Leesvordering:

Emigrasie: ’n uitdaging vir Suid-Afrikaners tydens die COVID-19-pandemie

Jan 19, 2021

Baie Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, is negatief beïnvloed deur die reisverbod en die nuwe variant van die COVID-19-pandemie wat vinniger versprei. Lande soos Duitsland verbied reisigers uit Suid-Afrika as gevolg van die nuwe variant om die land binne te gaan. Dit laat Suid-Afrikaners wat vir die Kersseisoen na Suid-Afrika gekom het hier gestrand. Hulle het werke en verantwoordelikhede om na toe terug te keer in die lande waar hulle woon maar kan dit tot verdere kennisgewing nie doen nie. Ander families, soos dié van Petrus Janse van Rensburg, is oor die afgelope jaar as gevolg van die wêreldwye pandemie en die inperking geskei. Hy het reeds in Januarie 2020 na Nieu-Seeland vertrek om ’n pos op te neem en het verwag dat sy vrou en dogter hom kort daarna sou volg. Die inperking in beide Nieu-Seeland en Suid-Afrika het egter veroorsaak dat hulle maande lank geskei was – tot so ’n mate dat Janse van Rensburg begin vrees het dat sy dogter hom sal vergeet. Die gevolg van die skeiding is vererger deur die feit dat die gesin reeds alles in Suid-Afrika verkoop het en hul werke bedank het in afwagting van die verhuising.

Die COVID-19-pandemie het talle Suid-Afrikaners wat ook reeds in die proses was om te emigreer, se planne in die wiele gery. Met migrasiekantore en grense wat onverwags gesluit is, moes baie hulle planne uitstel. Dit is belangrik dat hulle seker maak of hul dokumentasie steeds geldig is. ’n Engelse taaltoets is meestal vir drie jaar geldig, maar ’n polisievrywaring net vir 12 maande. Talle werksgeleenthede is ook beïnvloed aangesien lande soos Australië tydens die COVID-19-pandemie voorkeur gee aan gesondheidsorgberoepe en poste in ander beroepe moontlik deprioritiseer. Sam Hopwood, ’n Australiese migrasiekenner, sê elke geografiese gebied prioritiseer visumuitnodigings volgens die vaardighede wat daar benodig word. Tydens die pandemie moet Suid-Afrikaners bereid wees om in areas te werk waar die plaaslike bevolking moontlik sal verkies om nie te werk nie, met ander woorde in areas buite Sydney, Melbourne en Brisbane. Afstandswerk is ook ’n opsie en bereidwilligheid om buigbaar te wees kan jou kanse verbeter om ’n visum te kry wat deur ’n werkgewer aangevra moet word.

Vir Suid-Afrikaners in die buiteland is onderrig vir hulle kinders sekerlik ’n groot struikelblok. Afstandsonderrig en goeie internettoegang is van kardinale belang. Die beste wat ouers kan doen, veral in die buiteland, is om ’n netwerk te soek waarvan hulle kan deel word. Om met Suid-Afrikaners in jou omgewing kragte saam te span en deel te word van organisasies soos Wêreldwyd, maak dit makliker om oplossings te vind. Dit maak selfs die deur oop om jou kinders in Suid-Afrika deur medium van Afrikaans te laat onderrig al is jy in die buiteland. Facebook- en e-posgroepe en ondersteuningsnetwerke is belangriker as ooit. As jy tydens die pandemie met jou kinders moet reis, is die volgende volgens kenners van UNICEF belangrik:

  • Maak seker jou kind het die nodige roetine-inentings ontvang, byvoorbeeld vir masels en griep.
  • Gebruik vervoer buite spitstye. As jy moet vlieg, probeer ’n minder gewilde tyd bespreek sodat jy groot groepe mense kan vermy.
  • Neem jou eie padkos en drinkgoed saam om die risiko van infeksie te verminder.

Vir Suid-Afrikaners wat na die buiteland moet reis, is die wisselkoers darem gunstiger as ’n paar maande gelede. In Julie 2020 was die Amerikaanse dollar R16,70 werd; die rand het egter intussen versterk tot R15,30. Vir Suid-Afrikaners wat kostes oorsee moet aangaan, is dit ’n groot voordeel, alhoewel die rand steeds swakker is as voor die pandemie.

Die COVID-19-pandemie het vir die meeste mense finansiële laste meegebring. Dit kan beteken dat talle gesinne hulle beplande emigrasie moet uitstel. Ander wat onlangs geëmigreer het, het dalk nie meer die werksekerheid wat hulle voorheen gehad het nie. Ongeag wat elkeen se situasie is, leer die pandemie ons dat goeie spaarbeginsels nie omseil kan word nie. Veral Suid-Afrikaners wat dikwels aan die kortste end trek wanneer dit by wisselkoerse kom, het ’n stewige buffer nodig voor emigrasie.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest