Leesvordering:

Die pad huis toe

Apr 13, 2022

Deur Alana Bailey

Die Ierse sangeres Enya sing:

But what are miles

Across the ocean

To the heart that’s coming home?

Ongelukkig is terugkeer na Suid-Afrika nie so maklik soos om net die pad te vat nie. Hiermee tien dinge wat jy in gedagte moet hou.

1. Paspoort

Sorg dat jou Suid-Afrikaanse paspoort geldig bly – selfs al het jy geen plan om ooit weer in Suid-Afrika te kom nie. Die lewe loop snaakse draaie met ’n mens en as jy om watter rede ook al sou wou of moet terugkom, maak ’n geldige paspoort dinge net soveel makliker.

2. Burgerskap
As jy die burgerskap van ’n ander land wil aanneem, doen eers aansoek om die behoud van jou Suid-Afrikaanse burgerskap. As jy dit nie doen nie, gaan jy waarskynlik jou Suid-Afrikaanse burgerskap verloor.

3. Kinders
As jy kinders het wat in die buiteland gebore is, registreer hulle geboorte so gou as moontlik in Suid-Afrika. Dit is ’n langdurige proses, maar daarsonder gaan hulle nie ’n Suid-Afrikaanse paspoort kan kry nie en probleme hê as julle sou wou terugkeer. As jy dalk ’n kind aanneem, of voog van een word, vind uit hoe om vir die kind burgerskap of verblyfreg in Suid-Afrika te kry.

4. Voertuie
Hou in gedagte dat Suid-Afrika nie meer die invoer van linkerhandstuurvoertuie toelaat nie.

5. Bestuurderslisensies
As jy nie meer ’n geldige Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie het nie, maak seker wat van jou vereis sal word om jou buitelandse lisensie om te skakel na ’n Suid-Afrikaanse lisensie wanneer jy terugkeer. Vereistes verskil, afhangend van die land waar jy vandaan kom, en mag byvoorbeeld insluit dat jy sal moet bewys lewer dat daar geen uitstaande verkeersboetes of veroordelings teen jou naam is nie.

6. Mediese fondse
Ons raad sou wees dat jy in Suid-Afrika aan ’n mediese fonds moet behoort. Openbare gesondheidsdienste is baie swak in sekere provinsies en daarom moet jy toegang tot privaat mediese sorg kan hê. Daar is baie opsies beskikbaar – van planne wat net noodgevalle en hospitalisasie dek, tot dié wat letterlik alles, ook brille en pille, insluit.

Wetgewing vereis van mediese fondse om heffings te plaas op lede wat vir ’n tyd lank nie lid van ’n Suid-Afrikaanse mediese fonds was nie.

Dit geld ook vir mense wat in die buiteland gewerk, studeer of gewoon het. Maak dus seker dat jy met ’n makelaar gesels wat die beste fonds en fondsplan vir jou kan help vind – een wat steeds bekostigbaar is, ten spyte van dié heffing.

7. Pensioen
As jy in Suid-Afrika kom aftree, maak seker dat die pensioenfonds jou pensioen in Suid-Afrika sal uitbetaal voor jy verhuis. Daar was al gevalle waarmee ons gewerk het waar mense aan fondse behoort het met streng bepalings dat dit nie in enige ander land as dié waarin die fonds geregistreer is, mag uitbetaal nie.

8. Belasting
Vind uit watter belastingplig op jou rus in die finansiële jaar waartydens jy terugkeer na Suid-Afrika – beide in die land van herkoms en in Suid-Afrika. As jy ook in die toekoms buitelandse verdienstes sal hê, vind uit of daar belastingooreenkomste bestaan tussen die land waar die fondse vandaan kom en Suid-Afrika, asook wat die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet in jou geval sal vereis.

9. Heimwee
Onthou dat jy tydens jou verblyf in die buiteland verander het, maar dit geld ook vir almal wat jy agtergelaat het.

Vriende en familie het nuwe vriende en belangstellings gekry, stelsels het verander, kontakte wat jy op sekere plekke gehad het, het aanbeweeg.

Al kom jy huis toe, is die aanpassingsproses baie soortgelyk aan wanneer iemand na ’n vreemde land emigeer, en al was jy dalk nie dolgelukkig in die buiteland nie, gaan daar mense en dinge wees wat jy mis en waarna jy gaan verlang. Berei voor daarop.

10. Gesinseenheid
Net soos met emigrasie, gaan die remigrasie van gesinne na Suid-Afrika net werk as dit ’n spanpoging is. Om terug te keer na Suid-Afrika gaan nie huweliksprobleme oplos of gedragsprobleme van kinders laat wegsmelt nie. In teendeel, aanvanklik kan die aanpassing juis meer druk op gesinsverhoudings plaas. As jy bekommerd hieroor is, vind betyds ’n terapeut wat kan help.

Met hierdie tien punte wil ons nie die indruk skep dat ’n mens eerder nie remigrasie moet oorweeg nie, maar ons wil help dat die besluit om terug te keer, ’n ingeligte keuse is en dat haakplekke in die proses sover as moontlik voorkom word. Kontak Wêreldwyd gerus as daar enige vrae hieroor is.

LEES OOK: Kom huis toe

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Wolkskool

Onderneming in die Kollig: Wolkskool

Hierdie week se kollig is op Wolkskool. Wolkskool is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Renzo Harmse, wat...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest