Leesvordering:

Ek dink ek hou meer van daardie sonsondergange: ’n Jong meisie kyk terug op haar tyd in Suid-Afrika

Aug 2, 2022

Deur Emma Schneider

Ek onthou ek het in my broer se kamer ingeloop met ’n groot glimlag op my gesig en die verslete, sagte diertjie wat sedert my geboorte my beste vriend is in my arms. My ouers het op die klein, blou bankie in die hoek van Steffen se kamer gesit en albei het gehuil. My hart het amper gaan staan. Ek het altyd gedink die ergste wat met n negejarige kan gebeur, is om gedwing te word om groente te eet of nie die Barbie-pop in die winkel te mag koop nie. Maar ek was verkeerd; om jou ouers so ongelukkig te sien, is baie, baie erger. Die trane het oor hulle gesigte gerol terwyl hulle probeer glimlag om die situasie beter te laat lyk, maar die valsheid van daardie glimlagte het my as kind net nog meer verwar. Ek en my broer het verward na mekaar gekyk en fronsend voor hulle gaan sit.

“Moenie bekommerd wees nie, alles is oukei,” het my ma gesê om die swaar atmosfeer in die kamer ’n bietjie ligter te probeer maak. Maar sy het ons nie in die oë gekyk nie. Sy kon nie, want sy het geweet haar volgende woorde sou ons vernietig.

“Ons gaan skei.” Daardie drie klein woordjies het die wêreld in ’n splitsekonde om my laat ineenstort. Dit het gevoel asof iemand my wurg sodat ek nie kan asemhaal nie. Die tyd het gaan stilstaan en alle kleur in die kamer het skielik verdof tot swart en wit. Tot vandag toe probeer ek steeds daardie sensitiewe onderwerp ten alle koste vermy, maar dis hoe alles begin het.

Nadat hulle hul mislukte huwelik nog twee jaar uitgerek het om ter wille van die gesin bymekaar te bly, is my ouers uiteindelik geskei. Op daardie stadium was ek elf en het probeer om alles te verstaan, maar ek het my elke aand aan die slaap gehuil terwyl dit voel of daar iets in my lewe ontbreek. In my was daar ’n leegte wat die trane elke aand oor my wange tot in my mondhoeke laat loop het. My besoeke aan die terapeut het niks gehelp nie. En toe kom my ma op die idee om Suid-Afrika toe te trek. My pa het sy nuwe meisie gehad, en my ma het niemand gehad nie. Haar familie het aan die ander kant van die wêreld gewoon en sy wou nader na hulle toe trek. Ek verstom my steeds dat ek so maklik ingestem het tot iets wat my lewe vir altyd sou verander. Maar op daardie tydstip het ek geen idee gehad hoe ingrypend die verandering sou wees nie. Die enigste verduideliking wat ek het, is dat enigiets beter sou wees as die lewe wat ons op daardie stadium gelei het.

Ons het later daardie jaar vertrek, net nadat ek klaar was met graad 6. In die vliegtuig op pad na Suid-Afrika was my oë rooi gehuil en ek het tranerig gebly. Lank nadat ek vir my pa totsiens gesê en sy gesig agter die dik betonmure verdwyn het, het die afskeid steeds swaar op my gemoed gerus en dit het gevoel of dit nooit gaan beter word nie.

“Dit sal beter word, jy sal sien. Ouma sal op die lughawe vir ons wag,” het my ma gesê terwyl sy my hand vashou en my op die voorkop soen. Ek het my oë toegemaak.

Ná ’n elf uur lange vlug kon ek uiteindelik uit die vliegtuig stap. My bene was styf en seer. Die warm, vogtige lug het my soos ’n hou teen die kop getref. Dis anders, het ek gedink, maar ek hou daarvan.

Ouma het ons opgelaai en na haar huis gery. Ek het agter in die motor gesit en met my kop op my arms gekyk hoe die palmbome verbyvlieg terwyl ons teen die heuwel op ry. Ek onthou steeds baie helder hoe vinnig ek besef het ek is nie meer in Duitsland nie. Amper alles was nuut en onbekend. By elke verkeerslig het mense probeer om kleurvolle speelgoed aan motorbestuurders en hul kinders te verkoop, en borrels het deur die lug gevlieg en aan die motor se ruite vasgesit terwyl ons wag dat die lig groen word.

Dit het gevoel of die tyd in Afrika met loodswaar voete voortsleep. Ek kon die hitte hoor; die dooie gras het gekraak as dit teen mekaar vryf, en my ore het gesuis as ek te lank buite staan. Nog iets wat ek altyd sal onthou, is die geluid van water oral, die konstante gedrink, geswem en gesweet, en die reuk van die vogtige atmosfeer wat my longe toegedruk het. Maar ek moet sê, niks daarvan was ooit vir my sleg nie.

Ek was 12 teen die tyd wat ons Suid-Afrika toe getrek het en dit was regtig ’n groot uitdaging om na ’n Engelse skool te gaan. Ek het in Duitsland so hier en daar ’n bietjie Afrikaans en Engels opgetel, maar ek kon nie een van die amptelike tale behoorlik praat nie, so ek was baie bang en senuweeagtig. Gelukkig het dit na ’n ruk geblyk dat ek tale vinnig aanleer, en in ‘n japtrap kon ek Engels en Afrikaans praat met ’n mengsel van ’n Duitse en Suid-Afrikaanse aksent.

Emma, Marli, Marc en Steffen voor die glockenspiel op Marien-plein in München.

My familie is baie godsdienstig, wat beteken ons moes Sondae kerk toe gaan. Ek het dit gehaat. Daardie groot, stokou, grys gebou op die hoek van my ouma en oupa se straat was die plek waarvan ek die heel minste gehou het. Om niemand te ontstel nie moes ek altyd voorgee ek sien uit daarna om te gaan. Duitse kinders word net op Kersdag gedwing om kerk toe te gaan, en nou moes ek skielik gereeld tyd saam met God spandeer. Maar mettertyd het ek besef dit het ’n goeie invloed op my lewe. Ek het God leer ken en agtergekom hoe mooi die lewe saam met Hom kan wees. Ek glo Hy het my in die moeilikste tyd in my lewe gehelp en op die regte pad gelei; daarvoor sal ek Hom vir ewig dankbaar wees.

Ek het ook kennis gemaak met nuwe reëls, ’n nuwe perspektief op sake en nuwe maniere om na die wêreld te kyk. Ek het geleer hoe dinge regoor die wêreld werk, en in die drie jaar wat ek in Suid-Afrika gewoon het, het ek nuwe kulture en tradisies leer ken. Gedurende my belangrikste ontwikkelingsjare kon ek staatmaak op die ondersteuning van familie – iets wat ek vantevore nie geken het nie; hulle het my verseker dat hulle altyd daar sal wees vir my. Ek het vriende gemaak en bande gebou met mense wat nog steeds deel is van my lewe. En God is altyd by my en bring die beste in my na vore.

Ná drie van die wonderlikste jare van my lewe het ons besluit dis tyd om huis toe te gaan. Ek het my pa in dié tyd net drie keer gesien en wou met hom herenig word, en ek wou my nuwe ingesteldheid en wêreldbeskouing saamneem huis toe. Ek sal jok as ek sê dit was maklik om die son se warmte en al Afrika se kleure agter te laat. Net om die helder geel grasvelde te sien, en die oop lug waar die skitterende son heers en geen wolk dit waag om in sy pad te kom nie, laat jou ’n warmte ervaar wat jy nêrens anders teenkom nie. Ek weet ek sal weer moet gewoond raak aan somers waar die son skyn maar jou nie regtig aanraak as dit op jou vel val nie; ek sal moet gewoond raak aan ’n son wat agt maande per jaar wegkruip en die ander vier maande net om die hoekies van die altyd aanwesige wolke loer. Maar ek weet dit is die regte tyd. Daardie gat wat gedurig aan my binneste geknaag het sonder dat ek geweet het wat skort, is oor die jare gevul met liefde, lojaliteit, kennis en passie.

Ek glo hierdie verandering was die belangrikste een in my lewe; dit het my na die regte pad gelei sodat ek myself kon leer ken en met nuwe oë na die wêreld kon leer kyk. Waar ek nou hier in Duitsland op die stoep sit, kyk ek op in die lug en onthou die tyd in Suid-Afrika. Aan daardie kant van die wêreld lyk die sonsondergange anders. Die kleure laat jou na die lug kyk en weer kyk. Ek het gou agtergekom my broers kyk ook. Met ons koppe agteroor het ons na die triomferende son gestaar. Ek dink ek hou baie meer van daardie sonsondergange.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onthou helde soos Totius vandag op Taaldag

Onthou helde soos Totius vandag op Taaldag

Deur Alana Bailey Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig. Dit was die eerste amptelike poging om Afrikaans as volwaardige gebruikstaal op alle vlakke te vestig. In latere jare het die datum as Afrikaanse Taaldag begin...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. Saai gryp in by...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Kirsten Mocke wat tans saam met haar man in Ierland woon. Kirsten vertel ons meer van hul emigrasieproses en hulle lewe in...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest