As jy (soos ek) gedink het dat Parys jou verwelkom met die sagte geluid van trekklaviermusiek en die reuk van vars croissants, dink weer!

Ja, Parys is ’n sjarmante en unieke stad met wêreldberoemde monumente, geskiedkundige skilderye en intieme restaurantjies, maar terselfdertyd is dit ’n warboel van toeriste, smouse en soewenierstalletjies. Omdat dit ook die tuiste van een van die mees besoekte monumente ter wêreld is, is dit uiters belangrik dat jy jou storie ken wanneer jy Parys besoek.

Ek het onlangs die voorreg gehad om drie yskoue dae in die stad van liggies en liefde te spandeer na afloop van ’n werksbesoek aan die Verenigde Nasies in Switserland. Ek was alleen, oningelig en effens verbouereerd.

Ná afloop van my besoek het ek ’n kort lys van “moets” en “moenies” opgestel wat bietjie bystand kan bied wanneer jy jouself eendag in Parys bevind (iets wat jy beslis móét probeer doen).

  1. Moet: Bemeester die Metro.Ek het op my eerste dag in Parys ’n uur op die Metro-stasie spandeer oor ek geen idee gehad het waar om kaartjies te koop, waar om op te klim of in watter rigting die trein ry nie (daar is geen inligtingstoonbank nie – vir hom het ek 20 minute lank gesoek). Ná omtrent 30 keer se “parlez-vous Anglais” het ’n groepie hoërskoolmeisies ingestem om my te help en verduidelik hoe die trein werk.Ja, taxi’s is baie gerieflik. Maar hul metertjies hardloop vinniger as Usain Bolt en voor jy besef, het jy ’n heerlike ete se euro afgestaan vir ’n 2 km-taxirit.Parys se moltrein, of Metro, is die goedkoopste en vinnigste manier om deur die stad te toer. Hoewel die Metro se kaart lyk of ’n kleuter met kryte daarop gekrap het, is dit eintlik baie eenvoudig om te verstaan. Die stelsel gebruik nie windrigtings om die rigting van die roetes aan te dui nie, maar eerder die eerste en laaste bestemming van elke lyn.

As jy byvoorbeeld op lyn 8 (die ligte pers lyn) is, gaan jy óf in die rigting van Crétell Préfecture óf in die rigting Balard gaan. Dié twee bestemmings sal dus op die aanwysingsborde by die stasies wees. Jy sal dan in die rigting van Crétell gaan as jy van byvoorbeeld van die stasie op Bastille na die stasie op Ledru-Rollin wil gaan.

2. Moenie…: vir straatsmouse se truuks val nie.

Daar is duisende smouse in die strate van Parys wat goedkoop aandenkings verkoop en toeriste is hul prooi. Jou aksent bepaal dus die prys wat jy gaan betaal. Skrik smouse vinnig af deur in jou beste gebroke Frans “Non, merci,” eerder as “No, thank you,” te sê. As jy ongeïnteresseerd lyk en klink of jy bietjie Frans praat, los hulle jou onmiddellik uit.

3. Moet: Bespreek jou besoek aan monumente of museums vooraf.

Ek was gelukkig genoeg om op die eerste Sondag van ’n nuwe maand in Parys te wees en wat beteken dat sekere museums soos die Musée d’Orsay gratis toegang bied, maar ek moes toe omtrent ’n uur in die ry staan om in te kom (-2 °C skrik nie kunsliefhebbers af nie!).

As jy kan, bespreek jou besoek aan al die bekende monumente en museums soos die Louvre, Eiffel-toring en Arc de Triomphe vooraf op die internet. Só is jy verseker dat jy toegang sal kry en die rye vir voorafbespreekte kaartjies is natuurlik heelwat korter. Kaartjies wissel tussen 9 en 15 euro.

4. Moenie…: foto’s neem, maar nie die oomblik inneem nie.

“A picture is worth a thousand words. Or a thousand likes.”

Omdat sosiale media ons vriendelik verplig om elke aspek van reise te deel, is dit uiters belangrik dat jy ’n oomblik neem om die ervaring te geniet. Ja, almal wil die perfekte foto voor die Eiffel-toring of die Mona Lisa hê, maar die ervaring is tog waarvoor jy duisende rande betaal het.

Omdat ek alleen getoer het, moes ek daagliks my trots sluk en selfies neem. (Waar daar ’n vriendelike Asiatiese toergroep was, kon ek darem iemand vra om my so dan en wan af te neem.) Maar geen selfie kan die reuk van vars crêpes, die geluid van die Notre Dame se kerkklokke of die blink kwashale van Van Gogh vasvang nie. So neem jou foto en bêre jou selfoon; glo my, dit is die moeite werd.

5. Moet: Stap, stap en stap.

Die Metro se stasies is gerieflik naby aan mekaar, maar waar jy kan (en kans sien) – stap. Ek het daagliks tussen 10 en 15 km gestap en danksy dit het ek plekke gesien en mense ontmoet wat ek met ’n treinrit sou mis.

Mense soos die middeljarige vrou wat alles van La Vie en Rose tot die Star Wars-temalied op haar saksofoon gespeel het buite die Musée d’Orsay. Plekkies soos die klein bistro naby Notre Dame wat nie ’n naam het nie, maar waar die woorde “Wi-Fi, Pizza and Coffee” (drie van die goed wat enige toeris sonder ’n internasionale dataplan op ’n koue dag wil hê) in neonligte pronk. Winkels soos Shakespeare and Company in la Bûcherie-straat naby Place Saint-Michel, wat nuwe, tweedehandse en antieke boeke verkoop en boonop snags ’n slaapplek vir hawelose mense bied.

Hierdie is maar ’n paar van die skatte wat jy kan raakloop as jy bereid is om die strate in te vaar.

Dié reis was egter ’n droom van kleintyd wat waar geword het (my kamer lyk soos ’n gedenkhoekie vir die Eiffel-toring) en ek was vasberade om die beste van my ervaring te maak. So ongeag die yskoue weer, swak rand en my onkunde, sal ek die ervaring vir niks verruil nie.

Een ding is verseker: Die reisgogga het my beslis gebyt en hoewel ek tans poegaai en platsak is, spaar ek reeds vir my volgende reis.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Pin It on Pinterest