Leesvordering:

Die wonder van ’n winter-Kersfees

Jan 13, 2021

Kersfees in die noordelike halfrond is régtig soos in die flieks. Dit is meer as net die sneeu en liggies – dit is ’n leefstyl. Selfs tydens ’n pandemie. Mense groet jou op straat met Kerswense. Een van die huise op my pad winkel toe (ek mag mos nie bestuur nie, so ek stap saans) het ’n luidspreker in die erf wat sagte Kersmusiek speel. Oral pronk liggies, Kerskranse en Kersbome van alle kleure, groottes en vorms. Stringe liggies versier dennebome op straat tot amper by die top en ek wonder hoe dit gedoen word. Daar is plaaslik ’n amptelike Tree Lighting-seremonie, wat hierdie jaar aanlyn plaasgevind het. Gesinne lewer Kerskaartjies met pragtige gesinsfoto’s op by die deur af. En dan is daar Kersvader, of Santa soos hy hier bekendstaan.

Santa se bederfies.

Ons seuntjies het hierdie jaar ’n persoonlike video van Santa af ontvang. Dit is ’n diens waarvoor ons vriendin Stephanie betaal het – jy stuur basiese inligting oor jou kinders en dan neem hulle spesiaal ’n video op en stuur vir jou die skakel. Die seuns was verwonderd! Hulle het dit in die aanloop tot Kersfees saans twee keer ná storietyd gekyk. Ons het vir die eerste keer melk (sjokolade-Nesquik) en koekies vir Santa gelos en toe hulle wakker word op Kersdag was daar poeiervoetspore as bewys dat Santa dit genuttig het. Maar die belangrikste was dat hy vir hulle elkeen ’n geskenk onder die boom gelos het.

Kersfees in Altona, Manitoba.

Ons Kersboompie op Oukersaand.

Ek was onseker hoe ek oor Kersfees gaan voel sonder ons familie naby. Maar omdat die hele provinsie ingeperk was, kon selfs families wat almal in Altona woon nie eens saam Kersfees hou nie, so ons het nie so eensaam gevoel nie. Ons het besluit dat tuisgemaakte skaapkerrie en naanbrood voortaan ons Oukersaand-tradisie sal wees en het dit met roomyshorinkies afgesluit. Die kinders het geskenke van die oupas en oumas in Suid-Afrika oopgemaak en tot laataand daarmee gespeel. Die grootste geskenk was drie verskillende soorte sleë wat ons vriende Sarah en Owen vir hulle gekoop het.

Ons kerrie en naan. Let op die gebrek aan plekmatjies en tafelversierings… #FirstWorldProblems

Kersdag het ons met mooi weer en ’n blou hemel bederf. My man het ’n gerookte ham en malvapoeding gemaak en ons het lekker met die familie in Suid-Afrika op Skype gesels. Ek het ná ete gaan stap om vir Sarah haar geskenk af te lewer en so ’n bietjie uit die huis te kom. Heelpad het ek die vars winterlug ingeasem en so bevoorreg gevoel dat ek Kersfees in hierdie wonderland mag vier. Op pad terug hoor ek musiek en wonder of nog iemand ’n luidspreker in hulle erf het. Toe ek nader kom, besef ek egter dat dit Kerssangers (carolers) is! Ek gaan staan stil en luister na die harmonieë van Stille Nag in Engels en wens ek het die woorde geken. In my kop sing ek saam in Afrikaans. Ek raak skoon bewoë sonder dat ek eintlik weet hoekom. Ek maak ’n geestesnota dat ek, sodra ons weer ’n normale Kersfees kan vier, moet uitvind hoe ek by só ’n groepie betrokke kan raak.

Klokhelder Kersdag

Buffalo Creek Natuurpark. Die heuwel verskaf pret vir sleeryers en die meer vir skaatsers.

Altona beleef hierdie jaar ’n besonder matige winter wat selfs die plaaslike inwoners verstom. Ons het aanvanklik gewonder of ons wel ’n wit Kersfees gaan hê omdat al die sneeu op ’n kol gesmelt het, maar gelukkig was daar net betyds oorgenoeg om alles in ’n poskaartprentjie te verander. Daar was selfs genoeg sneeu om ’n glybaan van ons stoep af te bou sodat die kinders met hulle nuwe sleë daar kon afgly. Dit was nie lank nie toe kom stel ons bure se kinders ondersoek in en vra of hulle mag saam gly.

Vir ’n oomblik het dit amper gevoel asof alles in die wêreld pluis was en dit was heerlik.

Ongelukkig is ons inperking met nog twee weke verleng en ons sien baie daarna uit om die dorp regtig te ervaar, want Altona het so baie om te bied, selfs in die koue winter. Die paar mense met wie ons tot dusver te doen gehad het, is aangenaam en hartlik en opreg. Net minder as vyf maande gelede het dit gevoel of Kanada ons nóóít gaan sien nie, daarom is ek só dankbaar dat ons nou al vier maande in vrede hier kan woon dat selfs die inperking my nie onderkry nie. En terwyl ek op ’n hoë noot is, kan ek met groot verligting sê dat ek nou my Kanadese bestuurderslisensie geslaag het en wettig ’n motor mag bestuur. Nou kan ek hierdie wit dorp – binne die perke van COVID-regulasies en my kinders se gemoedere – rooi verf.

Spookasemwolke – die son groet die dag.

Meer oor die outeur

Hesti Steenkamp

Besoek gerus Hesti se blog Ingedagte by https://ingedagte.blogspot.com/ waar sy dagboek hou van hul gesin se emigrasie na Kanada. Sy sê: “Met só ’n groot verandering op jou voorstoep word ’n mens maklik deur jou gedagtes oorweldig. Ek hoop my dagboek sal help om al die emosies wat daarmee gepaard gaan te verwerk.”

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest