Leesvordering:

IN DIE THAILANDSE ENGELSE KLASSE – Marietjie Klynsmith

Jan 21, 2016

Groete uit ‘n baie warm Bangkok (daar was geen sogenaamde winter tot dusver nie).

Soos belowe, gaan ek ‘n bietjie gesels oor hoe ek dinge in die Engelse klasse in Thailand ervaar. Ek wil sommer reg aan die begin noem dat dit glad nie so rooskleurig is soos baie mense mag dink nie. Dit is soms maar ‘n oorlogsgebied; ‘n mens moet versigtig kies en soms kom jy met blou kolle, groot krake in jou eer en bakleivoos daarvan af. Almal van ons wat hier werk, het reeds baie skoolgeld betaal.

As jy so gelukkig is soos ek, dan kry jy ‘n werk waar jy jou kan uitleef en waar jy relatief gelukkig kan wees. Jy hou jouself eenkant, doen jou werk en, soos ek altyd sê, speel hulle “game” op jou manier. Die Thais speel speletjies met ons vir hulle eie vermaak. Bitter min Thaise onderwysers het ooghare vir die “foreigners” en as hulle saam met jou in ‘n klaskamer werk, is dit baie moeilik, omdat hulle jou in ‘n negatiewe lig sien.

Waar ek werk, in die Internasionale Engelse Program by ‘n privaat skool, is ek die klasonderwyser (nie ‘n Thai nie) en ek het ‘n Filippyn as klasassistent. Dit is baie lekker, want die Filippyne se Engels is baie goed en hulle kan meestal Thai ook praat. Ons studente volg ‘n intensiewe Engelse program waar hulle meestal net Engels mag praat en net in die Thai-taalklasse of tydens pouses toegelaat word om Thai te praat. Dit is ‘n baie effektiewe manier om Engels te leer.

Toe ek aan die begin van die jaar die nuwe groepie Kindergarten 3’s (vyf- en sesjariges) gekry het, was hulle Engels beperk tot ‘n klompie woorde en (miskien) die alfabet. Ons is nou driekwart deur die jaar en hulle hou nie op om Engels te praat nie. Wat lekker is, is dat hulle nou net soos gewone Engelse kinders klink wanneer hulle sing. Hierdie ouderdomsgroep is lekker om te onderrig, want hulle wil leer. Dit is my tweede groep. Verlede jaar se groep het die jaar suksesvol afgesluit en hierdie jaar se groep gaan ʼn uitstaande groep word. Ek onderrig twee Kindergarten 3-klassies (K3) en hulle is altesaam 43 studente. Baie hanteerbaar.

Hier moet ek myself nou eers in die rede val. Daar is breedweg drie soorte skole: Staatskole, privaat skole soos myne (wat hier soos besighede bestuur word, met direkteure wat ‘n wins wil sien en glad nie omgee of daar enige werklike onderrig plaasvind nie) en regte internasionale skole (waar daar buitelandse invloed is, hoewel die bestuurders steeds Thais is).

Die staatskole is nie lekker om voor te werk nie. Hulle het uitgediende onderrigmetodes, daar is geen vooruitgang in die klaskamertoerusting nie en hulle beskou mense soos ons as ‘n irritasie eerder as hulp. Die Thaise onderwysers kan meestal nie behoorlike Engels praat nie, of glad nie. Hulle word gebruik om die Engelse grammatika vir die studente te leer en dit word dan van die “foreigners” verwag om hulle te leer om gesprekke in Engels te voer. Die probleem is dat die kinders kan lees, maar nie verstaan wat hulle lees nie, aangesien die Thais nie weet hoe om betekenis te onderrig nie. Die studente leer ook nie om op hulle eie in Engels te skryf nie, want in die Thais se klaskamers skryf hulle net alles sonder verduideliking van die bord af – bladsye en bladsye vol. So jy moet hare op jou tande hê as jy vir ‘n staatskool werk.

By die skole waar ons werk, word jy soos ‘n slaaf behandel. Daar word van jou verwag om te werk, maar daar word feitlik nooit vir jou enige inligting oor gebeure verskaf voordat dit te laat is nie. Jy vind meestal per abuis uit as jy iets moet doen of reeds moes gedoen het. In die klaskamers waar ons klasonderwysers is, is ons redelik vry om ons lesse na goeddunke aan te bied. Ons het ʼn TV-skerm waarop ons video’s mag wys wat betrekking het op die lesse. Dit is ‘n waardevolle hulpmiddel vir die onderrig van woordeskat en ek weet nie of ek ooit weer sal kan klasgee daarsonder nie. Staatskole het dit glad nie. Die meeste van hulle het ook nog outydse swartborde; in al ons klasse is witborde. Die Thais is baie streng daaroor dat boeke gemerk moet word sodra die lesse verby is. Jou vry periodes moet jy gebruik om boeke te merk, lesse te beplan of ander take te verrig wat aan jou opgelê is.

Ek het egter my voete gevind; ek hou my eenkant en doen wat die studente se ouers van my verwag – ek leer die studente Engels praat. Dit is my tweede jaar by dieselfde skool en ek geniet die kinders baie. Die vakke wat ek aanbied, is Wetenskap, Engelse taalkunde in ʼn vereenvoudigde vorm vir die Thai-kinders en Drama. Hierdie vakke word eintlik gebruik om die studente se woordeskat uit te brei, maar dit verbreed ook hulle algemene kennis. Dit is nie maklik om die Thai-kinders se goedgesindheid te wen nie, maar as jy die klasse vir hulle interessant maak en verhoed dat hulle verveeld raak, het jy grootliks gewen. Ons studente se ouers betaal ‘n fortuin om hulle kinders in die program te kry, dus is daar druk op hulle om te presteer. Ek het nie een volwaardige Thai-kind in my groepie van 21 nie. Hulle is half-Chinees, half-Japannees en half-Indies. Dit maak hulle heeltemal anders as die Thai-kinders. Hulle is leergierig en gemotiveerd, terwyl die Thai-kinders baie keer lui is, met ‘n lepel gevoer wil word en geen motivering het om Engels te leer nie.

Ek en my wederhelf het in 2012 hier aangekom as deel van ‘n groep van 22 Suid-Afrikaners. Daar is nog net ses van die groep hier in Thailand. Dit is nie maklik nie, maar as jy die Thais se kulturele engheid kan ignoreer, verby hulle houding teenoor jou kan kyk en slegs op jou studente kan fokus, dan sal jy vir ‘n tyd hier kan uithou. Die meeste raak moeg van die konstante spanning, omdat ‘n mens nooit van dag tot dag seker is wat aangaan nie. Net jou lesse is seker, omdat jy by skole soos ons s’n behoorlike boeke kry waarvolgens jy lesse kan beplan. In staatskole kry jy net vae riglyne. Verder moet jy nie verwag dat dinge gedoen gaan word soos in die Weste nie. Een van ons vakke by die kollege waar ons studeer, behandel die verskille tussen die Oosterse en Westerse beskawings. Dit gee jou insig in hoe baie die twee groepe van mekaar verskil. As jy kan verstaan dat die twee so ver van mekaar verwyder is soos die Noord- en Suidpool, dan kan jy begin om ‘n redelik gebalanseerde lewe hier te lei.

Ek geniet dit elke dag om werk toe te gaan, want ek weet ek kan ʼn verskil maak, al is dit op ‘n baie klein skaal. In die middae as ek huis toe gaan, weet ek ek het my bes gedoen onder baie moeilike omstandighede. Ek fokus op die positiewe en skop nie teen die prikkels nie. Die kinders is baie oulik en ons gee hulle alles wat hulle as gevolg van hulle kultuur nie by die huis kry nie. In ons klaskamers mag hulle vrae vra en van die onderwysers verskil as dit nodig is. Hulle word nie sielkundig afgeknou nie en hulle word geleer dat dit OK is om soms foute te maak. Deur jou foute leer jy mos.

In ‘n komplekse samelewing soos dié in Thailand leer ʼn mens dat elke land en elke kultuur sy probleme het en dat mense elke dag hulle bes probeer onder hulle eie, unieke omstandighede.

My gevoel is dat mense soos ons nie lank meer hierdie taak gaan verrig nie. Daar is groot druk op die onderwysdepartement om liewer Thai-onderwysers op te lei om Engels te onderrig. Verder het die Association of Southeast Asian Nations (ASEAN), soortgelyk aan die Europese Unie, hierdie jaar sy beslag gekry en is die algemene gevoel dat meer Filippyne, wat deel van die ASEAN is, ingespan moet word om hierdie rol te vervul. Die meeste Filippyne het grade en baie van hulle is opgeleide onderwysers.

Ons maak ons dus maar reg om aan te beweeg. Ons maak in 2016 klaar met ons studies en sal dan ander moontlikhede ondersoek. Dit is ‘n lekker avontuurlike pad waarop ons ons tans bevind.

Hoop julle het hierdie kort reeksie interessant gevind.

Lees ook:
Klasgee in Thailand
Hoe om ‘n Engelse onderwyser in Thailand te word

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Deur Alana Bailey Sommige mense vrees hulle, ander hou hulle as troeteldiere aan … hoe dit ook al sy, spinnekoppe bly merkwaardige kreature. Sover ons kon vasstel, is daar 71 spinnekopfamilies, 471 genera en meer as 2 000 spesies in Suid-Afrika bekend. Omdat hulle in...

’n Feesjaar vir Afrikaans – wees deel van die vieringe!

’n Feesjaar vir Afrikaans – wees deel van die vieringe!

Op 8 Mei 2025 sal dit presies ’n honderd jaar wees wat Afrikaans al Suid-Afrika se amptelike taal is. Om hierdie besondere mylpaal te herdenk, word ’n feesjaar beplan wat op 8 Mei vanjaar (2024) gaan begin. Ons wil jou graag nooi om deel van die vieringe te wees. Met...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest