Somtyds, soos met die onlangse Hier Staan Ons-opvoering by die Voortrekkermonument, word ‘n mens herinner aan die ou volksliedjies wat ons as kinders gesing het. Liedjies soos “Siembamba” en “Daar Kom die Alibama” is in die volksgeheue ingeprent omdat ons as kinders deur die wiegeliedjies aan die slaap gesus is. Wat min mense egter weet, is dat dié liedjies ‘n diep en ryk herkoms het wat ons soveel van ons geskiedenis vertel.

Waar kom “Siembamaba” vandaan?

“Siembamaba” is seker een van ons bekendste volksliedjies. Dit is in 2013 as een van die grootste Afrikaanse liedjies van alle tye aangewys. Hoewel “Siembamba” se geskiedenis heelwat verder terug strek, het dit die eerste maal in 1927 in Joan van Niekerk se boek Die groot Afrikaans-Hollandse liederebundel verskyn. Die liedjie se woorde laat dit klink asof ‘n kind vermoor word: “Siembamba, mamma se kindjie, Siembamba, mamma se kindjie, draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood.” Sommige mense spekuleer dat Louis Leipoldt die liedjie geskryf het en dat dit handel oor die kinders wat in die konsentrasiekampe dood is. Ander teorieë daarop dui dat dit dalk kom van die Xhosa-frase “siyambamba”, wat “ons vang” beteken.

Die navorser Rudi Rousseau beweer die liedjie dateer uit die Anglo-Boereoorlog en dit handel oor vrouens wat babas, gebore weens verkragting deur Britse soldate, vermoor het deur hulle nekke om te draai. Dié donker weergawe word bevraagteken deur verskeie mense wat dink die liedjie handel eerder oor die gevaar van ‘n mamba wat die kind bedreig. Wat wel bekend is, is dat die liedjie tot in die 19de eeu gesing is as “Sien mamba” en nie as “Siembamba” nie (laasgenoemde uitspraak het waarskynlik later weens assimilasie ontstaan). Dié woorde dui op ‘n slang wat die kind bedreig en wat doodgemaak moet word deur sy nek om te draai.

Oorsprong van “Daar kom die Alibama”

“Daar kom die Alibama” bestaan minstens sedert 1863, maar sommige bronne dui daarop dat dié liedjie se geskiedenis selfs verder terug strek. Die liedjie verwys na die CSS Alabama, ‘n oorlogskip wat mettertyd as die Alibama bekend geword het. Die skip was tydens die Amerikaanse Burgeroorlog deel van die Amerikaanse konfederale vloot en was bekend daarvoor dat hy handelskepe agternagesit en gekaap het. Die Alabama het die verowerde skepe se bemanning gevange geneem en weer by die volgende neutrale hawe vrygelaat waar hulle aangedoen het. Die feit dat die Alabama nie die bemanning van gekaapte skepe leed aangedoen het nie, het die skip wêreldbekend gemaak. Die bekende Afrikaanse liedjie het ontstaan toe dié bekende skip die Kaapse hawe tussen 1863 en 1864 aangedoen het.

“Blommetjie gedenk aan my”

“Blommetjie gedenk aan my” is ‘n meer moderne liedjie wat steeds ons hartsnare roer. Baie mense beskou dié liedjie, wat deur Anton Goosen geskryf is, as die eerste Afrikaanse rock-liedjie. Dit is gebaseer op die ware verhaal van ‘n vrou wat tydens die Paasnaweek van 1968 op pad na haar troue in ‘n motorongeluk oorlede is. Marie Charlotte Roux se verloofde het beheer verloor oor hul Volkswagen en sy is uit die motor geslinger. Ambulanspersoneel het haar verloofde agter die stuurwiel aangetref. Toe hy die volgende oggend in die hospitaal wakker word en na Marie Charlotte vra, het hulle na haar gaan soek en haar verkluimde liggaam langs die pad gevind. Tydens die Paasnaweek van 1976 is die eerste keer aangeteken dat ‘n vrou met lang, donker hare ryloop in die omgewing waar die ongeluk plaasgevind het. Motoriste wat haar oor die jare opgelaai het, vertel dat sy na ‘n paar kilometer net skril lag en verdwyn. Daarom lui die liedjie se woorde: “Blommetjie gedenk aan my, en sy lig haar duim na bo; Blommetjie gedenk aan my, sing die spook van die Klein-Karoo.”

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Pin It on Pinterest