Deel 2

El Nido, oftewel “Die Nes”, is ietwat van ’n deurmekaar nes.

Rye en rye spoeg-en-plak-gastehuise, tweesterhotelle en restaurante waarvoor ’n Michelinster tot in lengte van dae ’n galaktiese hersenskim sal wees, wedywer langs die smal, stowwerige straatjies vir ’n plekkie in die son. Dít terwyl dosyne tricycles – driewielmotorfietse wat as riksjas diens doen – mekaar verdring in hul strewe om nóg ’n passasier op te laai. In die ganse dorp is daar nie ’n enkele supermark te vinde nie, terwyl jy hárd en vér gaan moet soek vir ’n “trendy bar” of ’n “hip eatery”. Maar vir die inwoners van El Nido, wat almal vir hul lewenslus op toerisme staatmaak, maak dit nie saak nie. Want uiteindelik is dit nie wat binne die dorp se grense lê wat toeriste na Die Nes lok nie …

Die natuurskoon waardeur El Nido omring word, is enige reisagentskap se droom. Jy kan jou kamera in enige rigting draai, die knoppie druk, en die eindproduk sal welverdiend op die voorblad van die volgende maand se brosjure kan pryk. Carlsberg doen nie tropiese eilande nie, maar as hulle hét, sou hulle ’n spieëlbeeld van Die Nes gewees het.

’n  Beduidende hoeveelheid van die 7 107 Filippynse eilande word in die kristalhelder waters rondom El Nido aangetref, en die beste … wel … die enigste manier om dit te verken, is om ’n plaaslike reisagentskap ’n paar peso’s in die hand te stop in ruil daarvoor dat húlle die logistieke struikelblokke uit die weg ruim wat met só ’n besigtigingstoer gepaard gaan. ’n  Skuit word vroegoggend bestyg, en vir die volle duur van die dag word jy, en wie ook al saam met jou op daardie skuit is, van die een eiland na die volgende geneem om te “oe” en te “aah” oor wat waarskynlik van die mees asemrowende see-en-strandtonele ter wêreld is. In die Palawanse volksmond staan só ’n dag as “island hopping” bekend, hoewel die enigste werklike “hopping” plaasvind nadat jy met ’n kaal voet op ’n skulp getrap het.

Die laaste keer wat ek ’n snorkel-en-duikbrilensemble gebruik het, was in circa 1987, toe ek en my beste pel (wat terloops ook die kaptein was van ons bende “Die Swerkaters”) 20c-stukke uit sy pa se swembad geduik het. Ek was daarom (letterlik) kinderlik opgewonde oor die vooruitsig om tydens ons island hopping-extravaganza weer die geleentheid te kry om my te verbeel dat ek ’n padda is.

Sommer vroeg-vroeg op die eerste dag is ons skuit se enjins stilgemaak terwyl ons gedobber het bo wat deur die gids beskryf is as “one of the nicest coral reefs in the Philippines”. Ek het my paddapote aangetrek en oor die skuit se rand die water ingespring. Vir ’n wyle het ek gestaan en water trap terwyl ek my duikbril en snorkel in plek geplaas het. En toe druk ek my kop ónder die water in …

Ek is nie seker wat ek verwag het om te sien nie. Miskien ’n vissie of twee in die verte. Of dalk, as die geluk aan my kant was, ’n hele skool visse doer in die verte. Maar wat ek wél gesien het toe my oë tot onder die watervlak gedaal het, het my kop instinktief laat terugruk, en my laat verstik aan die lag wat onkeerbaar in my keel opgestoot het. Ek kon my oë nie glo nie …

Lees ook: Filippyne – Deel 1

Daar was visse óral rondom my! Honderde, duisende van hulle! En nie babers of karpe of enige ander vaalvissies nie – tropiese visse in al die kleure van die reënboog. Ek kon tot téénaan ’n skool van hulle swem, en met ’n beweging van my arm die groep dissekteer. Of ’n ou grote agtervolg en kyk waarmee hy hom besig hou. ’n Vis is nou nie eintlik ’n dier waarmee ’n mens ’n emosionele band kan smee nie, maar dit het kompleet gevoel asof ek en daardie visse ’n oomblik gedeel het.

Vir lang rukke het ek met my gesig na onder op die oppervlak gedobber en gegaan waarheen die gety my gevat het. In daardie oomblikke waarin koraalriwwe en visse in alle groottes, vorms en kleure by my verby geskuif het, het tyd en ruimte ophou bestaan. Dit was so naby aan ’n buiteliggaamlike ondervinding as wat ek al ooit beleef het, en dit het maar net nogmaals die besef by my tuisgebring dat homo sapiens eintlik maar onder die heel vaalste wesens in die heelal tel.

Lees volgende week weer verder oor ons avontuur in die Filippyne.

Besoek gerus Fanie se webblad, Fanie Os Oppie Jas, en sy Facebook-blad, Fanie Os Oppie Jas: howzit my China.

Foto’s: Fanie van der Merwe

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest