Leesvordering:

Etiket in jou reistas – want niemand is ’n eiland nie

Apr 8, 2021

Ons almal droom oor die wonders van reis – om nuwe juwele te ontdek, kulture en mense te leer ken en ervaar. Sekere kulturele praktyke en etiket is voor die hand liggend terwyl ons totaal in die duister is oor ander.

Ons het dus besluit om jou touwys te maak met ’n paar wenke oor ander lande se kulture en praktyke voordat jy jou volgende vliegtuigkaartjie bespreek. Of jy nou in die buiteland gaan sake doen of vakansie hou, jy gaan met daardie land se kultuur en gebruike te doen kry.

Frankryk

Frankryk is ’n welbekende toeristebestemming wat ons almal droom om eendag te besoek – van die ikoniese Eiffeltoring in Parys tot die makrolletjies (macaroons) en keisteenstegies. Hier is ’n paar goed wat jy moet weet voordat jy na die land van romanse vertrek.

Soengroet

Party van ons is mos mal daaroor om ons familie en vriende te soengroet; vir ander waai ons of gee hulle ’n handdruk. Die Franse groet deur vorentoe te leun, aan die persoon se wange te raak en soengeluide met hulle lippe te maak. Dié praktyk word La Bise genoem en word al van jongs af by kinders aangemoedig.

Agteros kom ook (op die ou end) in die kraal

  • Moenie kwaad raak as iemand voor jou indruk terwyl jy in Frankryk in ’n ry staan en wag nie; dit word nie as abnormaal of onbeskof beskou nie, maar eerder as die alledaagse norm.
  • Diens in Frankryk is oor die algemeen stadig. In ’n winkel sal verkoopsagente jou nie dadelik help nie en in restaurante sal ’n kelner jou ook baie tyd gee voordat hulle jou bestelling neem. Die Franse glo dit is belangrik dat jy genoeg tyd moet hê om dinge rustig deur te dink.

Indië

Indië het beslis meer om te bied as net speserye en Bollywood. Die land is ryk aan kultuur, tradisies en godsdienste. Hier is ’n paar goed wat jy moet weet voordat jy na dié land van kleurryke wonders vertrek:

Liggaamsetiket

  • Groet met namaste: Plaas jou handpalms teen mekaar en buig effens om respek te toon. Indiese mans groet mekaar wel met ’n handdruk, maar vrouens nie. Indiese vroue mag Westerse vroue ’n handdruk gee, maar nie vir mans nie.
  • Gebruik slegs jou regterhand om aan iemand te raak, geld te oorhandig of handelsware op te tel; die linkerhand word as onrein beskou.
  • Moenie aan enigiemand se kop raak nie; die kop word as sensitief beskou.

Vir besigheid

  • Bied altyd jou besigheidskaartjie aan wanneer jy bekendgestel word. Engels is geskik vir besigheidskaartjies.
  • Tydens ’n vergadering kan jy dalk soet, melkerige tee aangebied word; moet dit nie weier nie.
  • Besigheid in Indië is moeilik en stadig. Moenie ongeduldig of kwaad raak nie. Wees eerder beleefd en ferm wanneer jy ’n versoek herhaal.

Japan

Japan, die land van die opkomende son, is bekend vir sy eeue oue kultuur en tradisies, maar ook daarvoor dat hy aan die voorpunt van voortdurende modernisering en ontwikkeling is. Om dié rede is dit moeilik om hulle kultuur en gewoontes te verstaan. Hier is ’n paar goed wat jy moet weet voordat jy na die land van vuurspuwende berge, geisjas, samoerai-swaarde, soemo-stoei en kersiebloeisels vertrek.

Tafelmaniere

  • Om jou noedels met ’n harde geluid op te slurp, word nie as onbeskof beskou nie maar eerder as ’n teken dat jy jou maaltyd baie geniet!
  • Drink ’n koppie tee met beide hande – sonder om ’n geluid te maak. Indien jou tee te warm is, moenie daaroor blaas nie; wag eerder dat dit afkoel. Maar moenie te lank wag nie, want dit word as onbeskof beskou.
  • Moenie eet of drink terwyl jy in die publiek rondloop nie; dit word as onbeskof beskou.

Kleredrag

  • Wanneer jy besluit wat om in te pak, hou in gedagte dat Japanse kleredrag relatief konserwatief is. Vroue moet verkieslik bloese dra wat hulle skouers toemaak. Vir besigheid is ’n langbroek met ’n bloes ideaal. Japanse vroue dra ook nie naellak nie. ’n Donker pak met ’n blou of wit hemp is gepas vir mans op ’n sakereis.
  • Trek jou skoene uit voordat jy iemand se huis binnegaan; dit word as goed gemanierd beskou.

Texas

Howdy, partners! Texas is een van die grootste Amerikaanse state en is sinoniem met cowboys, stewels, barbeque, rodeo’s en lyndanse. Hier is ’n paar goed wat jy moet weet voordat jy yee-haw skree.

Eerste indrukke tel!

  • In Texas word eerste indrukke nie op jou voorkoms of aksent gebaseer nie, maar op jou handdruk, so oefen indien jy ’n sterk greep het.
  • Texane is oor die algemeen baie gaaf en vriendelik en hulle hou graag deure oop vir vreemdelinge. Moet dus nie jou maniere vergeet nie – hou deure oop en sê asseblief en dankie.

“Don’t mess with Texas.”

Alhoewel Texane oor die algemeen baie vriendelik is, moet jy die volgende vraag en stelling liewer vermy:

  • “Het jy ’n geweer by jou?” Die meeste Texane dra wel ’n geweer, maar moenie dié feit veralgemeen nie.
  • “Dis warm buite.” Die somertemperature in Texas kan vinnig ondraaglik raak, maar dit help nie jy kla daaroor nie; almal kry warm en sweet. Sommige Texane verkies ook die weer só.

Ethiopië

Welkom in die land van koffie en heuning! Ethiopië is gewoonlik nie een van die eerste plekke wat ’n mens vir vakansie sal oorweeg nie, maar die land bied besoekers ’n pragtige natuurskoon, Afrika-kultuur en wêreldbekende koffie. Hier is dus ’n paar goed wat jy moet weet voordat jy na dié land op eie bodem vertrek.

Kleredrag

  • Vroue wat ’n godsdienstige byeenkoms gaan bywoon, moet sorg dat hulle kop, skouers en knieë bedek is.
  • Vroue moet lang bloese van ligte materiaal, langbroeke, sarong en ligte stapskoene inpak.
  • Mans moet langbroeke en hemde inpak.

Geen foto’s nie!

  • Moenie foto’s neem van regeringsgeboue of ambassades nie; dit is verbode.
  • Moenie foto’s neem van mense sonder hulle toestemming nie; dit word as “diefstal” beskou.

Of jy nou na die noorde of die ooste reis, onthou, jy is ’n gas in iemand anders se land net soos jy ’n gas in iemand anders se huis is wanneer jy gaan kuier!

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest