Deel 3

Ná vier fantastiese dae in El Nido was dit tyd om te verkas. In die erg beknopte maag van ’n tricycle het ons, en ál ons bagasie, vir langer as ’n uur al stampend en skommelend ons weg na ons volgende bestemming gevind. Nacpan is ’n 4 km-lange strook ongerepte kuslyn met wit sand en turkoois water, en hiér sou ons vir die volgende vier dae uitspan. En wanneer ek die woord “ongerep” gebruik, bedoel ek dit letterlik só. By Nacpan gebeur daar elke vyf minute niks, en ’n minuut later volg nóg ’n bietjie niks. Vir ekstra effek.

Ons het ons ingeburger in ’n ekovriendelike (lees “elektrisiteitslose”) houtpondokkie skaars tien meter van die strand af, en met die hipnotiserende geklots van golwe in ons ore en die vooruitsig van vier volle dae se niksdoen, is ons luigatmeters tot diep in die rooi gedruk. Maar kort daarna sou mnr. Noodlot sy verskyning op die toneel maak …

’n Goue reël waarby enige reisiger moet hou, is om die gasheerland se fauna en flora met respek te bejeën. Of dit nou ’n kangaroe in Australië, ’n tulp in Nederland, of ’n boerbok in Zimbabwe is. Die Filippyne beskik nie oor ’n verskeidenheid wildspesies wat vir Richard Attenborough op die volgende vliegtuig sal laat spring nie, maar daar was tóg ’n paar tropiese voëls wat my twee keer laat kyk het, en langs die Nacpan-pad het ek selfs ’n waterbuffel of drie in die verte sien wei. Behalwe vir dié impotente somtotaal kon ek egter geen ander aardsgewemel met die blote oog waarneem nie. Nie dat ’n probleem was nie, want wat die oog nie sien nie maak die hart immers nie seer nie. Maar soos wat ek tot my intense verdriet ontdek het, kan dít wat die oog nié sien nie, wel die dikderm baie, baie seermaak.

Dit het kort ná ons eerste aand se aandete begin – ’n verdagte gesuis hier in my binnegoed. ’n Gesuis wat ek aanvanklik toegeskryf het aan die vertering van die spyse wat ons flussies genuttig het. ’n Doodgewone, alledaagse verskynsel. Maar die gesuis het spoedig tot ’n gerammel ontwikkel, en die gerammel weldra tot ’n geruis. En voordat ek mooi tot verhaal kon kom, het die geruis omgeskakel tot ’n magtige dreuning.

Iewers is iemand wat hier lees dalk besig om ’n maaltyd te nuttig, en daarom sal ek ekonomies met die fyner details omgaan, maar binne die bestek van ’n handvol ure het ek ’n volkome metamorfose ondergaan – van ’n sorgelose vakansieganger tot ’n menslike spuitfontein. ’n Tweekantige menslike spuitfontein, om presies te wees. En hoe hard ek ook al na George geroep het, het hy nooit op my roepstem geantwoord nie …

Soos wat dit gedurende die 1980’s tydens tallose weerbaarheidsklasse by my ingedril is, was dit van die uiterste belang om ook tydens dié krisis kalm te bly. Om nie die kar voor die pêre in te span, die bobbejaan agter die bult te gaan haal, of selfs die baba saam met die badwater uit te gooi nie. Ek was weliswaar besig om my binnegoed in buitegoed om te sit, op ’n godsverlate plek, sonder enige medikasie. Maar ek moes net koelkop bly en die houe op die ken (en die ingewande) vat, want die mikroskopiese skepseltjie wat besig was om verwoesting onder my derms te saai, sou wel weer sy weg uit my uit vind – vroeër of later.

Ongelukkig vir my was dit nie vroeër nie, maar later. Heelwat later. Ek was aanvanklik bang dat ek gaan doodgaan, maar later was ek bang dat ek nié gaan doodgaan nie. Dit was ’n gerillery, ’n gegrillery, ’n gehuilery en ’n geylery, maar van ’n dokter gaan soek wou ek niks weet nie, want ek sou “binnekort weer beter voel”. Maar uiteindelik, ná twee dae en twee nagte se koorsgedrewe oorkokery (en … wel, ónderkokery), het ek die handdoek ingegooi en het ons die uitmergelende terugtog aangepak na die relatiewe beskawing wat El Nido gebied het.

Wanneer ek reis is hospitale nie juis hoog op my lys van besienswaardighede nie – om voor die hand liggende redes. Dié keer was ek egter bereid om ’n uitsondering te maak, maar tot my groot ontsteltenis moes ek hoor dat sover dit gesondheidsorg betref, ’n kliniek die beste was wat El Nido kon bied. Aan die ander kant sou ek op dáárdie stadium enige kwak se behandeling aanvaar het, en derhalwe was die onbesonge Palawan Medical City in my oë op gelyke voet met die beste hospitaal ter wêreld.

Van die uur wat dit ons geneem het om met ’n skedonk van ’n tricycle in El Nido uit te kom kan ek nie veel onthou nie, maar toe ek uiteindelik voor die ontvangsdame by die kliniek stelling inneem, wou-wou my kniegies, à la ’n pasgebore rooibok, net onder my ingee. Maar ondanks my wiebelrigheid is ek ondersoek, en is ek gevra om ’n reeks monsters te verskaf. En dit, gegewe die mediese toestand waarin ek my bevind het, was een van die maklikste doktersversoeke waaraan ek al ooit moes voldoen.

Skaars tien minute later het die uitspraak gevolg: ’n parasiet, met die intimiderende naam “Entamoeba Histolytica”, het hom/haar/dit in my ingewande kom tuismaak. Ek was meer uitgedroog as ’n SAD-rosyntjie, en al wat sou help was ’n dosis antibiotika (binneaars toegedien), gevolg deur ’n sak van die mees voedsame vitamienwater wat die Filippyne kon bied (nogmaals binneaars toegedien).

En daar lê ek toe – op ’n houtbedjie in ’n halfverligte kamer, met breë stroke kleefpleister wat ’n naald so dik soos ’n baba se pinkie in my voorarm in plek hou. Weerloos. Futloos. Kragteloos. Maar danksy oom biotika se vrou (antibiotika) wat begin inskop het, het ’n geveg tot die dood toe tussen my en daai flippen parasiet gewoed. So tussendeur die kom en gaan van my beswymings het ek om die beurt om hulp geroep na my mamma, Kersvader en Naas Botha, maar net soos wat die geval met George was, het daardie pleidooie van my ook op dowe ore geval.

Ná sowat vier uur van wipplankrondes het ek, grootliks danksy die vroeëre binneaarse chemiese hupstoot wat ek gekry het, die oorhand oor die parasiet begin kry. En midde-in die sewende ronde het ek hom uitgeslaan. Nóg ’n uur later kon ek uit my siekbed uit opstaan, en kort voor lank het ons weer koers gekry, terug na ons strandparadys by Nacpan.

Soos wat dikwels die geval is, was daar ook dié keer ’n tikkie geluk by die ongeluk. Voor ons vertrek uit China uit het ek my voorgeneem om elke oggend en elke aand langs die Nacpan-strand te gaan draf, om sodoende ’n duik in die groeiende bultjie hier om my midderif te probeer maak. Om ’n parasiet aan boord te nooi om my behulpsaam te wees met dié doelwit was nie deel van my oorspronklike plan nie, maar nadat ek verskeie kilogramme binne die bestek van drie dae afgeskud het, is ek meer as ooit daarvan oortuig dat die doel altyd die middele heilig. Dus, sover dit gewigsverlieskampanjes betref, kan ek na dese die E. Histolytica-parasiet aanbeveel. Vang sommer vandag nog vir jou een! Dit werk regtig!

Lees volgende week weer verder oor ons avontuur in die Filippyne.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest