Leesvordering:

Feesseisoen in die VSA

Des 15, 2016

As daar een ding is wat die Amerikaners goed doen, dan is dit partytjie hou. Ons dink óns doen dit goed? Asseblief. Hulle vat die koek … en die wyn en die bier en die brood en sommer die piekniekkos ook.

Eerlikwaar, dit is een nasie wat wéét hoe om te eet. Hulle het so te sê ’n kuns daarvan gemaak. Ek dink ek het in die elf maande wat ek hier was agt kilogram opgetel – ek is te bang om op die skaal te klim en vir seker uit te vind.

Kom ons hou ingedagte dat daar meer as een fees gevier word in minder as drie maande: Eerstens, Halloween (en wat is die Afrikaans vir Halloween, in elk geval?), daarna Thanksgiving en dan natuurlik Kersfees, en laastens Nuwejaarsdag. Kom ons hou óók ingedagte dat al hierdie feeste plaasvind in die koudste seisoene van die jaar – herfs en winter – en dat niemand regtig tyd buite spandeer om die ekstra kilo’s af te skud nie. Inteendeel, die weer forseer jou om voor die televisie te parkeer met ’n beker Starbucks Pumpkin Chai Latte en ’n paar Hershey’s S’mores. Hoe sleg klink dit? Ek weet!

Nou ja. Kom ons vergeet van die allerslegste posisie waarin meeste Eerstewêreldse individue hulself bevind, en wend ons fokus op my niksvermoedende, dog uitdagende besluit om vir twaalf maande in die Verenigde State van Amerika (VSA) te kom bly. Op die soete ouderdom van een-en-twintig was ek siek en sat vir my studies, werk en roetine. So, wat anders gemaak as natuurlik oorsee gaan? Ek het my tas gepak, my ouers gegroet en padgegee New York City toe. As au pair kry ek naweke af en is ek gelukkig om die gebruik van ’n kar te hê. ’n Ander voordeel is dat ek ’n uur se treinrit ($12,50) van New York City af bly, so Saterdagoggend klim ek op die trein en kom eers middernag tuis.

My twee weke betaalde verlof het ek opgedeel om die twee kuste van die VSA te sien. My eerste week het ek die weskus besoek – Los Angeles, Grand Canyon, Las Vegas, en San Francisco. As enige iemand my ooit vra: Wat gebeur het in Vegas, bly in Vegas. Ek kan nie onthou nie, en dink ook nie ek wil nie. Al wat ek sal sê, is dat almal dit eendag moet beleef. Dit is soos ’n tamaai speelgrond vir grootmense. Die Grand Canyon is onbeskryflik mooi en jy verloor jou siel in die dieptes daarvan. (Hoe mooi was dit gestel?) Nee, regtig. Dit is iets wat ek weer sal wil sien – miskien selfs uit ’n helikopter.

My tweede week was ek op die Carnival Splendor-plesiervaart en het ek die Karibiese Eilande besoek: Jamaika, ’n pragtige landskap, maar mens moet versigtig wees wat jy aangebied word binne die eerste tien minute; die Kaaimanseilande met kristalwaters en die mooiste mansmense; en laastens Cozumel, Meksiko, met ’n ongelooflike ryk kultuur en tacos.

Vir al die moeilike tye hierdie jaar, sal ek nie die terugdraai nie. Daardie twee weke het my jaar die moeite werd gemaak, en het my blootgestel aan die diversiteit wat gevind word in en om die Amerikas.

My eerste drie maande was seker die swaarste. Ek moes aanpas by ’n nuwe familie, gewoond raak aan die Amerikaanse Engels, kosse, en die weer. Vir die eerste keer in my lewe moes ek leef in koue, sneeu en verhitte huise. Glo my, dis swaar. Die sneeu lyk mooi vir ’n paar dae, maar dan raak dit sopperig en vuil, en moet jy met waterdigte L.L. Bean “Duck Boots” daardeur ploeg om by die voordeur te kom.

Waar is my Afrika son?

Nietemin, ek het oorleef en sien uit na my eerste wit Kersfees. Na ’n hemelse Thanksgiving met die gevulde kalkoen, pampoentert, familie en Amerikaanse voetbal weet ek nie hoe my maag die Kersete gaan hou nie. Blykbaar kry ek ook ’n Kerskous om by die vuurmaakplek op te hang vir lekkernye, en spesiale skoene en jas vir wanneer ons die Kersboom gaan uitsoek later in die week. Hoe opwindend! Ek is baie geseën met die familie by wie ek bly – gasvrye, vriendelike en gemaklike mense wat belang stel in my land en toekoms.

Ek vlieg vroeg volgende jaar terug Suid-Afrika toe, en alhoewel ek ’n onvergeetlike jaar hier beleef het, sal ek bly wees om terug te wees in my vaderland. Ek is tog immers en sal altyd ’n Suid-Afrikaanse boeremeisie wees.

Inge-Marie Smit

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest