Deel 5

Dit is feitlik onmoontlik om enige wêreldstad in ’n enkele woord te beskryf, maar wanneer jy ”grootliks” voor daardie woord plaas, begin jy nader aan die waarheid beweeg. Só is Londen byvoorbeeld grootliks klassiek, New York grootliks polsend, Parys grootliks romanties en Manila grootliks ’n hool (ja, ja – dis twee woorde, maar wie hou telling?).

In my strewe na objektiwiteit gee ek toe dat mens wél van die heel grootste inkopiesentrums in Asië hier sal aantref, en as sestiende-eeuse argitektoniese vernuf jou ding is, sál jy ’n handvol kere spontaan in hoendervleis uitslaan.

Aan die ander kant verdwerg Manila se bevolkingsdigtheid dié van ander berugte mensmiershope soos Kolkata, Shanghai en Hongkong. En omdat daar ’n mens uit elke gaatjie peul, is die verkeer ’n absolute nagmerrie. Om 5 km in ’n taxi af te lê, kan maklik ’n  uur duur – wat dit ’n duur uur kan maak.

Verder lyk dit in die meeste (krotterige) buurte buite die stadskern asof ’n orkaan die vorige aand daar deur is, terwyl die nooddienste nog op pad is – vermoedelik omdat hulle iewers in die verkeer vassit. En dan is daar ook nie eers ’n Big Ben, Colosseum of Eiffeltoring wat die primêre fokus van ’n toeristebesoek kan vorm nie. In ’n neutedop: Manila is nie ’n plek waar ek ooit sal wil woon of vir meer as ’n paar dae sal wil vertoef nie.

Ek hét egter báie gevlei gevoel deur al die aandag wat ek van die skoner geslag gekry het. Die dames in Manila moes iéts in my gesien het, want waar ek ook al gegaan het, is ek begroet met wolwefluite en uitroepe soos “Hey, Sir!” en “Hello, Sir!” Hierdie interaksies het snaaks genoeg nooit plaasgevind wanneer ek vir Michelle langs my gehad het nie, en die frekwensie daarvan het ook merkbaar ná donker toegeneem. Maar watter man se ego sal nou nié gestreel wees wanneer poppies met kort rokkies en lang sigarette vanuit skadukolle op sypaadjies na hom roep nie? Jy weet?

Sowat ’n uur se ry buite Manila lê die Taalvulkaan (geen verwantskap met die Taalmonument nie). Dié vulkaan het reeds 33 keer vantevore tot uitbarsting gekom en hoewel die laaste van hierdie uitbarstings in 1977 was, is daar sedert 1991 tekens te bespeur dat ou Taal sy vere regskud vir ’n nógmaalse vuurspuwingskouspel.

Weens sy onbestendige aard is die Taalvulkaan geoormerk as een van die wêreld se sewentien dekadevulkane – vulkane wat deurlopend gemoniteer word vir tekens van ’n dreigende uitbarsting.

Ondanks die feit dat dit potensieel tot ons einde sou kon lei, het ons tóg gaan kyk wat daar by die Taalvulkaan aangaan. Dit het ’n anderhalfuur se stywe stap geverg om tot by die rand van die krater te vorder, maar ons asems is behóórlik weggeslaan deur wat ons daar aanskou het. Dis bietjie van ’n uitdaging om dié gesig te probeer beskryf – en daarom sal jy na die meegaande foto’s moet kyk om presiés te verstaan wat ek bedoel – maar dosyne opeenvolgende uitbarstings oor millennia heen het die mees skouspelagtige landskap denkbaar tot stand gebring. So, vandag is die Taalvulkaan ’n eiland binne-in ’n meer, op ’n eiland in ’n meer, op ’n eiland in die see. En die groen gras groei daarom.

Met die verloop van twee weke is tientalle brokkies nuttige inligting (en nóg meer brokkies nuttelose inligting) aan ons opgedis. Só het ons byvoorbeeld geleer dat die Republiek van die Filippyne na Koning Philip II van Spanje vernoem is, dat dié die enigste land in Asië is waar Christene (van die Rooms-Katolieke geloof) in die meerderheid is, dat meer as 11% van die land se totale bevolking in die buiteland woon en werk, en dat die Filippynse vlag die enigste een ter wêreld is wat onderstebo gehang word wanneer daar ’n staat van oorlog heers.

Aan die ander kant het ons ook geleer dat misdaadvlakke in Manila tot by 0% val wanneer die Filippynse boksheld Manny Pacquiao deur die toue klim, dat die heel eerste karaokemasjien in 1975 deur ’n Filippynse man gepatenteer is, en dat die wêreldrekord vir die meeste vroue wat gelyktydig geborsvoed het in 2006 in Manila opgestel is.

Die héél belangrikste wat ek egter van die Filippyne ontdek het, is dat jy ver sal moet soek om ’n vriendeliker nasie te vind, ondanks die feit dat die gemiddelde inkomste veel laer is as dié in baie ander ontwikkelende lande. So, die ergste wat jou sal oorkom is dat ’n parasiet vir ’n paar dae ’n gratis rit in jou liggaam sal onderneem. Maar as dít is wat dit kos om ’n wyle in van die mees asemrowende natuurskoon ter wêreld te spandeer, is dit voorwaar ’n klein prys om te betaal.

Lees ook: Fanie Os Oppie Jas: Filippyne

Foto’s: Fanie van der Merwe

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest