Leesvordering:

E-pos uit Dublin, Ierland

Mar 24, 2020

Waar die Dublinse middestad gewoonlik ’n miernes van daaglikse bedrywighede is, is die strate en besienswaardighede tans in ’n onheilspellende stilte gedompel.

Gewoonlik moes ’n mens teen voetgangers op sypaadjies skuur om verby te kom, maar nou kan jy gemaklik al armswaaiend stap. Nie dat ’n mens dit juis wil doen nie, maar darem.

Die koronavirus het ongeveer twee weke gelede hier in Dublin aangekom en sedertdien het die stad al stiller en stiller begin word. Tot op hede is daar al amper 600 bevestigde gevalle van die virus in die Republiek van Ierland, met drie sterfgevalle.

Op St. Patrick’s-dag, die een dag in die jaar wanneer die Iere hulle herkoms uit volle bors vier, was die stad doodstil. Waar mense gewoonlik die strate vol dans en sing en liters Guinness drink, was daar nêrens ballonne, vlae of Leprechaun-uitrustings te sien, of tradisionele Ierse musiek te hoor nie.

Die laaste ‒ en trouens die enigste ‒ keer wat die viering van St. Patrick’s-dag al ooit afgestel is, was in 2001, toe hier ’n uitbreking van bek-en-klouseer was.

Leo Varadkar, die Ierse eerste minister, het boonop twee dae voor vanjaar se St. Patrick’s-dag aangekondig dat alle pubs hul deure tot die einde van die maand moet sluit.

Dit beteken dat meer as 7 000 pubs regoor die land gesluit het, met meer as 50 000 mense wat vir twee weke werkloos gelaat is met geen inkomste nie.

Meeste mense werk ook al vir meer as ’n week van die huis af, wat beteken dat die publieke vervoer ook baie stiller is.

Tog smag almal na ’n bietjie tyd in die buitelug. Hier in Dublin is mense mal oor stap en daarom sal jy baie mense vroeg in die oggend voor werk en laatmiddag na werk in die parke sien wat met hul gesinne ’n bietjie vars lug en oefening kry. Steeds hou almal egter ’n veilige afstand van mekaar af.

Omdat die gimnasiums ook vir die volgende paar weke toegemaak het, oefen al meer mense in die parke. Drawwers word aangeraai om deurentyd ’n afstand van 2 meter van ander drawwers te hou en oefengroepe mag nie uit meer as 10 mense bestaan nie. Almal moet deurgaans 2 meter van mekaar af oefen.

Mense wat in winkels werk, het almal handskoene aan en die kaartmasjiene word na elke transaksie ontsmet en skoongemaak. Baie van die winkels het nuwe beleide ingestel wat kliënte verbied om met kontant te koop, sodat hulle (die kliënte) self hul kaarte met die kaartmasjien kan hanteer.

In sommige van die apteke is die rakke afgesper, wat beteken dat jy na die toonbank moet gaan en iemand moet vra om ’n bepaalde produk van ’n rak vir jou te gaan afhaal. Baie apteke laat ook nie meer as twee mense op ’n keer binne toe nie.

Alle nie-noodsaaklike vlugte in en uit die land word tans beperk, maar daar is nog geen vlugte wat verbied is nie. Hoe lank dit gaan hou, is nog onseker, maar die regering hou die publiek daagliks op hoogte van sake.

Omdat Ierland so ’n klein landjie is, versprei die virus baie vinnig. Dit is dus belangrik om persoonlike higiëne op te skerp en bewus te wees van waaraan jy vat en wat jy moet doen wanneer jy hoes of nies.

Laat ons maar die kajuitkoors (cabin fever) verduur en tuis bly. Dis nie lekker nie en raak soms baie frustrerend, maar dit is al manier waarop ons hierdie virus gaan stuit!

 

 

Meer oor die outeur

Elsje du Toit

Elsje du Toit is ’n plattelandse meisie wat in die Noord-Kaap grootgeword het en later vir 5 jaar as joernalis by Volksblad en Netwerk24 in Bloemfontein gewerk het. Sy en haar man, JJ, bly sedert Januarie 2018 in Dublin. Hoewel sy al ’n rukkie hier bly, kan sy nog nie heeltemal aan die yskoue weer gewoond raak nie, maar tog geniet sy elke oomblik

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest