Leesvordering:

Geloof: Stukkies hemel op aarde (Deel 3)

Sep 2, 2016

CaptureHy het werklik opgestaan

Vir jare het ek die tradisionele Paasboodskap oor die dood en opstanding van Jesus verkondig, want ek het my verlustig in die hoop en lewe wat daarin vervleg is.

Tot die Here my fokus verskuif het en my laat raaksien het dat die hart van die evangelie die boodskap is dat God en sy hemelse koninkryk in Jesus Christus, en in alles wat rondom Hom gebeur het, aarde toe gekom het. Toe het ek die Here hoor sê: Die kruis is leeg. Die graf is leeg, want Hy sit nou op my Troon om van daar te regeer.

Toe eers het ek die groter prentjie verstaan en kon ek sien hoe pas die kruis en die leë graf in by die goeie boodskap van die evangelie dat die aarde in Jesus ʼn nuwe Koning gekry het.

Dit het egter Jesus se lewe gekos. Dit het al daardie pyn en lyding tot die dood toe gekos. Dit het ʼn geveg tot die dood toe gekos voordat die heerser van die duisternis bereid sou wees om sy mag en sy troon af te staan.

Aan die kruis het Jesus die mag van sonde verbreek en toe Hy opstaan uit die dood, het Hy die mag van die dood self verbreek. Sonder hierdie twee oorwinnings was ware en totale verlossing nie vir ons moontlik nie. Dit het Jesus vir ons gedoen deur sy lewe, dood en opstanding. Dit was die treë wat Hy moes gee om uiteindelik finaal gekroon te kan word as die nuwe Koning van hierdie aarde en om sy plek in te neem op die troon aan die Vader se regterkant.

Eers na sy finale oorwinning was sy totale versoeningswerk voltooi en kon Hy sy posisie op die Troon inneem. Eers van toe af kon die Vader begin om alle magte en dinge aan Hom te begin onderwerp, ʼn proses wat nou nog aan die gang is en volgens 1 Korintiërs 15:24 en verder tot by die finale einde net voor sy wederkoms sal aanhou.

Paulus skryf oor Christus in hierdie posisie van outoriteit in die brief aan die Efesiërs, hoofstuk 1:19-22, as hy sê dat die Vader Christus opgewek het uit die dood deur sy groot krag wat nou ook in ons werk. Jesus Christus sit nou daar as die nuwe Koning van hemel en aarde, “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.”

Ons sit saam met Jesus Christus in hierdie posisie van outoriteit

Daar is ʼn ander dimensie rondom die troon van Christus wat ons moet ontdek, naamlik dat ons op hierdie oomblik saam met Jesus Christus, die nuwe Koning van die aarde, daar sit (Ef. 2:6).

Vir ons om reg te dink oor onsself en ons rol en roeping, moet ons hierdie bril opsit en vanuit hierdie perspektief begin dink.

Ja, ons is gewoon brose woestynbewoners hier op aarde, maar ons het ook ʼn hemelse burgerskap, waar ons reeds konings en koninginne is. Dit is in daardie kapasiteit, as verteenwoordigers van daardie koninkryk, wat ons ons rol en roeping hier op aarde werklik kan vervul.

Paulus beskryf hierdie dubbele burgerskap so in Filippense 3:20-4:1: “Ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees. Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here.”

Die volkome versoenings- en verlossingswerk wat Christus Jesus deur sy dood en opstanding vir ons en in ons gedoen het, gee aan ons die reg en outoriteit om as sy verteenwoordigers, in sy plek, te kan en te mag regeer. Ons kan iets van die koninkryk van die hemel hier op aarde laat deurbreek as ons met hierdie nuutontdekte outoriteit wat ons in die hemel in Jesus se Naam het, optree en doen wat Jesus, die Koning, ons opdrag gee om te doen.

Die deurbreek van ‘n stukkie hemel op aarde is glad nie romanties nie, dit is oorlog!

Ek weet daar is diegene wat half omgekrap voel oor die titel van hierdie reeks, naamlik Hemel op aarde. Ek het dit egter aspris so geformuleer!

Dit is bedoel om ons ʼn slag weer te laat dink oor presies wat ons glo die hart van die evangelieboodskap is. As ek dit reg verstaan, het Jesus Christus gekom om hier op aarde die nuwe Koning te wees, met ander woorde om hier iets te laat deurbreek van die werklikheid van hoe dit reeds daar in die hemel is waar God in elke sin van die woord die Koning is. Iets van die hemel, moet dus ook hier op aarde deurbreek. Dit is tog waarom Jesus gekom het. Dit is ook waarvoor Hy nou ons “as sy liggaam” hier op aarde wil gebruik.

Tog sal jy ʼn fout maak as jy dink ek probeer met so ʼn titel sê dat dit reeds in elke sin van die woord hemel op aarde is!

Inteendeel.

Die deurbreek van ʼn stukkie hemel op aarde is glad nie iets romanties nie. Dit is glad nie ʼn boodskap van maanskyn en rose nie. Dit is in werklikheid oorlog in elke sin van die woord.

Dink net vir ʼn oomblik: vir iets van die hemel om hier op aarde te kan deurbreek, moet die vyand wat tot en met Jesus se koms heerser hier op aarde was, padgee en sy houvas laat los. Dink jy hy gaan dit sommer net so gemaklik en gewillig laat gaan?

Nee, hy gaan met alles wat hy het, met elke ons krag tot sy beskikking, daar waar hy nog sy kloue in het, lieg en bedrieg, veg en probeer doodmaak.

As jy my nie glo nie, luister wat sê God se Gees in Efesiërs 6 hieroor: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.”

Sien jy, dit is oorlog dié! Dit beteken stryd en vasstaan. Dit is om te hoor wat in God se hart is, wat hier op aarde gedoen moet word, en om dan stelling in te neem aan sy kant, in sy leermag agter die Een op die wit perd, in Openbaring se taal.

Dit is om in die Naam van Jesus Christus, die nuwe Koning op aarde, ʼn streep in die grond te trek en te sê wat Hy sê: genoeg is genoeg. Iets van die hemel wil ook hier deurbreek. Jesus die Christus is ook hier Koning. Dan moet ons sê wat ons moet sê en doen wat ons moet doen, in Jesus se naam en in diens van hierdie koninkryk van die hemel sodat dit hier kan kom.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest