Die dag van 23 Maart kon nie gou genoeg aanbreek nie – ons Europa-reis. Met die intrap op die vliegtuig sê ek vir my kêrel, dis vreemd dat ons in ry 13 sit omdat die meeste lugrederye nie ’n ry 13 het nie. Dit is mos ’n bygeloof dat 13 ’n ongelukkige getal is. Maar ag, dit pla my glad nie. Inteendeel, hou ek juis van sulke getalle.

Ek sit lekker gemaklik in die sitplek en die vliegtuig beweeg agteruit – ons gaan mos nou opstyg. Net om sekondes later weer terug na die parkeerarea te beweeg. Die luidspreker gaan aan en dis die kaptein: “Ladies and gentlemen, we have a technical problem with the left engine”. So het ons vakansie begin.

Ons het goedkoop vliegtuigkaartjies met Air Ethiopia gekry en dit met albei hande aangegryp omdat ’n euro effe duurder is as die rand. Vyftien rand vir een euro jaag mens nogal die skrik op die lyf wanneer mens moet beplan vir ’n vakansie in Europa.

Parys, die stad van liefde, saam met my geliefde. Ons het vroeg die Saterdagoggend op Charles de Gaulle geland. Daardie tyd van die oggend is daar nog nie personeel om die benoude, moeë toeriste te help nie, toe gryp ek maar die eerste die beste man wat lyk of hy half kan Engels praat. Dié kom toe van Rusland af, is self ’n besoeker. Met ’n gesukkel uiteindelik ’n treinkaartjie na Parys gekoop, op die trein geklim en deur die venster na die mooi landskappe gestaar. Opgewonde.

Dis nie net in Suid-Afrika waar daar aan paaie gewerk word nie, kom ons toe agter, soekend na ons hotel deur die strate wat toegespan is. Daar was ongelukkig nie kans vir ’n stort en ’n vinnige oogknip nie, maar ons kon darem ons tasse daar laat. Parys slaap nog, alles is doodstil en dolleeg. Niemand in sig nie, maar ’n paar koffiewinkels is al oop. Verder voel dit soos ’n spookdorp. Winkels maak eers 10:00 en ander 14:00 oop. Gelukkig is dit nooit te vroeg vir koffie nie.

Soos ons aanstap na Notre Dame, begin die stad ontwaak en meer mense is te sien. Dit is regtig ongelooflik. Die geboue, die mense, die kultuur en hoe alles inmekaar pas. As jy net drie dae in Parys het, stap jy tot jou voete pyn, jou keel kraak van die dors en jou maag van hongerpyne grom.

Met die rooi opklim-afklim-bus het ons al die groot toeristeplekke besoek. Arc de Triomphe, Champs-Elysées, Paleis van Versailles, Sacré-Coeur, Montmartre, Moulin Rouge en natuurlik vir Mona Lisa by die Louvre. Ons het vier uur lank in die Louvre rondgeloop met ’n oudiomasjientjie wat elke skildery, standbeeld en tapisserie verduidelik. Die Louvre is ’n moet en mens kan maklik een hele dag daar deurbring

Ons tweede stop was Amsterdam. Ons het dadelik ’n City Tour-kaartjie gekoop waarmee jy met ’n opklim-afklim-bus en trein die stad kan verken. Die opvallendste vir my was hoe besig die strate van Amsterdam is. Waar ons van kleins af geleer is om regs, links, regs te kyk, moet jy daar omtrent 360 grade kyk voordat jy ’n tree gee. Motors, fietse, treine, trems, busse en voetgangers. Almal beweeg tegelyk. En natuurlik is die strate nog besiger wanneer die son skyn. Banke word buitentoe gedra, daar word by die vensters uitgehang en elke sonstraal word opgeslurp. Dit is ’n feestelike atmosfeer, orals word daar gekuier en die lente word gevier.

Museums moet vooruit bespreek word, anders staan jy nie ‘n kans nie. Daar is soveel toeriste in rye orals om die Van Gogh- en Rijksmuseums. Foto’s moet ook mooi beplan word, want jy dink nog jy neem ‘n foto van jouself, dan is daar 30 vreemdelinge in. Gelukkig vertel elkeen sy eie storie.

Die Heineken Experience is presies wat dit sê, ’n belewenis. Nie net is ons die geskiedenis van Heineken vertel nie, maar jy ervaar die proses hoe dit gemaak, gebottel, verpak en versprei word. Dit alles ‘n 3D-virtuele toer. Die toer sluit natuurlik af met ’n yskoue Heineken.

Om te eet is daar patates frites, krokette, stroopwafels, bitterballe, daar is te veel lekker eetgoed om te noem en te eet. G’n wonder almal ry fiets nie, want almal eet so lekker. Parkeerareas met drie vloere vol fietse. Daar is ongeveer 850 000 fietse in Amsterdam, waarvan so 15 000 elke jaar uit die kanale gehaal word.

In Luxemburg het ons ’n mooi dorpie besoek, Vianden. Die Vianden-kasteel is een van die grootste gefortifiseerde kastele wes van die Rynrivier. Dit is ’n heerlike daguitstappie, met die klem op stappie. Die kasteel staan 310 m hoog op ’n rots en kyk uit oor die dorp. Nadat ons die kasteel besoek het, het ons die dag afgesluit met ’n warm pizza en egte Duitse bier.

Ons het ook Trier in Duitsland besoek, baie naby die grens met Luxemburg. Hulle sê Trier is die oudste stad in Duitsland, en dit staan ook bekend as die Rome van die Noorde. Saterdae wemel die plein van inwoners en toeriste. Reuke van varsgebakte pretzels (groter as ’n bord) bedek met gesmelte kaas hang in die lug. Inwoners van Luxemburg gaan dikwels na Trier om inkopies te doen, dit is ’n bietjie goedkoper. Al wat jy goedkoper sal kry in Luxemburg, is drank en petrol.

Ons laaste stop was Lingen, ook in Duitsland. Die eerste vraag op almal se lippe was waar is dit? Hoekom daarheen? Hoekom nie Hamburg, München of Frankfurt nie? Nou, die hele rede vir hierdie reis was dat ons na ’n troue genooi is. Een van ons pelle gaan trou met ’n Duitser en wie kan nou nee sê vir ’n troue? Dit was ongelooflik.

Die bruidspaar het voor die magistraat getrou in die ou magistraatgebou op die markplein. Daarna kon almal wat die bruidspaar wou gelukwens, ‘n glasie sjampanje klink en kuier op die plein. Vanaf die plein het ons almal na Hotel Am Wasserfall beweeg. Dit beteken hotel by die waterval, waar die bruidegom ook ’n waterval beleef het toe hy sy toespraak moes lewer. Almal in trane orals waar jy kyk, en die toespraak was boonop helfte in Duits en helfte in Afrikaans.

Laatmiddag het ons op ’n boot op die kanaal gevaar en sewe verskillende soorte koek en koffie geniet. Hier word daar baie geëet en gedrink en partytjie gehou. Die streek, Emsland, is bekend vir sy schnapps. Lemoen-, ment- en kersieschnapps word vir almal uitgedeel om op Pieter en Heike Schuurman se geluk te drink. Van daar is almal na Heike se ouerhuis, waar die feesvieringe voortgesit is. ’n Lang tafel met brode, kase, kouevleise en smere om verder aan te peusel.

Ons het gekuier tot middernag toe die wind begin opsteek en die varkhok omwaai. Die varkhok is deur die Suid-Afrikaners gebou met al die leë scnappsbotteltjies. Die toring het 62 verdiepings gehaal, 124 botteltjies. Dit was ’n troue wat ek nooit sal vergeet nie.

Wenke vir reisigers

  • Pak lig, my ma het my vooraf gewaarsku – maar wie luister nou na jou ma? My redenasie was dat ek nie op al die foto’s dieselfde wou lyk nie. Maar wie gee om? Die foto’s vertel ’n storie van die plek wat jy besoek, nie jou klere nie. Jy wil jou nie dooddra aan tasse nie.
  • Europese lughawens is groot. As jy nie die lughawe ken nie, wees betyds. Soms vat dit ure om te kom waar jy moet wees.
  • Indien jy museums en toeriste-aantreklikhede wil besoek – koop vooraf kaartjies. Dit voorkom dat jy in ellelange toue moet staan en voorkom teleurstelling.
  • Beplan alles wat jy wil sien vooraf. Jy vergeet as jy daar is, want daar is soveel plekke om te sien en dinge om te doen.
  • Laai ’n kaart af van die areas wat jy gaan besoek. Wi-Fi is ongelukkig nie orals beskikbaar nie.
  • Pak gemaklike stapskoene in, jy is heeldag op jou voete.
  • Pak ’n paar energiestafies in as jy vinnig honger raak, dan hoef jy nie iewers uit te loop net omdat jy honger is nie.
  • Dra altyd kleingeld by jou. Om ’n publieke badkamer te gebruik, kos tussen 50c en €1

 

Nou beplan ons die volgende reis … na Italië!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest