Leesvordering:

Dit moes so gebeur het…

Okt 12, 2017

Die naam kaptein Wynand du Toit het ’n onuitwisbare indruk op Suid-Afrikaners in die tagtiger- en negentigerjare gemaak. Hy was die leier van ’n Spesialemagtespan wat in Mei 1985 op ’n militêre sending na Angola gestuur is, maar weens ’n sameloop van omstandighede het die sending nie volgens plan verloop nie. Die Suid-Afrikaanse soldate was teen dagbreek omsingel deur verskeie Fapla-groeperinge. Kaptein Du Toit en sy span was 45 minute lank in ’n geweervuurgeveg teen sowat 120 Fapla-soldate. Twee van kaptein Du Toit se kamerade, korporaals Rowland Liebenberg en Louis van Breda het tydens die skermutseling gesneuwel en ’n swaar gewonde kaptein Du Toit is eers na Cabinda en later na ’n hospitaal in Luanda geneem. Die oorblywende ses Recces, onder wie twee gewondes, het hergroepeer en kon veilig na Suid-Afrika terugkeer. Kaptein Du Toit is daarna twee en ’n half jaar lank as krygsgevangene deur die Angolese regering aangehou en deur die Kubaanse magte bewaak voordat hy in September 1987 tydens ’n ingewikkelde uitruiltransaksie, soos ooreengekom tydens die Brazzaville-Protokol, vrygelaat is. Hy was vir die volle duur van sy gevangenskap van 837 dae in ’n Kubaanse militêre tronk in eensame aanhouding opgesluit.

Merise het met Wynand oor sy ondervinding gesels:

VERTEL ONS KORTLIKS WAT MET JOU GEBEUR HET

Ek was ’n lid van die Spesiale Magte (Recces) vanaf 1982 tot in 1987. Tydens ’n sabotasieoperasie in Mei 1985 is ek in die olieryke Cabinda-provinsie (enclave) van Angola gevange geneem. Ek is daarna in ’n Kubaanse militêre tronk aangehou tot en met my vrylating in September 1987, waartydens ek vir 334 Angolese soldate, die Fransman, Pierre Albertini, en die Nederlander, Klaas de Jonge, in Maputo in Mosambiek uitgeruil is.

ONS WEET DAT JY BAIE LANK IN ISOLASIE AANGEHOU WAS. HOE KON JY KOPHOU?

Die moeilikste was om te aanvaar wat gebeur het en in my lot te berus. Daarvoor was roetine en baie selfdissipline nodig. Ek moes myself in ’n roetine indwing waarvan die rantsoen van 10 sigarette per dag die belangrikste maatstaf was. Ek het my verbeelding vrye teuels gegee en sό kon ek uit die tronk se vier mure “ontsnap”. So het ek begin skryf – deur my karakters “vry” te laat rondloop en die dinge te laat doen wat ek graag sou wou doen op ’n plek waar ek graag sou wou wees.

Hiermee saam was my geloof tot die uiterste beproef en het ek daagliks ’n woordestryd met God gevoer met verwyte en smekinge totdat ek uiteindelik besef het dat alle dinge “goed” is in die oë van God en dat ek Hom daarvoor moet bedank en Hom moes loof omdat Hy die beste weet. Drie maande nadat ek God begin loof en prys het, is ek op 7 September 1987 vrygelaat.

WAS DAAR ’N SPESIFIEKE INSIDENT TYDENS JOU AANHOUDING WAT JOU LAAT BESLUIT HET DAT HULLE JOU NIE GAAN ONDERKRY NIE?

Ek sal veel eerder sê dat dit ’n “ontwikkelende” situasie was. Hoe langer en hoe meer druk hulle op my toegepas het, hoe sterker het my weerstand en die WIL om daar uit te kom, geraak.

GEEN TRAUMATIESE GEBEURE LAAT ’N MENS ONAANGERAAK NIE. IN WATTER MATE HET HIERDIE GEBEURE JOU LEWENSUITKYK EN JOU PERSOONLIKHEID VERANDER?

Geweldig baie. Hoe meer ek hierop terugkyk, hoe meer besef ek die belangrikheid van die gebeurtenis en hoe duideliker is dit vir my dat dit MOES gebeur om te verseker dat ek die mens word wat ek vandag steeds is. My hele lewe, en die verloop daarna, is beïnvloed deur hierdie gebeurtenis.

HOE SAL JY JOUSELF BESKRYF?

Ek is ’n positiewe, objektiewe mens wat geduld op die harde manier aangeleer het.

VERTEL ONS VAN JOU HUIDIGE LEWE

Ek en Frances en ons twee jong kinders, MJ (9) en Beamari (8), woon deesdae in die Suid-Kaap by Glentana waar my kantoor oor die see uitkyk.

Hoewel ek steeds by my plaas en boerdery in die Demokratiese Republiek van die Kongo betrokke is, spandeer ek al hoe meer tyd aan skryfwerk, motiveringspraatjies en reis Suid-Afrika en Namibië vol.

JOU TOEKOMSPLANNE?

Na die ses boeke wat ek oor die afgelope twee jaar gepubliseer het, sal ek graag daarmee wil voortgaan en myself as ’n skrywer van hoofsaaklik fiksie wil vestig. So kry ek dan kwaliteittyd om saam met my gesin deur te bring.

VERTEL ONS VAN DIE BOEKE WAT JY GESKRYF HET

Die eerste twee boeke, Judasbok en Josefskleed, is my lewensverhaal, met ander woorde dít wat voor, tydens en ná Cabinda gebeur het tot waar ek in 2014, tydens die vyf-en-twintigste herdenking van die ondertekening van die Brazzaville-Protokol, uitgevind het wat werklik 30 jaar tevore tydens Operasie Argon gebeur het.

Die boek wat ek in aanhouding begin skryf het, het ek op 14 Mei 1987 in die tronk in Angola voltooi. Ek het besluit om dit vanjaar, dertig jaar later, ook te publiseer met die titel The Long-lost Grave.

Die ander twee boeke, S-98 en Destiny, handel oor die grensoorlog en is fiksie wat op feite gebaseer is.

WAT IS JOU GEVOEL OOR MILITÊRE DIENSPLIG?

Militêre diensplig is ’n noodsaaklikheid in enige gemeenskap om orde en doelgerigtheid te help skep. Dit vorm jong mense, ontwikkel verantwoordelikheid en bring ’n besef ten opsigte van die waarde van die lewe en die beslistheid van dood.

AS JY ADVIES KON GEE AAN ANDER LANDE WAT IN KONFLIK IS, WAT SOU DIT WEES? IS DIT DIE MOEITE, TYD, GELD EN VERAL LEWENSVERLIES WERD?

Oorlog sal in die meeste gevalle die moeite en opoffering werd wees solank jy veg vir jou ideale en oortuigings. Tyd en geld kan nie gemeet word aan dít wat jy wil, behoort en wel bereik nie. En soms is ’n militêre nederlaag juis die verlangde resultaat om ’n sekere doelwit te bereik. Militêre nederlae was egter nie iets wat ons geken het nie, en dit het primêr tot die sukses van die politieke proses bygedra. Lewensverlies is baie hartseer, maar tog ’n noodsaaklike deel van ons geskiedenis. Dit versinnebeeld soldate se opofferings.

WAARVOOR SAL JY DIE GRAAGSTE ONTHOU WIL WORD EN HOEKOM?

Ek sal graag bekend wil staan as iemand wat deurgaans gebly het by sy oortuigings en lewensbeskouings. Daarbenewens wil ek ook onthou word vir die boeke wat ek geskryf het om op daardie wyse ’n beskeie bydrae tot ons geskiedenis te kon lewer.

JOU BOODSKAP AAN LESERS?

Die lewe was nooit veronderstel om maklik te wees nie. Gebeurtenisse, hetsy goed of sleg, is juis daar om ons as gelowige mense te vorm en te lei – om sodoende ons beste te gee ongeag waar en hoe, in ’n andersins baie kort lewe.

Wynand besoek Australië eersdaags en gaan dan sy storie vertel, vrae beantwoord en persoonlik enige van sy boeke teken wat voorheen of by die funksie gekoop is.

SAMVOA Victoria, Melbourne-funksie
Datum:        Vrydag 13 Oktober
Tyd:             18:30 vir 19:00
Plek:            Sunset Room, Waverley RSL, 161 Coleman Parade, Glen Waverley, VIC
Prys:           A$20 per persoon (Restaurant en kontantkroeg op perseel beskikbaar) 

SAMVOA Wes-Australië, Perth-funksie
Datum:        Dinsdag 17 Oktober
Tyd:             18:30 vir 19:00
Plek:            Belmont RSL Club, 22 Leake Street, Belmont, Perth, WA
Prys:           A$20 per persoon (Versnaperinge en kontantkroeg op perseel beskikbaar)

Hierdie artikel het oorspronklik op Merise se webtuiste verskyn.

Meer oor die outeur

Suzette van der Heijden

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest