Leesvordering:

“Drukkies oor Skype is net nie dieselfde nie”

Mei 5, 2021

Kleinkinders is enige grootouer se grootste trots. Om die lewe saam met hulle te geniet, pleisters op seerplekkies te plak, drukkies uit te deel of kinderkonserte by te woon, is die kersie op elke ouma en oupa se lewenskoek.

Maar hoe gemaak wanneer die kinders besluit om oorsee te gaan werk of woon? Die immigrasie-konsultasiefirma Sable International beraam dat nagenoeg 25 000 Suid-Afrikaners jaarliks na die buiteland verhuis.

Vir die grootouers wat agterbly, is dit ’n groot en moeilike aanpassing, veral omdat dit ’n verlies aan fisieke kontak met kinders en kleinkinders meebring. Een van ons lesers skryf vir ons: “Drukkies oor Skype is net nie dieselfde nie.”

Dr. Sulette Ferreira is ’n familieterapeut wat navorsing doen oor die uitwerking van emigrasie op ouers en grootouers wat agterbly. Volgens ’n artikel deur Netwerk 24 meen sy jou rol as ouma en oupa kan nooit weggeneem word nie. “Vind berusting daarin. Jy is nog steeds ouma of oupa en sal altyd wees. Daardie betekeniswaarde verander nie; dit lyk net prakties anders. Jou lewe stop ook nie. Jy kan daardie gaping met soveel nuwe dinge vul en deel bly van jou kinders en kleinkinders se lewens.”

Ons het aan ’n paar maniere gedink waarop jy die spesiale band tussen jou en jou kleinkinders kan behou:

  1. Storietyd

Begin aan nuwe en kreatiewe maniere dink om by jou kleinkinders se lewens betrokke te bly. Stuur ’n stemnota of maak ’n stemopname waarin jy ’n kort storie vir hulle lees of vertel. Of kry ’n spesiale liedjie waarop jy en jou kleinkinders saam kan dans en sing.

  1. Bak en brou

Volgens Ferreira is tegnologie baie belangrik om ’n band oor afstand te behou. Leer hoe werk FaceTime, WhatsApp en Skype. Vra dan vir ma om die bestanddele te koop sodat jy en jou kleinkind saam oor Skype of FaceTime kan bak en brou. Geniet sommer ook ’n koppie tee saam ná die tyd!

  1. Pak ’n projek saam aan

Niks verhoed jou om ’n projek of taak saam met jou kleinkinders aan te pak nie. Teken of verf byvoorbeeld saam, of stel ’n uitdaging soos “teken vyf blomme” en wys dit vir mekaar wanneer julle weer praat.

  1. Skryf briewe

Skryf gereeld vir jou ouer kleinkinders briewe en moedig hulle aan om terug te skryf. Daar is niks so lekker as om iets spesiaal nét vir jou in die pos te ontvang nie! Dit is die perfekte geleentheid om tydlose herinneringe te skep.

En wanneer die verlange te veel raak, onthou: Jy is nie alleen nie. Jou kinders en kleinkinders mis jou nét soveel, en hulle is net ’n oproep weg!

Lees ook: Emigreer jy? Help jou kinders só om aan te pas

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest