Vroeg in 2004 klim ons gesin in Auckland Nieu-Seeland af met ons totale aardse besittings in vier tasse en NZ$6 000 in ons sak. Dit was die begin van ’n nuwe lewe en groot avontuur. Ons trek in ’n huis in wat deel van my man Tobie se werkspakket uitmaak. Hy melk koeie vir ’n familieboerdery en ons is op ander mense se goedhartigheid aangewese. Ons kry ’n ou, lendelam uitslaanbankie en twee enkelbedbasisse by ons werkgewers, en koop vir onsself ’n goedkoop bedbasis met ’n sponsmatras by The Warehouse. Ek kry ’n ou dubbelbaliewasmasjien. Ons skaf ’n kombuisstel aan wat die noodsaaklikste kombuistoebehore bevat en is in die sewende hemel met ons “nuwe” besittings. Ons ry met ’n slawemotor rond wat ons geleen het by die persoon wat ons gehelp het om werk in Nieu-Zeeland te kry, totdat ons ons eie motor kan koop. Met ’n skamele NZ$2 800 koop ons ’n tweedehandse motor en ry die wêreld plat daarmee.

In Junie 2004 doen ons saam met al die ander melkboere die “gypsey run” en trek na die volgende plaas. Dáár koop ons weer ’n tweedehandse sitkamerstelletjie en by The Warehouse ’n goedkoop eetkamertafel en -stoele, wat my man self aanmekaar skroef. Ek loop deur die Salvation Army en die SPCA se winkels en koop tweedehandse beddegoed, klere, borde, bekers en messe en vurke vir ’n appel en ’n ei.

Stadig maar seker maak ek ons huis ons tuiste en stadig maar seker begin ons weer opgaar. Ná twee jaar in Nieu-Zeeland is ons so bevoorreg om ons eerste huis te koop. Intussen het ons twee ander karre aangeskaf, asook tuingereedskap, ’n groot springmat vir die kinders en ’n nuwe sitkamerstel, om maar ’n paar goed op te noem.

Intussen besluit my man dat die melkboerdery nie vir hom is nie en hy gaan studeer toe verpleging. Ná hy sy studies voltooi, besluit hy om vir ses maande lank ondervinding in die Outback van Australië te gaan opdoen. Ek was nog altyd ’n vrou wat sonder ’n man kon klaarkom, maar met ’n tienerseun in die huis besluit ek toe dat dit wel tot my seun se oorlewingsbelang sal wees om nader aan sy pa se genade te wees.

Só pak ons weer vier tasse en stoor al ons meubels, want van voor af begin ek nie weer nie. Ek en die kinders vlieg Darwin toe en die plan is dat ons vir die volgende 6 maande saam met Tobie in Kalkaringi gaan woon. Ek gaan die kinders tuis onderrig. Ses maande word toe vier jaar, waarvan meubels en huise deel is van die pakket. Ek begin weer as ’n kleuterskoolonderwyseres werk en ons bly heerlik. Ons kry ’n dierbare hond, Max, ’n 2m x 4m-plastiekopslaanswembad (in die somer styg die temperatuur soms tot 50 °C), ’n mikrogolfoond, kamptoerusting en ’n grassnyer by, asook ’n trapmeule (Engels: treadmill). Tobie is baie lief vir jag en hy skaf nog ’n paar gewere en ’n nuwe bakkie aan, waarmee hy wilde kamele, donkies en beeste jag. En ons kamp in die bos.

Intussen het Tobie homself deur verdere studies as ’n verplegingspraktisyn bekwaam, maar die beroepsgeleenthede in die Noordelike Gebied is skaars. Hy kry werk in Queensland en ons pak weer ’n trok vol opgegaarde “noodsaaklikhede” in om saam te trek na ons nuwe tuiste in Alpha, ’n dorpie van ongeveer 450 mense. Ons pak die 2 493 km-tog van Darwin tot in Alpha met die bakkie aan met die hond, ons dogter en van ons aardse besittings agterop. My man se pakket sluit weer ’n massiewe ou huis in (voorheen die dokter se woning en spreekkamer) wat een uitslaanbank en ’n dubbelbed insluit. Ons skaf weereens ’n tweedehandse bed aan (iemand het selfmoord gepleeg en die bed was teen ’n billike prys beskikbaar). Ek koop ’n opslaankamptafel en goedkoop Kmart-stoele vir ’n eetkamertafel. Tobie koop die baie belangrike braaier. Vir die eerste keer in ’n lang tyd hou ek nie skool nie, want die skool het net 35 leerlinge en daar is geen vakante poste nie. So begin ek my liefde vir alle soorte kuns beoefen. Dus is daar nou ook verf, verfkwaste, materiaal, penne, potlode, verfdoeke en tekenboeke tot die baie belangrike “noodsaaklikhede” toegevoeg.

Tydens ons verblyf in Kalkaringi het ons ook ’n vakansiehuis in Nieu-Zeeland (Coopers Beach) aangeskaf. Ek sien ’n kleuterskool in Coopers Beach adverteer ‘n pos … en só trek ons weer terug Nieu-Zeeland toe; hierdie keer kom die kar en die meeste van die “noodsaaklikhede” saam. Die hond word ten duurste Nieu-Zeeland toe gevlieg en ons gestoorde meubels word weer uitgepak en afgestof. Die huis wat ons gekoop het, het ook aan onverskrokke reisigers behoort en ons koop dit met meubels en kar op die koop toe. Nou het ons weer twee huise se meubels en twee karre.

Binne twee jaar koop ons ’n restourasieprojek en ombou die hele huis. Hier gaan ek aftree …

Helaas! Vier jaar later, ten spyte van ’n hemelse daaglikse uitsig oor Mangonui-hawe, lyk die gras weer groener aan die ander kant van die draad … en vir die negende keer in 15 jaar trek ons weer. Van die bopunt van die Noord-Eiland van Nieu-Zeeland tot by die onderpunt van Nieu-Zeeland:  Palmerston North.

Ek het ’n sterk vermoede hierdie is nie die laaste trek nie …

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Charlé Klopper
Charlé Klopper
Charlé Klopper woon in Mangonui, Nieu-Seeland. Charlé is ’n bestuurder by ’n kleuterskool en haar man, Tobie, is ’n verplegingspraktisyn.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest