanje in werking getree het, is die 86-jarige Sheila Brooks in die Westelike Middellande begrawe. Sewentien van die mense wat die begrafnis bygewoon het, het nou die Covid-19-virus en een van hulle, die 65-jarige Susan Nelson, is op 25 Maart 2020 oorlede.

Geboortetoename in die vooruitsig?

Dr Sheri Jacobson, ’n sielkundige van Harleystraat, het ’n skerp toename in geboortes aan die begin van 2021 voorspel, aangesien paartjies nou meer tyd saam deurbring. Die teenpool, naamlik meer egskeidings, kan seker ook te wagte wees, aangesien die tydperk van afsondering frustrasies in gesinne kan laat toeneem.

Blou meer word swart

Die afdwing van sosiale distansiëring het ’n nuwe dimensie aangeneem toe die polisie in Derbyshire ’n pragtige meer, bekend as die “Blue Lagoon”, met kleurstof behandel het om dit swart te maak, sodat dit minder aantreklik vir besoekers moes wees wat toe nog steeds in groepe daar bymekaar gekom het.

Kollig op glanspersoonlikhede

Koninklikes wat positief vir die virus getoets het, sluit prins Charles en prins Albert van Monaco in. Onder politici is daar onder andere die Britse eerste minister Boris Johnson, die Britse minister van gesondheid Matt Hancock, asook Michel Barnier, die Europese Unie se hoof-onderhandelaar.

Ons familie

Saterdagoggend kry ons ’n dringende oproep van my dogter, René, om te sê Christiaan, ons oudste seun, het ’n hoë koors.  Hy kon gevolglik al vir ’n paar dae nie inkopies doen nie, want sy vrou Nicole hoes baie en is ook koorsig. Ons twee “oumense” is toe inderhaas na ons naaste Lidl-supermark en het ’n paar uur later met ’n massa kruideniersware by ons kinders se huis in Ashford aangekom. Ons het die sakke inkopies voor die deur neergesit, Nicole het dit ingevat, deurgegaan en alles wat hulle nie kon gebruik nie, weer buite neergesit. Alles so op ’n afstand, asof ons bang vir melaatsheid is.

Voordele

Die grootskaalse vermindering van lug- en grondverkeer het ’n dramatiese afname in besoedeling tot gevolg gehad. Prof. Hugh Coe, van die Universiteit van Manchester se omgewingsnavorsingsinstituut sê dat daar ’n merkbare afname in besoedeling is, en dat stikstofdioksied en fyn deeltjies veral verminder het. Die gevolg hiervan is dat jy selfs in die gewoonlik wasige Britse hemelruim nou sterre kan sien ‒ veral die sogenaamde môrester, Venus.

Formule Een

Die sewe Formule Een-spanne wat in Brittanje gebaseer is, het bymekaar gekom en onder die vaandel van “Project Pitlane” begin om ventilators met dieselfde ywer en kundigheid te vervaardig as wat hulle gewoonlik op die resiesbaan sou toepas. Die groot verskil is dat daar nou in plaas van net ’n ontwerpuitdaging, ook die uitdaging van ’n voorsieningsketting is om mee rekening te hou. “Project Pitlane” skakel in by ’n groter nasionale projek waarvan Rolls-Royce, Dyson en Airbus onder meer ook deel is.

Taktiese rowers

Diewe en inbrekers het hulle taktiek by die grendeltyd se toestande aangepas, en konsentreer nou op verlate sakegebiede, waar winkels, restaurante en tradisionele “pubs” geteiken word. Die handel in verdowingsmiddels het ook verander ‒ dwelmsmouse handel nou hulle transaksies in en om supermarkte af. Daar bestaan ook groot kommer oor kinders wat nie die beskerming van skole het nie en massas vrye tyd op hande het. Ons plaaslike koerant, die Sittingbourne News berig dat vandale ses ambulanse se bande in Ramsgate, Kent, stukkend gesny het.

Noudat ons meer tyd vir ons daaglikse staptog het en nie geselsies met ander stappers mag aanknoop nie, verken ons ons onmiddellike omgewing baie beter. Ons het ’n rukkie gelede op ’n ratel afgekom wat net voor die grendeltyd doodgery is, en as gevolg van die ysige koue nou eers (na 10 dae) na ontbinding begin ruik. Toe ek vandag gaan draf, het ek ’n klomp yskaste en stowe gesien wat in die veld weggooi is ‒ tien teen een deur iemand wat betaal is om dit weg te ry.

 

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest