Leesvordering:

Dit is jou keuse om te emigreer: Hoe om mense te hanteer wat jou besluit om te emigreer kritiseer

Sep 1, 2021

deur Hendrika Jooste

Daar is baie van ons wat hartseer verhale kan vertel oor hoe ons vriende en familie gereageer het toe ons vir hulle gesê het dat ons oorweeg om ons emigrasieproses te begin. ’n Mens sou goed hoor soos: “Jy verraai jou land en jou mense”, “Jy het nie genoeg geloof nie”, of “Ek gaan nooit weer met jou praat nie, jy is nie meer deel van hierdie familie nie”.

Dit is nie lekker om gekritiseer te word nie. Dit laat jou voel asof jy geoordeel word. Die meeste mense se reaksie op kritiek is om hulself te verdedig, om verskonings te maak of iemand anders die skuld te gee. Geen van hierdie reaksies is konstruktief nie. Sommige mense sal selfs hard probeer om die persoon wat hulle kritiseer te probeer oorhaal om hulle kant in te sien, maar dié strategie werk selde.

Dit is jou keuse hoe jy op kritiek gaan reageer. Jy kan dit as ’n persoonlike aanval sien, of jy kan dit aanvaar (jy weet hulle reageer so omdat hulle lief is vir jou), die positiewe daaruit neem en aanbeweeg. As jy skepties is oor die moontlike voordele van kritiek, is hier vir jou ’n paar goeie redes waarom jy dit moet verwelkom.

1. Gebruik kritiek vir persoonlike groei

Kritiek bevat dikwels ’n greintjie waarheid, selfs al word dit ’n bietjie te kras oorgedra. Dit is gedeeltelik hoekom dit jou ongemaklik laat voel – dit is tot ’n groot mate waar, selfs al wil jy dit nie erken nie. Kom ons wees eerlik met mekaar. As ons ’n keuse gehad het, sou ons in Suid-Afrika gebly het, saam met ons broers en susters oud geword het en wou sien hoe ons kleinkinders in sonnige Suid-Afrika grootword. Die feit is egter dat dinge nie meer so rooskleurig is nie en dat dit baie slapelose nagte, gesprekke en navorsing geverg het om hierdie besluit te neem. Dié proses het tot gevolg dat jou gedagtes reeds ligjare verder is as die mense wat jy nou eers oor hierdie verwikkelinge moes inlig.

Dink aan kritiek as nog iets in jou gereedskapskissie van persoonlike ontwikkeling, iets wat vir jou insig bied wat jy andersins sou gemis het. Deur aandag te gee aan die wyse waarop jy op kritiek reageer, kan jy meer leer oor jou snellers, jou onbewuste reaksies en die aannames wat jy maak.

2. Ontwikkel emosionele veerkragtigheid

Kritiek is gewoonlik belaai met emosie. Jou familie en vriende verkeer ook dalk in skok en hulle het tyd nodig om die nuus te verwerk. Jý voel dalk skaam, omgekrap en asof jy aangeval word. Deur te leer om kritiek te aanvaar kan jy meer emosioneel veerkragtig word omdat jy leer hoe om deur jou ongemaklike emosies te werk in plaas daarvan om net blindweg daarop te reageer. Onthou, dit is die begin van ’n emosionele wipplank wat nog baie lank gaan aanhou. As jy nie jou familie en vriende se kritiek kan hanteer nie, hoe gaan jy in ’n vreemde land die kritiek kan hanteer oor jou aksent, jou Engelse taalgebruik (as Engels jou tweede taal is), jou gebruike, jou geloof en jou waardestelsels?

Deur jou te verbeel jy verwyder jouself uit ’n situasie, neem jy jouself na ’n denkbeeldige plek toe waar jy jou probleemoplossingsvaardighede kan gebruik. Jy kan luister, assesseer, analiseer en uitwerk watter lesse jy uit die ervaring kan leer.  

As jy kritiek begin aanvaar, sal dit ook vir jou makliker wees om weg te kom van die behoefte om ander mense se goedkeuring te kry om goed te voel oor jouself. Sodra jy dit regkry om kritiek as positiewe terugvoer te ervaar, beskou jy dit nie meer langer as oordeel oor jou as mens nie.

3. Verbeter verhoudings

Sodra jy ophou om te reageer (of te oorreageer) op terugvoer, bied jy meer ruimte vir openlikheid, eerlikheid en beter kommunikasie. Mense kan met jou praat oor probleme sonder dat hulle hoef te voel hulle moet suutjies trap.

Die aanvaarding van kritiek sorg vir beter verhoudings aangesien daar minder versperrings of verbode areas van kommunikasie is. Jy wil nie hê mense moet jou sien as liggeraak, moeilik of verdedigend nie, en jy wil ook nie hê jou selfwaarde moet afhanklik wees van ander mense se goeddunke oor jou dink nie.

4. Verbeter aktiewe luistervaardighede

Wanneer daar terugvoer gegee word, moet jy nie praat nie, jy moet luister. Probeer verstaan wat die ander persoon sê. Dit het dalk te make met ’n aspek van die emigrasieproses waaraan jy nog nie gedink het nie. Wat eers soos kritiek voel mag dalk waardevolle insig bied, bv. as die grootouers bekommerd is dat hulle hul kleinkinders nie meer so gereeld gaan sien nie. Soos wat dit tans in die wêreld gaan, is dit vir almal ’n realiteit. Dit is die ideale geleentheid om ’n familievergadering te hou waartydens julle struikelblokke kan bespreek wat as onoorkomelik beskou word, asook moontlike strategieë om hierdie struikelblokke te oorkom.

5. Verbeter selfvertroue

Deur kritiek te aanvaar, bevry jy jouself van die vloek van perfeksionisme. Jy kan aanvaar dat dit menslik is om foute te maak en dat kritiek oukei is en dat dit jou selfs tot hulp kan wees. Deur te aanvaar dat kritiek deel is van die alledaagse lewe, sal jy meer selfversekerd, gelukkiger en vryer voel om die beste jy te wees.

Niemand kan hierdie besluit namens jou en jou familie neem nie. Jy weet wat die beste is en niemand anders het die reg om jou besluit te kritiseer nie. Dit is ’n baie moeilike besluit om te neem en diegene wat jou kritiseer moet verstaan dat dit nie ’n besluit is wat ligtelik geneem word nie.

As jy spartel met ’n soortgelyke situasie of ondersteuning nodig het oor hoe om dit te hanteer, kontak vir Hendrika Jooste by The Migrant Whisperer.  Hierdie onderwerp word ook in haar boek, Your D.I.Y Move Guide to Australia, bespreek. Dit is beskikbaar op Amazon en op die webblad www.yourmoveguide.com.

 

LEES OOK: Emigrasie en verhuising: Maak dit maklik vir jou kinders

Meer oor die outeur

Hendrika Jooste

Hendrika Jooste is ’n professionele Master Certified Life Coach wat spesialiseer in migrasieverwante kwessies (www.pillarsofpower.com.au). Sy is ook die medeskrywer van Your D.I.Y. Move Guide to Australia: The South African Guide en die Amazon-topverkoper Your D.I.Y. Move Guide to Australia (Global Edition). www.yourmoveguide.com

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir...

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Hou die kinders besig gedurende die skoolvakansie! Briewe van Mieliepit Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest