Leesvordering:

Finansiële kontrolelys vir teruggekeerdes

Feb 1, 2022

Deur Fanus Jonck

Woon en werk jy in die buiteland? Beplan jy om terug te keer na Suid-Afrika? Jy sal voor verskeie veranderinge te staan kom wanneer jy jou weer in Suid-Afrika vestig.

Ons wil graag advies en voorstelle deel om ons ekspats te help.

Voordat jy terugkeer na Suid-Afrika

1. Bankrekeninge

  • As jy buitelandse beleggings het, is dit die moeite werd om een buitelandse bankrekening oop te hou. Jy hoef nie al jou buitelandse spaargeld terug te bring Suid-Afrika toe nie.
  • Dit is raadsaam om ʼn rekening te hê wat via die internet toeganklik is, want dit is baie makliker om te beheer. Hou net die bankkoste dop!
  • Stel die bank in kennis dat jy weggaan en verander jou posadres.
  • Los ʼn klein balans in die rekening sodat hulle dit nie sluit nie.
  • As jy geld van die buiteland af oorplaas, kontak fanus@jonck.net vir verskillende opsies om te spaar op valutaoordrag na SA en op bankkoste.
  • Plaas maandeliks R10 000 tot R20 000 oor na jou SA bankrekening die laaste drie tot ses maande voor jou terugkeer na SA. By jou terugkeer sal dit soos ʼn salaris lyk (asof jy vir jouself werk). Dit sal jou baie moeite spaar as jy selfoonkontrakte, kredietkaartrekeninge, ens. probeer kry.

2. Beleggings

  • Verkry waardasiesertifikate vir al jou buitelandse beleggings op die datum van jou vertrek. Dit is baie makliker om dit daar te reël en jy het dit nodig wanneer jy in Suid-Afrika aankom.
  • Benut die laaste weke voor jou terugkeer wyslik om alle belangrike dokumentasie bymekaar te maak.
  • Hou gewaarmerkte kopieë van aandelesertifikate/dokumente.
  • Stel jou versekeringsmaatskappye, beleggingsadviseur, maatskappy, ens. in kennis van jou nuwe adres in SA of van ʼn betroubare familielid se adres.
  • As jy eiendom in die buiteland besit, laat dit in die hande van ʼn betroubare agent.
  • Sodra jy weer ʼn SA belastingpligtige is, moet jy seker maak dat die land waar jou eiendom geleë is nie belasting van die bruto huur aftrek soos wat hulle verplig is om te doen nie. Verduidelik vir hulle dat jy nie meer ʼn belastingpligtige in daardie land is nie en dus nie aanspreeklik is vir belasting nie. Dit is ingewikkeld en verskil van land tot land. Kontak Fanus by tax@jonck.net as jy onseker is of meer wil weet.

3. Buitelandse belasting

  • Daar is baie goeie maatskappye wat jou buitelandse belastingsake teen vergoeding sal uitsorteer; dit sal vir jou die moeite werd wees. (Kontak tax@jonck.net vir ʼn verwysing.)
  • Onthou ook as jy vir ʼn maatskappy gewerk het maar nie die laaste jaar voor jou terugkeer die volle belastingjaar gewerk het nie, kwalifiseer jy gewoonlik vir ʼn belastingterugbetaling!

4. Salarisstrokies

  • Hou die oorspronklike rekords van jou inkomste en salarisstrokies.
  • As jy geld in SA inbring, kan die Reserwebank vereis dat jy bewys dat jy die geld in die buiteland verdien het en nie iemand anders se geld saambring nie. Elke keer as ʼn SA bank ʼn groot som buitelandse geld ontvang, moet hulle die Reserwebank daarvan in kennis stel.

5. Bestaande kontrakte

  • Kanselleer alle bestaande kontrakte. Moenie nalatig wees en nog meer skuld maak nie. Dit sluit selfoonkontrakte, versekering, lidmaatskap van ʼn gimnasium, ens. in.
  • Moenie uitstaande skuld agterlaat nie! Jy sal op die swartlys geplaas word – en dalk wil jy eendag weer teruggaan.
  • Dis moeilik om sonder die nodige dokumente te bewys dat jou kontrak beëindig is; hou jou dokumente.
  • Verkry ʼn geskrewe erkenning dat die kontrak beëindig en ten volle betaal is.
  • Vereffen die plaaslike rekening se rekeninge (elektrisiteit, water, munisipale belasting, telefoon).

6. Hervestiging/verskeping

  • Verskeping duur ʼn paar maande; moenie items soos tandeborsels of jou CV op die skip sit nie.
  • Laat al jou splinternuwe goed ʼn bietjie tweedehands lyk, ander moet jy BTW betaal by die doeane in SA.
  • Betaal die ekstra vir ʼn betroubare verhuisingsmaatskappy – dit is die moeite werd!
  • Betaal vir deur-tot-deur-aflewering. Dit is die ekstra werd. Om by ʼn doeanekantoor te sit, is tydrowend en frustrerend!
  • Maak seker die prys sluit doeaneklaring in SA in.

7. Motorvoertuig

  • Moenie jou motorvoertuig los om deur iemand anders verkoop te word nie; om uit SA vir geld te baklei is ʼn nagmerrie. Verkoop dit liewer vroeër as later.
  • Kanselleer jou versekering en hou die bewys van kansellasie. Let op die fynskrif oor kansellasie in jou versekeringskontrak. (Kyk na http://carinsurance.arrivealive.co.za.)
  • Stel die lisensiedepartement in kennis dat jy die voertuig verkoop het en hou ʼn kopie van die brief of hulle erkenning.
  • Tweedehandse motors in SA is baie duur, baie duurder as in die VK. As jy jou motor meer as ʼn jaar besit, kan jy dit dalk wettig terugbring SA toe sonder om invoerbelasting te betaal. Kontak fanus@jonck.net vir meer besonderhede.

As jy terug is in Suid-Afrika

1. Bankrekening

  • SA bankkoste is buitensporig in vergelyking met dié in Europa.
  • Maak seker jy verstaan die struktuur van jou bankkoste.
  • Jy sal sukkel om enigiets anders as ʼn spaarrekening oop te maak sonder plaaslike salarisstrokies.
  • Moenie verwag om met ʼn kredietkaart verwelkom te word as jy nie ʼn groot bedrag geld saambring nie.
  • Open so gou as moontlik ʼn rekening (ʼn spaarrekening as dit moet) en plaas enkelbedrae uit jou buitelandse rekening oor – dit is goedkoper as om ʼn klomp oorplasings te doen.

2. Belasting

  • Stel die SAID (SA Inkomstediens) in kennis dat jy terug is en registreer vir belasting.
  • Dit is in jou eie belang om al jou buitelandse belange te verklaar.
  • Jy sal die waarde van jou buitelandse beleggings op die datum van jou terugkeer moet bewys.
  • Jy sal dalk moet bewys dat die geld in die buiteland verdien is (daarom is salarisstrokies nodig).
  • As jy buitelandse beleggings het, moet jy dalk vir voorlopige belasting registreer.
  • Onthou jy moet nou in SA belasting betaal op jou inkomste wêreldwyd.
  • As jy kwalifiseer vir voorlopige belasting, moet jy binne 30 dae nadat jy gekwalifiseer het registreer.
  • Betaal iemand wat weet wat hulle doen om jou belastingopgawe in te dien. Betaal liewer die professionele fooi – jy sal heelwat meer spaar as wat jy die konsultant betaal.

3. Selfone

  • Jy kan nie ʼn kontrak kry sonder drie maande se SA salarisstrokies nie.
  • Jy kan “pay as you go” kry, maar die oproepe is baie duur en jy moet ʼn foon koop.
  • Vra ʼn familielid om ʼn rekening in sy/haar naam oop te maak en verander die besonderhede sodra jy ʼn salaris kry.

4. Motorvoertuie en motorfinansiering

  • As jy ʼn tweedehandse motor koop, probeer om van ʼn betroubare handelaar te koop en maak seker presies wat hulle waarborg dek.
  • ʼn Tweedehandse motor? Sluit aan by die AA – dit is goedkoop en kan jou baie geld spaar.
  • Ongeag van wie jy koop, neem die motor na die AA vir ʼn onafhanklike ondersoek.
  • Vra die handelaar uit oor finansiering – daar is maatskappye wat hierin spesialiseer en dit kan die moeite werd wees.
  • Die bedrag en die rentekoers van finansiering word gebaseer op jou salaris en die persentasie deposito wat jy betaal.

5. Behuising en huisfinansiering

  • Moet nooit ʼn agent sommer so vertrou as jy ʼn huis wil koop nie.
  • As jy wel ʼn aanbod maak, maak seker dat dit onderhewig is aan die gebruik van ʼn prokureur van jou keuse. Ook as jy verkoop moet jy die prokureur kies, nie die agent nie. Jy sal niet ʼn verband kan kry as jy kan bewys dat jy werk het en ʼn inkomste verdien.

6. Mediese versekering

  • ʼn Privaat hospitaal sal jou nie eens by die deur inlaat sonder mediese versekering of ʼn reusedeposito nie. Kry so gou as moontlik ʼn hospitaalplan.
  • Kry ʼn hospitaalplan van ʼn betroubare maatskappy.
  • Die meeste hospitaalplanne dek jou nie die eerste drie maande nie; neem reisversekering uit in die land waarvandaan jy kom of registreer vir mediese versekering in SA drie maande voordat jy huis toe kom. Vra jou mediese adviseur uit oor “Gap Cover”; dit is bekostigbaar en dek die verskil tussen jou hospitaalplan en die doktersrekeninge.

7. Versekering

  • Al verminder misdaad ook is dit steeds ʼn kwessie.
  • Moet niks teken voordat jy dit nie gelees het en seker is dat jy al die Griekse stukkies onderaan die bladsy ook verstaan nie.
  • Dit is die moeite werd om rond te kyk, want tariewe verskil dramaties.
  • Jy kan bekostigbare versekering wat aan jou behoefte voldoen deur ʼn makelaar kry of selfs deur direkte versekering en jy word deur wetgewing beskerm.

8. Bestuurderslisensie

  • Jy het nou ʼn kaartlisensie nodig; ʼn ID-boekie is nie meer genoeg nie.
  • Om jou buitelandse lisensie in ʼn SA lisensie om te skakel kan ʼn baie tydsame proses wees. Maak dadelik self ʼn afspraak.
  • Jy moet dit doen in die dorp of stad waar jou permanente adres geregistreer is.
  • As jou buitelandse bestuurderslisensie in ʼn ander taal is, gaan na die ambassade en laat dit vertaal voordat jy na die verkeersdepartement gaan.
  • Jy kan op Arrive Alive meer inligting kry oor die proses.

9. Beleggings

  • Praat met jou finansiële adviseur oor bydraes tot ʼn uittree-annuïteit, ʼn polis vir verlies aan inkomste, ens. Jy is welkom om fanus@jonck.net te kontak vir advies oor beleggings en belastingaftrekkings op verskillende beleggingsprodukte.
Meer oor die outeur

Fanus Jonck

Fanus Jonck is 'n ervare belastingskonsultant. Kontak hom gerus vir enige belastingsverwante navrae deur 'n e-pos te stuur na tax@jonck.net

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest