Leesvordering:

Die Verdrag van Waitangi kry in Afrikaans gestalte!

Apr 6, 2017

’n Groot gebeurtenis van belang vir Suid-Afrikaners en Afrikaans in besonder, het verlede naweek in Nieu-Seeland plaasgevind. Nieu-Seeland se gronddokument, die Verdrag van Waitangi, oftewel die Tiriti o Waitangi, is nou ook amptelik in Afrikaans beskikbaar. Trouens, dit is in 30 meer tale beskikbaar as die twee (en Engels) wat tot nog toe die geval was. Die Afrikaanse vertaling is die produk van drie Afrikaanse Nieu-Seelanders se harde werk, naamlik Alta Rall (NZSTI-lid), Dina Cloete en Philip Langenhoven.

 

 

Foto links: Die Afrikaanse vertaalspan: Philip Langenhoven, Xuan Luo (die New Zealand Society of Translators and Interpreters [NZSTI] se skakelpersoon met die span), Alta Rall (lid van die NZSTI) en Dina Cloete. Foto regs: Dame Patsy Reddy, goewerneur-generaal van Nieu-Seeland, ontvang die boek van Stefan Grand-Meyer van die NZSTI (Foto’s: Adalen Photography)

Die Treaty Times Thirty-projek is so 18 maande gelede deur die New Zealand Society of Translators and Interpreters (NZSTI) van stapel gestuur om ter viering van hul dertigste bestaansjaar die Verdrag van Waitangi in 30 ander tale in Nieu-Seeland te vertaal en in boekvorm te publiseer. Vrydag 17 Februarie was die hoogtepunt toe die boek deur ’n verteenwoordiger van die NZSTI, Stefan Grand-Meyer, aan dame Patsy Reddy, Nieu-Seeland se goewerneur-generaal, oorhandig is. Dit is gedoen tydens die vrystelling van die boek in Government House, dame Reddy se ampswoning.

Volgens die proses moes elke vertaling onafhanklik deur drie vertalers gedoen word en daarna moes hulle saamwerk om hul werk te vergelyk en ’n finale, beste weergawe saam te stel. ’n Gesaghebbende persoon in hul gemeenskap wat die teikentaal magtig is, moes hul finale vertaling resenseer en kommentaar lewer op die vloeiendheid van taal en register. Die span het twee resensente, mnr. Gregory Fortuin van Porirua en dr. Stanley Theron van Auckland, genader omdat hulle gevoel het dat hierdie eer beide weens hul baanbrekerswerk in Nieu-Seeland toekom.

Mnr. Fortuin was voorheen Nieu-Seeland se rasseverhoudingsbemiddelaar (deur die Nieu-Seelandse regering aangestel) en hy was ook vir baie jare Suid-Afrika se ere-konsul in Nieu-Seeland – ’n aanstelling wat hy as vrywilliger aanvaar het terwyl daar nog nie ’n hoë kommissaris vir Nieu-Seeland was nie.

Dr. Theron was in die laat negentigerjare met opdrag van die Nederduits Gereformeerde Kerk die medestigter van die eerste Afrikaanse gemeente in Nieu-Seeland. Binne maande het dié kerk, wat in Howick, Auckland aktief was, met die Afrikaanse Christen Kerk North Shore in Auckland geamalgameer. Dr. Theron is ’n emerituspredikant en is die afgelope dekade by sy Bybelakademie betrokke wat Engelsvreemde kerkleiers fasiliteer.

V.l.n.r. is die resensent Gregory Fortuin, dame Claudia Orange (verdragkundige), die resensent dr. Stanley Theron, die vertaler Philip Langenhoven, die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris mev. Zodwa Lallie en die vertalers Alta Rall en Dina Cloete. (Foto: Adalen Photography)

Tydens die vrystellingsfunksie het die meeste van die vertalers en sommige van hul resensente byeengekom om die historiese geleentheid te vier met ’n reuseskildery van koning George V wat streng oor almal in die groot funksiesaal waak gehou het, en ’n pragtige skildery van koningin Elizabeth wat verdere luister aan ’n glansryke, stemmige aand se verrigtinge verleen het. Met die keurige kleinkosse en wyn wat tydens dié staanfunksie deur flinke jong kelners en kelnerinne rondgedra is, het ’n mens behoorlik getrakteer  laat voel.

Maar meer oor die Verdrag van Waitangi. Dit is oor ’n periode van sewe dae geskryf en het sewe maande geneem om dit deur alle moontlike Maori-stamhoofde te laat onderteken (dit wil sê diegene wat nie by die historiese eerste dag teenwoordig kon wees nie). Dit word ook al vir bykans 170 jaar alle kante toe gedebatteer.

Die Verdrag is op 6 Februarie 1840 deur verteenwoordigers van die Britse Kroon en verskeie Maori-stamhoofde van die Noord-Eiland van Nieu-Seeland onderteken. ’n Regstreekse gevolg daarvan was dat luitenant-goewerneur William Hobson in Mei 1840 Britse soewereiniteit oor Nieu-Seeland verklaar het.

Omdat die Verdrag so vinnig (oor ’n paar dae) opgestel is en letterlik oornag in Maori vertaal is, was die vertaling van sekere kernwoorde nie mooi in die kol nie – ’n kwessie wat vir meer as ’n eeu daarna die onderwerp van talle hofgedinge sou wees. Juis omdat daar interpretasieverskille tussen die twee taalweergawes bestaan het, het die hof besef dat daar bepaalde beginsels in die Verdrag bestaan wat uitgelig moes word om eensgesindheid te vergemaklik rondom die werklike beweegrede tot die ooreenkoms, begrip oor waaroor daar ooreengekom is en die eerlike bedoeling agter die ooreenkoms. Hierdie beginsels is netjies uiteengesit en dit het meegehelp dat Nieu-Seeland sy unieke bikulturele karakter kon ontwikkel.

Die Appèlhof het in ’n uitspraak deur die hof se destydse president, Sir Robin Cooke, op die volgende beginsels besluit:

  • Die verkryging van soewereiniteit deur die Britse Kroon in ruil vir die beskerming van rangatiratanga, oftewel absolute soewereiniteit oor Maori-belange, soos ooreengekom.
  • Die Verdrag het ’n vennootskap daargestel en dra daarmee aan die vennote die verantwoordelikheid op om redelik en in goeie gesindheid op te tree.
  • Die vryheid van die Kroon om oor Nieu-Seeland te regeer.
  • Die Kroon se plig om Maori-belange aktief te beskerm.
  • Die Kroon se plig om skendings van die verlede (in terme van Maori se belange) reg te stel.
  • Maori behou rangatiratanga oor hul hulpbronne en skatte (taonga – insluitend kultuurskatte) en verkry alle voorregte van burgerskap.
  • Die plig op die Kroon om met Maori te konsulteer oor alle sake wat hulle potensieel kan impliseer of raak.

 

 

Hierdie artikel is aan Wêreldwyd verskaf deur Brokkies. Brokkies is ‘n gratis e-posnuusbrief en word primêr gemik op Suider-Afrikaanse immigrante wat in Nieu-Seeland en Australië woon. Besoek www.brokkies.net om in te teken, ’n bydrae te lewer of te adverteer.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest