Deur Charlene Breytenbach

Emigrasie en verlange loop hand aan hand. Almal wat geëmigreer het, verlang na iets of iemand. Die verlange is veral rou die eerste drie jaar ná emigrasie – vir sommige korter en vir ander langer. Verlange is ook rou ná ’n lekker vakansie in Suid-Afrika.

So indien jy oorweeg om te emigreer, is dit belangrik dat jy dink hoe jy die verlange gaan hanteer. Gaan WhatsApp-oproepe en -boodskappe genoeg wees of sal jy graag elke ses maande wil gaan kuier? Wat ook al jou strategie gaan wees, dis belangrik om daarvoor te begroot. Sommige (baie skaars) mense emigreer en wil Suid-Afrika nooit weer sien nie, terwyl ander gereeld wil teruggaan om hul geliefdes te sien. Ek dink dit is belangrik om te besluit hoe gereeld jy wil kom kuier en dan in jou hart ’n redelike verwagting te stel. Dit is ook goed om die verwagting met familie te bespreek sodat hulle kan verstaan hoe gereeld hulle jou en jou gesin gaan sien.

Vir ons gesin is dit belangrik om ons Suid-Afrikaanse familie en vriende so elke agtien maande te sien. Dit is die langste wat ek kan uithou. Dié tydsberekening gee ons ook geleentheid vir ander vakansies, om by ons familie in Nieu-Seeland uit te kom en om genoeg geld te spaar vir ’n reis na Suid-Afrika.

Ons was gelukkig genoeg om Juniemaand in Suid-Afrika te kom kuier en ek wil graag my ervaring met julle deel.

Natuurlik was die vakansie vol pret, opwinding en baie liefde. Die hoogtepunt vir my was die Suid-Afrikaners se gasvryheid en diensbaarheid. Van die petrolstasie waar die joggie vir jou brandstof ingooi tot by Wimpy of Spur waar jy bedien word met heerlike etes en waar jou kinders kan speel en rondhol tot hul flou is. In Australië moet ons maar self petrol ingooi. En by die meeste billike eetplekke moet ’n mens jouself help; as daar wel tafeldiens is, is dit baie basies. Ons eetplekke maak ook nie juis voorsiening vir kinders nie; hulle moet maar met ’n iPad by die tafel sit, wat beteken etes word vinnig afgejaag. Ek het ook gevind Suid-Afrikaners is baie tegemoetkomend. By al twee ons akkommodasie-opsies kon ons byvoorbeeld ’n bietjie later uit wees as wat die reëls gesê het. Dit is nie algemeen in Australië nie – reëls is reëls.

Die mense van Suid-Afrika is so gasvry en vriendelik ongeag hul eie omstandighede. Ek was in Suid-Afrika om die Comrades te hardloop en het ’n groepie hardlopers gesoek saam met wie ek ’n bietjie kon oefen. My nefie het my in aanraking gebring met sy oefengroep. Ek het letterlik die Saterdag opgedaag en elke mens het met my gesels, my raad gegee en my aangemoedig. En boonop vir my ’n koffie gekoop by Wimpy! Dit is darem wonderlik om so ontvang te word. Natuurlik ken ’n mens se familie en vriende ook geen perke nie! Orals waar ons gaan kuier het, was die tafels gelaai met net die beste Suid-Afrikaanse kos en drankies! Heerlike vetkoek, melktert, biltong, rooiwyn, Woolworths-bederfies, ensovoorts, ensovoorts.

Ongelukkig is daar ook ’n deel van ons vakansie wat nie ongenoemd kan verbygaan nie. Hoe langer ons weg is uit Suid-Afrika, hoe moeiliker word dit om weer daar aan te pas wanneer ons gaan vakansie hou. As jy land, moet jy skielik weer bewus wees van elke beweging wat jou kind maak en al jou besittings oppas. Vinnig Spar toe ry, beteken om die huis se deur en hek te sluit, die motorhuis en kar se alarms af te skakel en weer aan te skakel nadat jy uitgery het. Dan uit by die elektriese hek na die winkel waar jy weer die kar moet sluit en seker maak daar is geen ongewone bewegings om jou nie. Jy moet jou karwag groet en vergoed voordat jy weer terug huis toe kan ry, waar jy weer alarms moet afskakel voordat jy in die huis kan ingaan. Ons is so gelukkig waar ons in Australië bly: Ons sluit skaars ons voordeur en my man sluit amper nooit die Amarok wat voor die huis onder die afdak staan nie. Dalk is ons ’n bietjie onverskillig en gelukkig in die area waar ons woon, maar tot dusver het ons nog geen skade gely nie en het ons ook geen karwagte nodig nie.

Dit laat my nou dink aan een aand tydens ons vakansie toe ons na ’n vriendin moes ry om iets te kry wat ons daar vergeet het. Dit was reeds donker en soos ons oor ’n 4-rigtingstop ry, merk ek ’n motorfiets agter ons op. Ek sien die fiets agtervolg ons en toe ons by ons vriende intrek, stop die fiets langs my deur. Ek sien net ’n man met ’n bandana oor sy mond en sê paniekerig vir my man: “Ry! Ry! Iets is nie reg hier nie.” Ons trek daar weg met ’n spoed en besluit om om die blok te ry. Toe ons weer verbyry, sien ons my vriendin en haar man by die fiets en die man op die fiets haal ’n groot sak heerlike KFC uit! Ons het lekker gelag dat ons so laf was. Ek het nie eens geweet KFC word in Suid-Afrika afgelewer nie.

Die ander hartseer realiteit is die nuus. Vir ons is dit te erg om te kyk en te luister. Ons was in die kar op pad see toe toe ’n lang stuk oor plaasmoorde uitgesaai is – vreeslik baie inligting oor ’n spesifieke aanval in 2018. My pa en ma het geluister en was hartseer oor die aanval, maar my man was so geskok dat hy gevra het ons moet dit afsit. Hy kon en wou nie na die realiteite luister nie. Ons harte is so seer as ons hoor hoe gruwelik die aanvalle is en hoe groot die impak op ons boeregemeenskap. In Australië word ’n mens nie met hierdie realiteite gekonfronteer nie, maar as ’n mens in Suid-Afrika kuier kan jy nie daaraan ontsnap nie.

My familie is almal deel van WhatsApp-groepies in hul omgewing wat elke dag nuus oor die gevalle in die omgewing deel. Die aand toe ons geland het, was daar ’n kaping 10 minute van my broer se huis af. My ouers het ook ‘n waarskuwing gekry oor nuwe kapingsmetodes in hul omgewing. Kinders weet wat om te doen in geval van inbrake of kapings. Ons Aussiekaners het geen idee wat om te doen as ons wel onverwags oorval sou word nie en dit laat ’n mens maar senuweeagtig voel. En natuurlik kan ek nie anders as om die Proteas se teleurstellende Wêreldbeker-vertoning te noem nie!

Ten spyte van alles voel my hart nêrens anders in die wêreld so vol en warm nie. Die Comrades was ongelooflik! As almal in Suid-Afrika maar net elke dag in die Comrades-gees kan leef … Op 9 Junie was almal gelyk – ons almal het saam die bulte aangepak, moed verloor en moed geskep, mekaar gehelp, mekaar gedra. Mense wat my van geen kant af ken nie het my naam geskree en vir my kos, water en selfs brandewyn en Coke aangebied. Soveel was vasgenael voor die TV om daardie laaste paar minute te kyk, en die gebede en deernis vir elke atleet het ek elke oomblik gesien en gevoel. Ek sal dit nooit ooit vergeet nie.

In Suid-Afrika voel ek aanvaarding en liefde. As ons in Suid-Afrika kuier, is dit asof ons nog nooit weg was nie. Skielik ontvang my dogter elke dag liefde van haar oupa en ouma, ooms, tannies, niggies en nefies. Selfs my vriende se kinders wat haar nog net een keer vantevore gesien het, aanvaar haar onvoorwaardelik.

Wanneer ek terug in Australië deur die paspoortbeheer loop, is my hart altyd warm, maar my trane sal nooit opdroog nie!

My hart is met elke totsiens ’n bietjie seerder, want die “tot” word al hoe onsekerder. Terwyl ons ons tasse uitpak en al die geskenkies geniet, bekruip die verlange ons reeds weer. Skielik het my dogter weer net haar maatjies by dagsorg en ontvang sy net van my en my man liefde. Ons drink ons glasies wyn in eensame stilte voor die vuur, en die verlange lê reeds weer ons harte vol.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest