Leesvordering:

Emigrasie: Wat dit kos om Suid-Afrika te verlaat

Feb 26, 2020

18 nie so voor die hand liggende kostes wat jy moet in ag neem wanneer jy besluit of jy wil emigreer

Deur Craig Torr – Crue Invest (Edms.) Bpk.

Die besluit om na ’n  vreemde land te emigreer, word nooit ligtelik geneem nie. Geweldig baie finansiële beplanning is nodig om ’n gladde finansiële oorgang te verseker. Onvoorsiene en verborge koste verbonde aan die beoogde skuif – vererger deur die valutakoers – kan jou planne heeltemal omvergooi.

Hier is ’n paar nie so voor die hand liggende kostes wat jy moet in ag neem wanneer jy emigreer.

Verkenningskoste

Voordat jy die lewensveranderende besluit neem om permanent na ’n vreemde land te verhuis, sal jy waarskynlik eers op ’n verkenningstog daarheen gaan om die sake- en/of werksgeleenthede te ondersoek en ’n paar onderhoude te reël, skole te besoek en ’n algemene gevoel te kry van die land. Jy moet die koste van daardie vlugte, toeristevisums, hotelverblyf en die hoër lewenskoste in ag neem.

Die tydsfaktor

Wat dikwels nie by die begroting ingesluit word nie, is die geweldige hoeveelheid tyd wat die hele emigrasieproses in beslag neem. Dit sluit in navorsing en leeswerk, konsultasie administrasie, papierwerk en in rye staan, oorsese reise, die verkoop van jou huis, die kry van kwotasies en onderhandelinge, die verkoop van jou meubels en inpak, en om jou kinders by skole in te skryf. Hierdie tyd kan direk omgesit word in ‘n verlies aan inkomste en verdienste op ’n tydstip wat jou uitgawes daagliks toeneem. Dit is moeilik om die koste van verlore geleenthede tydens die beplanning van emigrasie te bereken, maar dit moet in ag geneem word.

Aansoeke en visums

Die koste verbonde aan aansoeke vir werkvisums en permanente verblyf wissel van land tot land. Dit sluit egter gewoonlik die koste van visums en/of permitaansoeke in asook die koste van agentskappe, biometrie, taaltoetse, paspoorte, mediese ondersoeke, polisieklaring en die assessering van kwalifikasies en ervaring. Party van dié kostes is vooraf betaalbaar en ander eers later in die aansoekproses. Hou in gedagte dat hierdie kostes nie verhaalbaar is as jou aansoek onsuksesvol is nie, en dat jy die hele proses sal moet herhaal vir jou land van tweede keuse.

Mislukte emigrasie

’n Belangrike faktor wat jy moet in ag neem, is die moontlikheid van mislukte emigrasie. Onthou, as jy besluit om finansieel te emigreer, word daar aanvaar dat jy van al jou bates (buiten vaste eiendom) wêreldwyd ontslae raak en daarop kapitaalwinsbelasting moet betaal. Dit beteken jy kan aanspreeklik wees vir kapitaalwinsbelasting op bates wat jy dalk eers veel later in die toekoms wil verkoop. As jy binne vyf jaar ná finansiële emigrasie na Suid-Afrika terugkeer, word dit as ’n mislukte emigrasie beskou en sal jy alle belasting wat in Suid-Afrika betaalbaar sou wees, terugwerkend moet betaal.

Inpak en verhuising

Wat dit sal kos om jou meubels, toerusting, klere en persoonlike besittings in te pak, sal grootliks afhang van hoeveel goed jy wil saamneem. Emigrasiekundiges raai Suid-Afrikaners aan om baie selektief te wees met wat hulle saamneem. Baie Suid-Afrikaanse toestelle werk nie in die buiteland nie omdat die elektriese spanning verskil. Baie Suid-Afrikaners neem te veel meubels saam omdat Suid-Afrikaanse huise baie groter is as dié in ander lande. Aan die ander kant sal jy waarskynlik jou meubels en toerusting in Suid-Afrika verkoop vir ’n fraksie van wat dit werd is, terwyl jy die volle prys in buitelandse valuta aan die ander kant moet betaal – en daardie koste moet byreken.

Verskeping

Hou in gedagte dat jou goedere waarskynlik vir ’n tyd in Suid-Afrika gestoor sal moet word voordat dit verskeep word en aan die ander kant ook weer – afhangend van jou tydsberekening – en dat bergingskoste betaal moet word. Jy moet ook reël vir versekering tydens verpakking, berging, vervoer en uitpak van jou goedere.

Emigrasiekonsultante

As jy ’n emigrasiespesialis in diens neem, moet jy dié koste in jou begroting insluit. Sulke ondernemings bied ’n wye reeks dienste, insluitend advies oor en hulp met voorafassesserings, visumaansoeke, hervestiging van besighede, regsaspekte, valutabeheer, aansoeke om permanente verblyfreg, immigrasiestrategieë en selfs litigasie. Afhangend van die kompleksiteit van jou omstandighede, kan hierdie koste ’n aansienlike bedrag beloop.

Reis- en gepaardgaande koste

Natuurlik sluit ’n mens die koste van vlugte en reisgeld in jou begroting in, maar daar is ook verborge koste verbonde aan die werklike verhuising na jou nuwe land as jy verblyf moet betaal omdat jy nog nie ’n geskikte eiendom daar gevind het nie. Dit kan huurgeld, hotelkoste of Airbnb insluit.

Hervestiging van troeteldiere

Elke land het sy eie reëls rakende troeteldiere. Sommige lande, soos Australië, vereis dat jou troeteldiere vir ’n tydperk in kwarantyn geplaas word. Bo en behalwe die koste om ’n troeteldier fisies na ’n ander land te vervoer, moet jy ook begroot vir veeartse, mikroskyfies, inentings, hondsdolheidstoetse, invoerpermitte, kwarantyn en gesondheidsertifikate.

Eiendomsagente

As jy jou huis en/of ander eiendomme verkoop, moet jy as verkoper die agent se kommissie betaal; dit kan 4% tot 7% van die verkoopkoste beloop. Dit is raadsaam om vooraf met die agent te onderhandel oor die kommissie en die ooreenkoms op skrif te stel aangesien dit ’n aansienlike bedrag kan beloop. Dokumenteer presies wat die eiendomsagent vir jou gaan doen ten opsigte van bemarking en advertering van jou eiendom, die bestuur van skouhuise, die aanlyn publikasie van foto’s en video’s, ensovoorts.

Voertuie en bestuurderslisensies

As jy van plan is om in die nuwe land ’n voertuig te koop, moet jy nie vergeet om die koste van voertuigregistrasie en -lisensiëring in ag te neem nie. In sommige lande, soos Australië, kan die koste enorm wees. Daar kan ook van jou verwag word om ’n plaaslike rybewys te bekom, en daar sal kostes daaraan verbonde wees.

Die algemene lewenskoste

Oor die algemeen is die lewenskoste in ander eerstewêreldse stede hoër as dié in Suid-Afrika. Met Expatistan kan ’n mens die lewenskoste in verskillende stede reg oor die wêreld vergelyk. Daarvolgens is die lewenskoste in Toronto byvoorbeeld 86% hoër as in Kaapstad en is vervoer en behuising die grootste uitgawes. Die lewenskoste in Brisbane is 72% hoër as in Kaapstad, en huisvesting kos 63% meer. Om in Londen te woon, kos 134% meer as om in Kaapstad te woon; huisvesting kos 151%, vervoer 236% en voedsel 81% meer. Dit is noodsaaklik dat jy navorsing doen oor die lewenskoste in die stad van jou keuse voordat jy besluit om te verhuis.

Gesondheidsversekering

Weer eens het elke land sy eie reëls oor immigrante en gesondheidsversekering. Daar kan van jou verwag word om belasting te betaal voordat jy die land binnekom om toegang tot die gesondheidsorgstelsel te verkry. Jou visum kan ook vereis dat jy privaat gesondheidsversekering het. Dit sal verstandig wees om die koste van dekking soortgelyk aan wat jy in Suid-Afrika het in jou nuwe land te ondersoek en jou en jou gesin se bestaande kwale in ag te neem.

Skoolgeld

Doen jou huiswerk oor skoolgeld voordat jy emigreer. Private onderwys in die buiteland kos dalk baie meer as ons plaaslike privaatskole. Jy mag dalk in jou nuwe land kwalifiseer vir “‘gratis” onderwys, maar die gehalte is nie noodwendig hoog nie. Voordat jy aanvaar dat jou kind gratis onderwys gaan geniet, moet jy seker maak dat jy appels met appels vergelyk. Volgens New World Immigration se webwerf kan privaat onderrig in Australië tussen A$ 23 000 en A$ 40 000 (R230 000 en R400 000) per jaar kos. Hou ook die koste van nuwe uniforms, skryfbehoeftes en ander skoolbenodigdhede in gedagte.

Nutsdienste

Jy sal waarskynlik deposito’s, installasie- en aansluitingsgelde moet betaal vir nutsdienste soos vesel- en internetverbinding. Dit sal ook die moeite werd wees om vooraf vas te stel wat selfoon- en bankkoste sal beloop. Die koste van huishoudelike skoonmaakdienste, veral in lande soos Australië, Kanada en die Verenigde Koninkryk, is buitengewoon hoog; as jy beplan om ’n skoonmaker of skoonmaakdiens te gebruik, moet jy daarvoor begroot.

Vliegtuigkaartjies om familie te besoek

Dit sal die moeite werd wees om vliegtuigkaartjies na en van Suid-Afrika vir besoeke aan familie en vriende in berekening te bring. Al is jy dalk nie van plan om gou terug te kom nie, kan troues, siekte, begrafnisse en ander geleenthede ’n besoek noodsaak.

Klere

Afhangend van waarheen jy verhuis, kan dit nodig wees om ekstra koste vir klere aan te gaan. As jy na ’n land soos Kanada of die Verenigde Koninkryk gaan, moet jy belê in stewels, jasse, handskoene en ander items vir ’n baie koue klimaat.

Finansiële emigrasie

Finansiële emigrasie beëindig jou status as ingesete belastingbetaler (tax resident) by die SAID en jou status vir valutabeheer by die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Dit is belangrik dat jy die gevolge van finansiële emigrasie ten volle begryp voordat jy daarvoor aansoek doen. Finansiële emigrasie beïnvloed byvoorbeeld jou plaaslike bankdienste en toegang tot krediet, aangesien jy na voltooiing van die proses nie meer as ’n SA burger beskou word nie. Jy sal dan onderhewig wees aan die leningswette vir buitelanders. Dit kan jou vermoë beïnvloed om jou finansies doeltreffend te hanteer.

As jy lid is van ’n pensioen- of voorsorgfonds en besluit om voor die normale aftree-ouderdom te emigreer, mag jy die volle bedrag aan die fonds onttrek. As jou finansiële emigrasie deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank erken is, mag jy ook die volle waarde van jou uittree-annuïteite en bewaringsfondse onttrek. Hou egter in gedagte dat jy belasting sal moet betaal volgens die tabel vir die onttrekking van voordele voor aftrede.

Hierdie artikel het oorspronklik op Moneyweb se webtuiste verskyn: https://www.moneyweb.co.za/financial-advisor-views/emigration-the-costs-of-leaving-south-africa/ 

 

Oor ons

Craig Torr het ’n BComm-graad aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Hy is ’n Gesertifiseerde Finansiële Beplanner® en het ’n passie om kliënte te help om volhoubare welvaart te skep. Craig is ’n direkteur en aandeelhouer van Crue Invest (Edms.) Bpk. wat hy in 2004 saam met sy vrou Sue gestig het. Hulle het die onderneming organies laat groei tot die nispraktyk vir finansiële beplanning. Besoek https://www.crue.co.za

LEES OOK: Die emosionele koste om jou land te verlaat

Foto: sharon-yanai-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest