Leesvordering:

Emigrasie: Die gras is dalk groener, maar daar is bruin kolle

Okt 19, 2021

Deur Amanda Visser

In sommige gevalle is die gras inderdaad groener aan die ander kant vir Suid-Afrikaners wat besluit om op te pak en ’n lewe in ’n nuwe land te begin. Dit is egter makliker om die bruin kolle op andersins groen gras raak te sien wanneer jy eers daar is. Amanda Visser het met drie jong paartjies gepraat wat na Nieu-Seeland en die VSA geëmigreer het. Skuilname is gebruik.

Alledaagse dinge soos om bankrekeninge oop te maak, die koop van ’n voertuig, en regeringsburokrasie is in albei dié lande redelik maklik. Een van die belangrikste dokumente wat enige Suid-Afrikaner so gou as moontlik moet aanskaf, is ’n bestuurslisensie. In Nieu-Seeland het die hele proses minder as 15 minute geneem, maar in die VSA het die COVID-19-pandemie dit bietjie meer bemoeilik, alhoewel dit nog steeds niks is in vergelyking met dít wat Suid-Afrikaners moes deurgaan vanweë COVID-19 nie.

Die bestuurslisensie dien as ’n identiteitsdokument en daarmee is jy in staat om ’n voertuig te koop en ’n bankrekening oop te maak. Met die bestuurslisensie, ’n werksvisum en ’n bewys van adres sal jy ver kom.

Die banksisteem

In die VSA sal ’n mens oor die algemeen net een bank kry in die meer landelike gebiede. Dit is ’n algemene verskynsel dat bankpersoneel jou op jou naam groet as jy daar instap. In Kansas word tjeks steeds hoofsaaklik as betalingsmetode gebruik. Volgens Pieter*, ’n ekspat-plaasbestuurder wat daar werk, koop hy bv. $15 000 se kunsmis, laai dit agterop sy bakkie en ontvang ’n week later ’n faktuur daarvoor. In die pos. Hy stuur dan ’n tjek vir die bedrag. In die pos. Hy erken dit was nogal iets waaraan hy moes gewoond raak.

Behuising

Behuising in Nieu-Seeland is duur en die aanvraag daarna is baie groter as dít wat beskikbaar is. As jy ’n troeteldiervriendelike blyplek soek om te huur, verlaag jy jou opsies met omtrent 90%. Omdat daar ’n tekort is aan laekostebehuising, huur die Kiwi-regering huise en subsidieer mense wat ondersteuning nodig het. Huiseienaars verkies ook om aan hierdie huurders te verhuur aangesien hul inkomste dan gewaarborg is. Die gemiddelde huishuur is $500 (R5 215 teen ’n wisselkoers van R10,43 tot die NZD) per week en werk uit op ongeveer 30% tot 40% van ’n mens se inkomste.

Dit raak toenemend moeilik vir mense wat die eerste keer ’n eiendom aanskaf om dit reg te kry. Die mediaanprys in Hamilton vir ’n relatiewe klein huis met drie slaapkamers en een badkamer is $800 000.

“As Suid-Afrikaners dieselfde huise wil koop as wat hulle in die ooste van Pretoria of in Sandton besit het, moet hulle bereid wees om ten minste tien keer meer te betaal as wat hul eiendom in Suid-Afrika werd is.”

Francois*

Motorpryse

Dit is in albei lande maklik en goedkoop om ’n kar te koop. In die klein dorpie Greensburg in die VSA het die bankbestuurder die motorhandelaar geskakel en die finansiering binne minute goedgekeur. As jy ’n voertuig koop wat baie swaar is op brandstof, is dit ook nie ’n probleem nie, aangesien brandstof “goedkoop” is.

Nieu-Seeland het ’n groot tweedehandsemotorbedryf vanweë invoere, hoofsaaklik vanaf Japan. Sommige van die stembevele in die motors is nog in Japanees. “Ons neem maar aan sy sê vir ons om ons sitplekgordels aan te sit,” sê Francois*.

Kos

Om uit te eet is in beide hierdie lande ’n luukse. In die VSA werk ’n standaard-ete – hamburger, skyfies en gaskoeldrank vir ’n gesin van vyf – omtrent $60 uit (R900 teen ’n wisselkoers van R15 per dollar). Kospryse in supermarkte is oor die algemeen dubbeld so duur in Nieu-Seeland as wat dit by die huis is. Kruisskyf (“rump steak”) daar gaan jou ongeveer R400 per kilogram uit die sak jaag. In die supermark.

Gesondheid

In Nieu-Seeland is gesondheidsorg gratis vir ekspats wat belastingbetalende burgers is. Dit beteken Robyn* (wat swanger is) hoef nie vir haar besoeke aan die vroedvrou of vir enige skanderings te betaal nie. Kraamverlof is ses maande lank, waartydens die primêre versorger ’n volle salaris betaal word.

Die waglys om ’n afspraak met ’n “staatspesialis” soos ’n ginekoloog te kry of ’n knievervanging of rugoperasie te hê, is egter nogal lank. Lidmaatskap vir private gesondheidsorg tesame met lewensversekering is gelykstaande aan omtrent R2 800 vir twee volwasse lede.

In die VSA is mediese versekering omtrent $1 750 vir ’n gesin van vyf, maar dag-tot-dag-uitgawes word uit jou eie sak betaal. Duur spesialisbehandelings word oor die algemeen ten volle gedek, of ten minste tot 80% of 90% daarvan. In die VSA is algemene versekering egter groot en “verlammend” duur. “Ek vermoed dit is omdat hulle so baie daarvan hou om mekaar hof toe te sleep,” sê Pieter*.

*Skuilname is gebruik.

LEES OOK: Die bruin kolle: godsdiens, maniere en werksetiek

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Deur Alana Bailey Sommige mense vrees hulle, ander hou hulle as troeteldiere aan … hoe dit ook al sy, spinnekoppe bly merkwaardige kreature. Sover ons kon vasstel, is daar 71 spinnekopfamilies, 471 genera en meer as 2 000 spesies in Suid-Afrika bekend. Omdat hulle in...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest