Leesvordering:

Ekspat-belasting

Jun 12, 2018

“Ekspat-belasting” jaag baie Suid-Afrikaanse ekspats tans die skrik op die lyf. Die grootste verandering is die herroeping van Artikel 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet wat die belastingvrystelling op buitelandse inkomste opskort. Dit beteken die Tesourie wil hê jy moet belasting betaal op jou buitelandse verdienste.

Dit maak Suid-Afrikaners oor die hele wêreld bang. Baie mense is verward. Hulle is al tien of twintig jaar in die buiteland en wil weet of die nuwe wetgewing hulle gaan beïnvloed. Die kort en saaklike antwoord is: “Nee.” Die veranderinge aan die Inkomstebelastingwet kan jou slegs raak as jy ʼn inwoner van Suid-Afrika is, of as ʼn inwoner van Suid-Afrika beskou word. Of jy ʼn inwoner is, word bepaal deur die fisieseteenwoordigheidstoets (Engels: physical presence test) en die gewone-inwonertoets (Engels: ordinary resident test). Jy hoef jou nie te bekommer as jy nie in een van dié twee kategorieë val nie.

Die fisieseteenwoordigheidstoets

Die fisieseteenwoordigheidstoets is ʼn berekening van die hoeveelheid tyd wat jy in Suid-Afrika spandeer. Die toets stel drie vereistes, en jy moet aan al drie vereistes voldoen voordat jy as ʼn inwoner van Suid-Afrika beskou sal word. As jy 91 dae gedurende die huidige belastingjaar in Suid-Afrika spandeer, en as jy 91 dae gedurende elk van die voorafgaande vyf jaar in Suid-Afrika spandeer het, en as jy gedurende dié vyf jaar ʼn totaal van 915 dae in Suid-Afrika spandeer het, voldoen jy aan die drie vereistes en sal as ʼn inwoner beskou word.

Die gewone-inwonertoets

Daar is geen vaste definisie vir ʼn gewone inwoner nie. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beskou iemand as ʼn gewone inwoner as Suid-Afrika jou permanente tuiste is waar jou bates en jou gesin is en waarheen jy terugkeer wanneer jy nie die wêreld vol reis nie. Jy kan steeds as ʼn gewone inwoner van Suid-Afrika beskou word al het jy jare in die buiteland deurgebring.

Dubbele verblyfreg

Die vraag ontstaan dan: Is jy net ʼn inwoner van Suid-Afrika of het jy dubbele verblyfreg (Engels: dual residency)? En as jy dubbele verblyfreg het, waar betaal jy belasting?

As jy die afgelope tien jaar in die buiteland gewerk het, het jy dubbele verblyfreg omdat jy ʼn belastingbetaler is in die land waar jy gewerk het, maar ook ʼn gewone inwoner van Suid-Afrika is. In hierdie geval moet jy vasstel of daar ʼn dubbelbelastingooreenkoms (DTA) bestaan, en indien wel, waar dié ooreenkoms aan jou verblyfreg verleen. Die DTA gee jou uiteindelik eksklusiewe verblyfreg in een van die twee lande. Jy kan nie inkomstebelasting in twee lande betaal nie.

Die eerste ding waarna die SAID kyk, is waar jou permanente huis is. As dit net in Suid-Afrika is, kry jy outomaties hier verblyf. As jy ʼn permanente huis in albei lande het, bepaal hulle waar jou invloedsfeer is – waar jy woon, waar jou gesin en bates is, en waar jy sosialiseer. As jy tyd binne en buite Suid-Afrika spandeer, maar jou gesin is in Suid-Afrika, gaan die DTA jou verblyfreg in Suid-Afrika gee. As jy meer gereeld in die buiteland is, jou gesin daar woon en jou kinders daar op skool is, is dit duidelik dat jy in die buiteland woon en die DTA sal jou verblyfreg in daardie land gee. Dan word jy vir belastingdoeleindes alleenlik ʼn inwoner van daardie jurisdiksie. In daardie geval sal die veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet jou hoegenaamd nie beïnvloed nie.

As jy volgens die DTA ʼn belastinginwoner in die buiteland is, hoef jy nie aan die SAID belasting op jou buitelandse inkomste te betaal nie. Jy sal egter steeds belasting op jou Suid-Afrikaanse bates moet betaal. As jy byvoorbeeld eiendom in Suid-Afrika het en dit verhuur, sal jy steeds in Suid-Afrika belasting op daardie inkomste betaal.

Moet jy oorsee trek?

As jy alles in Suid-Afrika verkoop, insluitend jou huis en motor, en voltyds in die buiteland gaan woon, sal jy ook nie deur die nuwe regulasies geraak word nie. Jy sal dan ʼn gewone inwoner van ʼn ander land wees en dit is waar die DTA jou verblyfreg sal gee, dus jy sal nie in Suid-Afrika belasbaar wees nie.

Suid-Afrikaanse ekspats in Dubai

As jy in Dubai woon en dalk selfs daar eiendom gekoop het, en jy het geen bates meer in Suid-Afrika nie, sal jy ook die SAID vryspring – met dien verstande dat jy aan die SAID kan bewys dat jy ʼn gewone inwoner in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) geword het of dat die DTA jou daar verblyfreg gegee het. Die veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet sal jou nie beïnvloed nie, selfs al betaal jy nie inkomstebelasting nie.

Jy kan ook aansoek doen vir ooreenkomsverligting (Engels: treaty relief), maar dan moet jy elke jaar ʼn belastingsertifikaat of ʼn sertifikaat van inwoning aanvra.

Finansiële emigrasie

As jy buite die definisie vir ʼn gewone inwoner val, of as die DTA jou verblyfreg in ʼn ander land gee, hoef jy nie finansieel te emigreer nie. Formele emigrasie kan jou persoonlike keuse wees, maar dit is tegnies nie nodig nie.

Volledige emigrasie

Baie mense sê jy moet volledig emigreer om aan hierdie belasting te ontsnap. Jy sal dit waarskynlik nie hoef te doen nie, maar onthou: Alles hang af van jou persoonlike omstandighede. Jy moet bepaal waar jy woon – óf in terme van die DTA óf met ʼn inwonertoets – en daarvolgens beplan.

Kontak Fanus Jonck (tax@jonck.net) met jou belastingnavrae.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest