Leesvordering:

Geseënde Kersfees vanuit Nieu-Seeland

Des 13, 2018

Dit is al weer sulke tyd! Ek kan nie glo ons is al aan die einde van die jaar nie. Dit voel asof ek laas Kersfees se boom nou net opgepak en die Kersversierings in die boks gebêre het…

Hierdie jaar is ons nou al 14 jaar in Nieu-Seeland en ek onthou dat ons al op Kersdag vuur gemaak het omdat dit so koud was, maar gelukkig is dit darem die uitsondering! Hierdie tyd van die jaar is dit ook somer by ons, maar definitief nie so warm soos in sonnige SA nie!

Die Kiwi’s vier Kersfees heelwat anders as dit waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. Hulle is gewoonlik by die huis vir Kersdag, waar ons gewoonlik met vakansie êrens anders is. As jy gelukkig is, is dit by die see. Wanneer Kiwi’s oor Kersfees met vakansie gaan, is dit gewoonlik eers vanaf die 26ste (Boxing Day) oor nuwe jaar tot in Februarie wanneer die skole weer begin. Omdat die skole eers in Februarie begin, en dit eers werklik in Januarie begin somer raak, verkies hulle om dit so te doen.

Geskenke word gewoonlik nie op Oukersaand oopgemaak nie, maar op Kersdag self. Die Kersete is tradisioneel, soos in baie Suid-Afrikaanse huise. Ham en kalkoen is oral in die winkels te koop, asook Pavlova. Pavlova is ’n egte Kiwiana-dis en die meeste huishoudings sal dit as hul nagereg voorsit. Baie van die Kiwi-gesinne braai ook graag op die dag (op gasbraaiers) en seekos is altyd op die spyskaart hier waar ons by die see woon. Dit is ook nou aarbeiseisoen – die aarbeie word so groot soos tennisballe! – en dié is gewoonlik ook saam met kiwivrugte op die spyskaart.

In skole word Kersfees nie noodwendig as ’n godsdienstige fees gevier nie en in sommige kleuterskole word dit glad nie gevier nie. In Nieu-Seeland volg ons die kind se belangstelling: Wanneer ’n kind dus nie oor Kersfees praat nie, gaan dit nie noodwendig enige fokus geniet nie. Gelukkig het die kinders tot dusver oral waar ek skoolgehou het oor Kersvader en Kersfees gepraat, dus kon ons na hartelus liggies en Kersversierings opsit! Ons koop ook vir elke kind ’n klein geskenkie en die ouers en families word uitgenooi om in die vreugde te deel wanneer Kersvader die geskenke uitdeel! Kinders is almal dieselfde, maak nie saak waar in die wêreld hulle hulself bevind nie; Kersfees bly betowerend, maak nie saak waar jy bly en hoe oud jy is nie.

Al die dorpe, hoe klein ook al, het elke jaar ’n Kersfeessierwaoptog. Die skole en ander instellings neem deel deur elk ’n trok, bakkie of waentjie in te skryf en vir die optog te versier. Die brandweer, ‘Kersvader’, ou motors, al die sierwaens, orkeste ensovoorts loop dan deur die hoofstraat en die hele dorp woon gewoonlik by. In sommige dorpe word die Kersverhaal uitgebeeld en tradisionele Kersliedere word by kerslig in die pragtige dorpsparke gesing.

Vir baie gesinne is dit tradisie om op 1 Desember as gesin na ’n plaas te gaan waar ’n “regte” kersboom uitgekies word om hul huise vir die Kerstyd te versier.

Hier in ons huis gebruik ons ’n gekoopte kunsboom. Voordat die kinders uit die huis is, het ek en hulle dit altyd saam versier. Ons het dit gewoonlik die eerste naweek in Desember gedoen. Nou wag ek totdat hulle in Desember kom kuier, dan doen ons dit steeds saam en het baie pret daarmee! Een van die inheemse bome is die Pohutukawa-boom, wat in sand groei met sy wortels wat in seewater aard. Dié bome word in Nieu-Seeland ‘Christmas trees’ genoem oor die pragtige rooi blomme wat in die Kersseisoen blom. Ek gebruik die Pohutukawa-blomme graag in my Kersboomversierings, saam met skulpe wat ons op die strand opgetel het.

Toe ons kinders nog klein was, het ons op Oukersaand altyd die Kersverhaal uit die Bybel gelees voordat my man Tobie die geskenke uitgedeel het.

Die meeste van ons familie bly ver en Kersfees is gewoonlik die tyd wanneer familie uit Suid-Afrika vir ons kom kuier. Vanjaar is my ouers uit Pretoria hier en my twee kinders is tuis. My broer en sy gesin – wat in Otorohanga, Nieu-Seeland bly – kom kuier ook vir die week tussen Kersfees en Nuwejaar hier. Dus gaan Kersfees 2018 ’n lekker groot familiefees wees, met kermisbeddens en al die dinge wat vir ons as Suid-Afrikaners so bekend is.

Op Kersdag braai Tobie graag boerewors, steak of tjops en ek en die ander vrouens maak slaai vir bykos. Ja, hier in Nieu-Seeland eet ons nog baie graag boerewors! (Ons plaaslike slagter, ’n Maori van Kaitaia, het by ’n Suid-Afrikaner geleer boerewors maak en ek reken sy boerewors sal nie vir enige SA-boerewors terugstaan nie!) Braai is steeds vir my man Tobie een van sy gunstelingtydverdrywe en ek weet dat hy die familie weer met al sy disse wat hy op die braairooster optower, gaan verras.

Omdat ons so bevoorreg is om by die see te bly, gaan ons ook graag strand toe as die weer dit toelaat. Tot my man se ergernis speel ek ook graag op Kersdag Michael Bublé se kers-CD! My broer, Gerhard, se dogtertjies is nog klein en meeste van die geskenke om die boom sal vir hulle tweetjies wees.

Mere Kirihimete! Merry Christmas! Geseënde Kersfees vanuit Nieu-Seeland.

Lees ook: Uit en Tuis met Charlé Klopper.

Meer oor die outeur

Charlé Klopper

Charlé Klopper woon in Mangonui, Nieu-Seeland. Charlé is ’n bestuurder by ’n kleuterskool en haar man, Tobie, is ’n verplegingspraktisyn.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest