Leesvordering:

Dubbelbelastingooreenkomste / Bilaterale verligting

Mar 28, 2022

Wat jy moet weet

Deur Fanus Jonck

Bilaterale verligting word verkry wanneer twee state (lande) ’n ooreenkoms (verdrag) het waarvolgens daar aan individue verligting gebied word van dubbele belasting.

Artikel 108 van die Inkomstebelastingwet bepaal dat die uitvoerende gesag van Suid-Afrika ’n ooreenkoms mag aangaan met die regering van enige ander land om die belasbaarheid van inkomste, winste en skenkings te reguleer wat in albei lande belasbaar mag wees. Die ooreenkomste maak ook voorsiening vir wedersydse ondersteuning om belasting in beide lande te administreer en in te vorder. Die belastingowerhede van een land kan dus die belastingowerhede van die ander land vra om hulle by te staan met inligting om belasting van ’n belastingbetaler te verhaal.

Dit is belangrik om daarop te let dat ’n dubbelbelastingooreenkoms (DBO) nie meer belasting van ’n persoon kan verhaal as wat vereis word deur ’n land se inkomstebelastingwetgewing nie.

’n Dubbelbelastingooreenkoms is ’n ooreenkoms wat tussen twee lande aangegaan word waarin hulle ooreenkom op die wyse waarop verskillende soorte inkomste en kapitaalwinste belas word. Die hoofdoel van die ooreenkoms is om dubbele belasting te verhoed, met ander woorde, dat dieselfde bedrag nie in albei lande belas word nie.

Internasionale belastingwetgewing (verdragwet) word soos volg toegepas:

  • Daar moet ’n persoon wees (die belastingbetaler). Die begrip “persoon” word gewoonlik in die verdrag gedefinieer (gewoonlik in artikel 3) en sluit gewoonlik permanente instellings uit.

  • Die persoon moet ten minste in een van die twee lande woon. Vir die doeleindes van ’n verdrag kan die persoon net in een van die lande woon en nie in albei nie. Daar is reëls in die verdrag waarvolgens bepaal kan word in watter land die persoon ’n inwoner is.

  • Die persoon moet voortgaan met ekonomiese aktiwiteite of moet bates in die ander land hê.

  • Die aktiwiteite of bates moet belasbare inkomste tot gevolg hê (soos in die verdrag gestipuleer).      

  • Belasting moet betaal word in die land wat as bron dien en in die land van verblyf.

Verligting van dubbele belasting is moontlik deur die verdrag self of deur ’n kombinasie van die verdragwet en die plaaslike wette van die lande wat deel is van die verdrag. Die verligting verskil van artikel tot artikel en hang ook af van die bewoording daarvan. Die artikels in ’n verdrag bevat gewoonlik een van hierdie twee frases:

1. Kan slegs belas word (in een van die lande)

Wanneer hierdie bewoording gebruik word, bied die verdrag (sonder die gebruik van plaaslike wette) verligting in die sin dat slegs een van die twee lande die reg het om belasting te hef, terwyl die ander een verhoed word om die persoon te belas. Vogel (Klaus Vogel on Double Tax Conventions, Kluwer Law International) verwys na die frase “kan slegs belas word” as ’n reël met volledige wettige gevolge.

2. Mag belas word (in een van die lande)

In sulke gevalle het albei lande die reg om ’ַn persoon se inkomste te belas – die verdrag verhoed dus nie belasbaarheid in enige van die lande nie. Volgens Vogel is hierdie frase ’n reël met onvolledige of oop wetlike gevolge waaroor ’n artikel in die ooreenkoms (normaalweg artikel 23) uitsluitsel kan gee. Hiervolgens moet een van die lande (gewoonlik die land waarin die persoon woon) verligting gee volgens plaaslike wetgewing of volgens die verdrag, deur óf die inkomste vry te stel van belasting, óf ’n krediet te gee vir belasting wat reeds deur die persoon in die ander land betaal word.

As ’n persoon inwonerstatus in Suid-Afrika het en in die Verenigde Koninkryk (VK) werk, kan die VK die belastingbetaler belas omdat hul bron van inkomste daar is. Suid-Afrika kan die persoon ook belas omdat hulle ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner is en Suid-Afrika sedert 2001 belasting hef op wêreldwye inkomste.

Omdat daar egter ’n dubbelbelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VK is, sal die belastingbetaler die VK-belasting van die Suid-Afrikaanse belasting kan aftrek en dus nie dubbele belasting hoef te betaal nie.

As iemand langer as 183 dae uit ’n tydperk van 12 maande oorsee werk (en ’n deel daarvan is ten minste een aaneenlopende periode van 60 dae) sal so iemand ook die voordeel hê dat die eerste R1,25 miljoen van sy/haar inkomste vrygestel sal wees van belasting.

Suid-Afrika het nie dubbelbelastingooreenkomste met alle lande nie en die verdrae verskil ook. In sommige lande, soos die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), mag slegs húlle werknemers belas. Suid-Afrikaners wat in die VAE vir ’n VAE-onderneming werk is dus nie in Suid-Afrika belasbaar op hul inkomste in die VAE nie.

  • Kontak gerus die belastingkonsultant Fanus Jonck (tax@jonck.net) vir enige belastingnavrae.

LEES OOK: Hoe hou ek op om ’n ingesete belastingbetaler in Suid-Afrika te wees?

Meer oor die outeur

Fanus Jonck

Fanus Jonck is 'n ervare belastingskonsultant. Kontak hom gerus vir enige belastingsverwante navrae deur 'n e-pos te stuur na tax@jonck.net

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Wolkskool

Onderneming in die Kollig: Wolkskool

Hierdie week se kollig is op Wolkskool. Wolkskool is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Renzo Harmse, wat...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest