Leesvordering:

Die standbeeldedebat – plaaslike en internasionale menings hieroor

Okt 12, 2020

Suid-Afrika is nie die enigste land wat stoei met vraagstukke oor die behoud van standbeelde en monumente wat kontroversiële gebeure of individue in openbare ruimtes herdenk nie. Reeds jare lank word die debat net so fel in onder meer Europese lande en die Verenigde State (VSA) gevoer.

Aanvanklik het die debat in die VSA op standbeelde van leiers van die Gekonfedereerde State tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) gefokus. Tans kring dit wyer uit, met byvoorbeeld standbeelde van die ontdekkingsreisiger Christopher Columbus wat die afgelope maande in Massachusetts, Minnesota and Virginia onthoof is.

In ’n lang en vurige debat oor die vraag “Moet monumente vir die Gekonfedereerdes behou word omdat ons dit nodig het om ons aan die geskiedenis te herinner?” [https://www.quora.com/Is-it-true-that-Confederate-monuments-shouldnt-be-removed-because-we-need-them-to-remind-us-of-history], het deelnemers interessante kommentaar gelewer. Hiermee my parafrasering van enkele standpunte oor die behoud van erfenishulpbronne in die openbaar wat hulle spesifiek oor die Amerikaanse vraagstuk gelug het, maar wat eweseer op die Suid-Afrikaanse erfenislandskap van toepassing mag wees.

  • Wat is die verskil tussen die magte van ISIS wat erfenishulpbronne vernietig en enige ander persoon wat dit doen?
  • Temaparke vir standbeelde wat mense ongemaklik maak, is geen oplossing nie. Geskiedenis word nie in openbare parke geleer nie, maar politiek wel.
  • Bloot die feit dat hierdie debat oor standbeelde en monumente gevoer word, lei tot besprekings oor die historiese gebeure daaragter en in die proses leer mense meer oor die geskiedenis as gevolg van die monumente. As ’n metaalvoorwerp hierdie leerproses aan die gang kan kry, is dit mos al genoeg rede om dit te behou.
  • Ongemak is nie genoeg rede om standbeelde af te takel nie … ’n Grootse nasie probeer niks verberg nie, maar maak die verlede juis openbaar om daaroor te herbesin.
  • Iemand wat sê dat hy nie ’n standbeeld wil sien nie, sê eintlik hy wil eerder onkundig bly en nie met ingewikkelde feite gekonfronteer word nie. As jy nie jou geskiedenis ken nie, moenie dit deur verskuiwing en vernietiging probeer herskryf of verdraai om by jou stiksienige ideologie van onkunde en haat te pas nie.
  • Om monumente en standbeelde stelselmatig te verwyder of te beskadig weens die onderwerp wat hulle verteenwoordig, is in wese sensuur … Ons moet alle fasette van ons geskiedenis leer ken en daaruit probeer leer. Om op die relikwieë van die geskiedenis, in plaas van die geskiedenis self, te fokus, is verkeerd.
  • Die interessante ding van die geskiedenis is dat dit die hele tyd verander. Die feite verander nie, maar ons insig en interpretasie daarvan wel. Standbeelde is deel van die geskiedenis en hulle betekenis verander daarmee saam. Ons kan die beskikbare inligting daaroor neem en herinterpreteer om die verlede steeds meer akkuraat te weerspieël. Ons kan die politieke en maatskaplike afdraaipaadjies uit die feite probeer sif en dit vanuit ons eie kennis beoordeel. Net so kan die generasies na ons dit weer opnuut interpreteer. Behou die monumente en standbeelde en gun daardie reg vir elke volgende geslag.
  • ’n Monument maak van niemand ’n held nie. Oorspronklik was hy of sy dalk wel vir die mense wat dit opgerig het ’n held, maar ons kan die persoon se rol heroorweeg en by nabaat dalk anders besluit.
  • Hou ruimte vir alle monumente en standbeelde en laat hulle ons almal daaraan herinner dat ons ons eietydse leiers en helde ook objektief moet probeer beskou, sonder om goddelike eienskappe aan blote sterflinge toe te ken.
  • Selfs skurke se beelde kan ons herinner dat iemand wat dapper en edel mag voorkom, growwe foute kan maak. Dit herinner ons aan ons almal se feilbaarheid en dat dit wat nou in onskuld vir ons reg mag lyk, deur komende geslagte anders gesien mag word.
  • Niemand het die reg om ’n ander se waardes te veroordeel nie ‒ dit gebeur net in ’n diktatuur. Besoek die standbeelde wat jy wil besoek en ek sal die standbeelde besoek wat ek wil besoek. As ek nie inmeng met jou waardering vir standbeelde wat vir jou van besondere betekenis is nie, moet jy ook nie inmeng met my waardering vir standbeelde wat vir my van besondere betekenis is, en wat ek graag wil sien nie. Dít is wat ware vryheid is.

Die standpunte wat ek hier opgesom het, is hoegenaamd nie ’n poging om objektief te wees nie, want soos bo genoem het ek die betoë vir die verwydering of selfs vernietiging van beelde weggelaat. Dit is wel kommentaar wat ’n mens laat nadink oor die betekenis van hierdie soort bakens en hulle rol in openbare ruimtes.

AfriForum se standpunt bly dat verskuiwing slegs as laaste uitweg oorweeg moet word, en vernietiging en temaparke glad nie. Dit is ook al in verskeie artikels gemotiveer:

In ’n opiniestuk met die titel “Don’t take down Confederate monuments. Here’s why,” skryf die joernalis Sophia A. Nelson in 2017 dat sy nie die standbeelde van dooies vrees nie. “Wat ek vrees is die haat wat ons intyds sien … op sosiale media, op ons kampusse, in ons werksplekke en in ons politieke retoriek,” het sy verduidelik.

Haar standpunt sluit aan by die betoog van die Internasionale Strafhof se aanklaer, Fatou Bensouda, wat sy gelewer het tydens die waterskeidende saak van dié hof teen Ahmad al-Faki al-Mahdi, wat op klagtes van erfenisskending skuldig bevind is. Bensouda het naamlik verklaar:

Vandag se verhoor is inderdaad histories. En dit is des te meer histories, gesien in die lig van die vernietigende woede wat ons era kenmerk, waarin die mensdom se gesamentlike erfenis onderwerp word aan herhaaldelike en beplande vernietiging deur enkelinge en groepe wat hulleself ten doel stel om die verteenwoordiging van enige wêreld wat van hulle s’n verskil, uit te wis deur die fisiese manifestasies daarvan wat aan die hart van gemeenskappe lê, te verdelg. Die verskille en waardes van hierdie gemeenskappe word sodoende eenvoudig ontken en uitgewis.

Verskuiwing en vernietiging is nie tekenend van regstelling en begrip nie, maar wel van onverdraagsaamheid.

In Suid-Afrika kom nog ’n dimensie by, naamlik dat voorbeelde van die onbeholpenheid en korrupsie van politici en amptenary oral te vind is, en dat erfenis dan ’n handige weerligafleier bied. Om ’n straatnaam te verander of ’n beeld te skuif, verg veel minder moeite as om ESKOM, SAL of die SAUK reg te ruk of verdwene COVID-19-fondse op te spoor. Die aksie teen erfenis skep die wanindruk van kragdadige optrede, mag en bekwaamheid. Dit stel die gemeenskap wie se erfenis sodoende geteiken word, as eintlike sondebok op en vervreem hulle van die res van die land.

Enige aksie om geloofwaardigheid aan hierdie soort optrede teen erfenis te gee, lei nie tot vooruitgang en vrede nie, maar skep juis die risiko van verlammende verdeeldheid en geweld.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. COVID-19: Twee derdes van staat se besteding dalk...

Saai stel Die Wynboer bekend om druk op familiewynboere te verlig

Saai stel Die Wynboer bekend om druk op familiewynboere te verlig

Saai (Suider-Afrika Agri Inisiatief) se wynbemarkingsprojek, Die Wynboer, is op 22 Oktober 2020 by die Marianne-wynlandgoed in Stellenbosch bekend gestel. Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers...

AfriForum versoek dringende vergadering met Ramaphosa

AfriForum versoek dringende vergadering met Ramaphosa

AfriForum het vandag ’n ope brief aan president Cyril Ramaphosa gerig waarin dié burgerregteorganisasie ’n dringende vergadering met hom versoek om plaasmoorde en die toekoms van Afrikaners as kultuurgemeenskap in Suid-Afrika te bespreek. Die doel van die brief is om...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Pin It on Pinterest