Leesvordering:

Emigrasie is nie maklik nie – Wenke om deel te word van jou nuwe omgewing

Jul 8, 2022

Hier is ’n paar wenke vir Suid-Afrikaners in die buiteland om deel te word van hul nuwe omgewing:

Ons is almal bewus van die emosionele wipwarit wat met emigrasie gepaard gaan. Een van die sterkste emosies is ’n gevoel van eensaamheid. Om te voel jy is alleen in ’n vreemde land met vreemde mense kan sy tol eis, maar daar is maniere om die aanvanklike eensaamheid te oorkom. Hier is ’n paar wenke.

Sosiale media en aanlyndienste

Jy gaan in alle waarskynlikheid gebruik maak van sosiale media om in kontak te bly met jou vriende en familie in Suid-Afrika, en ook om hulle te wys waarmee jy jou besig hou in die nuwe, vreemde land waar jy jouself bevind. Maar sosiale media strek verder as dit.

Platforms soos veral Facebook is tjok-en-blok vol groepe met eenderse belangstellings – heel moontlik individue wat hulself in dieselfde situasie as jy bevind. Of dit nou groepe Suid-Afrikaners is wat gereeld saamtrekke hou of ’n mengelmoes buitelanders wat elke naweek ontmoet, sluit gerus aan. Heel moontlik word jy in ’n japtrap deel van ’n nuwe vriendekring!

Hoewel dit nog vir sommige taboe mag wees, moet jy dit tog oorweeg om toeps soos Tinder af te laai as jy enkellopend is. Daar is niks vreemds daaraan om te soek na pasmaats wanneer jy alleen in ’n land gaan wees nie, en heel moontlik sal daar hope nuwe vriendskappe daaruit spruit.

Onthou jou wortels

As jou moedertaal Afrikaans of ’n ander Afrikataal is, sal jy een of ander tyd begin mis om dit te praat. As jy nie ander taalgenote in jou nuwe omgewing teëkom nie, kan jy dit wel oorweeg om na films te kyk, musiek te luister en boeke te lees in jou moedertaal.

Raak betrokke by die gemeenskap

Of jy nou handjie bysit by ’n sopkombuis of help om ’n straatpartytjie te organiseer, sal jy baat vind daarby om ’n goeie daad te verrig. As mense besef dat jy graag ’n daadwerklike bydrae wil lewer tot ander se welstand, sal hulle met oorgawe na joune omsien. En ’n mens put natuurlik groot welbehae daaruit om iets uit die goedheid van jou hart te doen.

Nooi mense vir ’n braai

Dis lekker vir ander om nuwe dinge te probeer, en wat kan beter wees as om vir die eerste keer te braai? As jy sukkel om braaitoebehore op te spoor waar jy is, onthou ’n boer (lees: Suid-Afrikaner) maak ’n plan! As die braaigogga jou gaste eers gebyt het, is daar nie uitkomkans nie en jou blyplek gaan vinnig die lekkerste bymekaarkomplek word!

As daar vegetariërs is, moenie vrees nie. Jy weet mos hoe om ’n braaibroodjie te braai.

Kry ’n gepaste stokperdjie

Bepaal watter aktiwiteite in jou nuwe gemeenskap gewild is (byvoorbeeld fotografie of branderplankry) en kyk of jy by klubs kan aansluit om betrokke te raak. Die ergste wat kan gebeur, is dat jy dalk ’n nuwe passie ontdek.

Moenie jouself isoleer nie

Die hele punt van na ’n ander land trek, is tog dat jy by ’n nuwe lewenswyse inskakel en nuwe dinge ervaar, so moenie bedroef raak deur naweke tuis te bly nie. Pak jou tas en doen navorsing oor lekker naweekuitstappies. Dit kan enigiets wees van staptoere en adrenaliengedrewe aktiwiteite soos slackline of bergfietsry, of selfs musiekfeeste en sportbyeenkomste.

Begroot om jou mense soveel as moontlik te sien

Maak nie saak hoe lank jy oorsee bly nie, jy is steeds ’n Afrikaner in murg en been. Spaar genoeg dat jy vir jou mense kan gaan kuier (of selfs dat hulle vir jou kom kuier) en onthou om geskenke saam te neem wat jou nuwe land en kultuur uitbeeld.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

’n Netwerk wat vir jou werk

’n Netwerk wat vir jou werk

Deur Sue-Ann de Wet Die belangrikheid van ’n ondersteunende netwerk kan nie onderskat word nie. Die bou van ’n netwerk in ’n nuwe land gaan oor meer as net sake doen of werk soek; dit gaan ook oor die skep van ’n ondersteuningsbasis wat jou kan help om die gevoel van...

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Kyk die ouer garde van ander lande jou snaaks aan as jy nog na hulle as “Oom” en “Tannie” verwys? Langarmsokkie julle nog in die sitkamer op Afrikaanse sokkietreffers? Ons kultuur is meer as net melktert en braaivleis. Wat is daardie klein gewoontes wat jy net...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest