Ons avontuur het begin in 2014 toe ons Engeland toe getrek het omdat my man se maatskappy hom daarheen verplaas het. My man het reeds in Maart naby Oxford begin werk en ʼn klein woonstel gehuur terwyl ons agtergebly het om ons besigheid in Suid Afrika af te handel. Hy het huis gesoek en in die April-skoolvakansie is ek en my seun Engeland toe om te gaan kuier en na huurhuise te kyk. Ons het gou besef die meubels van ons ruim huis in Suid-Afrika sal nie in die huurhuis inpas nie. Die huise (meestal duplekse) is oor die algemeen baie kleiner is as in SA. Ons het besluit om alles te verkoop en slegs twintig bokse te pak met persoonlike items soos klere, fotoalbums, boeke, my kosbare teepot-versameling, CD’s, DVD’s en my seun se mees geliefde speelgoed. En so het die groot verkoop begin…

Benewens die huis, karavaan en karre wat ons moes verkoop, het ek begin om al ons meubels, gordyne, elektriese goedere, tuingoed, fietse, breekgoed en linne te verkoop. Ek het ʼn paar meubelstukke gehad wat ons graag in die familie wou hou, en my ma en skoonsuster het dit oorgeneem. Ons het garageverkoping gehou en op Facebook en eBay geadverteer. Ek het ʼn massiewe boekversameling gehad, en dit was amper onmoontlik om ʼn paar te kies om te hou; ek het my vriendine en kollegas een Vrydagmiddag genooi sodat hulle kon kies wat hulle wou hê. Selfs vandag, na vier jaar, vertel ʼn vriendin soms nog vir my hoeveel haar kinders of kleinkinders ʼn spesifieke boek geniet. Speelgoed het ek ook uitgedeel onder my seun se maats en my vriendinne se kinders en kleinkinders. Dit was ʼn ongelooflik emosionele paar maande vir my, want ek is baie sentimenteel, maar ek het ook besef hoeveel ʼn mens met verloop van tyd opgaar en dat jy werklik nie vyf slaaibakke of drie eetstelle nodig het nie.

Ons het die laaste paar weke voordat ons finaal Engeland toe gevlieg het by my ouers gebly. In Engeland het ons slegs die nodigste meubels gekoop wat ons geweet het in die vertrekke sou inpas. Dit was nogal opwindend om van vooraf te begin. Ek het net die noodsaaklikste breekgoed en linne aangeskaf en mettertyd gekoop wat ek nodig gekry het. Bygesê, albei van ons het werk gehad toe ons getrek het, en my man se maatskappy wat hom verplaas het, het ons bygestaan, wat dit defnitief makliker gemaak het. As ek nou terugkyk, sal ek dit ongetwyfeld weer doen. Daar is een of twee items waaroor ek spyt is en wens ek het dit gehou, maar ek besef dat dit alles net aardse goed is. Suid-Afrikaanse gesinne wat ons daar leer ken het, moes baie van hulle meubels ten duurste stoor, of deurkosyne uitbreek om meubels in die huis in te kry! Ek het sedertdien dieselfde raad aan verskeie kennisse gegee wat Engeland toe getrek het en almal stem saam dat dit die regte besluit was.

Terloops, die twintig bokse was uiteindelik drie-en-dertig… Ons het dit met ʼn koerier oorgestuur. ʼn Week nadat ons op Heathrow geland het, was dit voor ons blou voordeur. My raad aan enigiemand wat Engeland toe trek, sou wees om nie jou meubels saam te vat nie, tensy jy weet dat jy ʼn ruim huis gaan hê – ʼn baie rare kommoditeit in Engeland. Alhoewel die oppak, verkoop en weggee een van die moelikste goed was wat ek nog moes doen, was dit ongelooflik bevrydend en ek het besef dat aardse goed nie soveel saakmaak soos wat baie van ons dink nie.

Twee jaar later het ons besluit om Australiё toe te trek. My man kon werklik nie aanpas in die Britse klimaat nie en het die son en blou lug gemis. Maar ons het veiligheid, stabilitiet en sekuritiet beleef wat ons nie in Suid-Afrika kon kry nie, en teruggaan was nie vir ons ʼn opsie nie. Hierdie keer was die trek soveel makliker, want ons het nie familie en jarelange vriende agtergelaat nie, en ons het soveel minder gehad om in te pak. Ons het besluit om alles saam te vat, behalwe my seun se kamermeubels wat hy ontgroei het soos wat hy ouer geword het en die wasmasjien wat ons aan die nuwe huurders verkoop het. In Engeland het die meeste huise glad nie ingeboude kaste nie, so ons moes kaste vir al die kamers koop. Ons navorsing het gewys dat die huise in Australiё gewoonlik kaste het, en ons het besluit om die kaste te verkoop, asook fietse, braaigoed en tuingoed, aangesien Australiё ongelooflik streng is met plantmateriaal en die kleinste stukkie gras of grond kan veroorsaak dat jou goed gekwarantyn word – ʼn duur en tydrowende proses.

Ons trek sou drie maande vat om in Australiё te arriveer, en vir hierdie tydperk het ons ʼn gemeubileerde woonstel met breekgoed in Darwin gehuur. Ons het op die vliegtuig geklim met ons klere, skootrekenaars en my seun se XBox, en ons het ʼn paar kartondose met ʼn koerier aangestuur om ons deur die eeste paar maande te kry. Terwyl ons vir ons meubels gewag het, het ons begin huis soek. Ons trek het vroeёr gearriveer as wat beplan en ons moes inderhaas ʼn huis huur, maar ons was gelukkig dat alles goed uitgewerk het. Ons dupleks in Darwin is heelwat ruimer as ons plekkie in Oxforshire, maar ons was nie haastig om meer meubels te koop nie. Soos wat ons begroting dit toegelaat het, het ons ʼn paar nuwe goed aangeskaf, maar ek het doelbewus besluit om nooit weer so baie goed op te gaar soos wat ek in Suid-Afrika gehad het nie. In elk geval, hoe meer ʼn mens het, hoe meer moet jy skoonmaak en hulp hier is baie duur, so ons doen maar alles self tussen ons voltydse werk deur.

As ek moet raad gee aan gesinne wat direk van Suid-Afrika na Australiё trek, sou dit wees om van ten minste die helfte van jou goed ontslae te raak. Eerstens gaan jy geld spaar, en tweedens hoef jy nie hier goed te stoor of weg te gee nie.

Sterkte!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Estia Sales
Estia Sales

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest