Leesvordering:

Grootmensnaels

Jan 17, 2022

“Die Here sê: ‘Ek sal hulle beskerm.

Ek sal vir hulle soos ’n muur van vuur wees wat om hulle gebou is.

Binne-in die stad sal hulle weet dat Ek daar is.

Hulle sal weet dat Ek groot en sterk is.’”

Sagaria 2:5 Die Boodskap

Julle weet ek is ’n plattelandse kind. Nou nie plaas-plaas nie, maar plaasmense-se-wêreld-se-kjint.

Daar waar nie tyd of plek is vir te veel fieterjasies nie.

Van Trompsburg na Bloemfontein tot in Pretoria mis die fenomeen my dus heeltemal, en so bederf ek myself met my heel eerste stel “grootmensnaels” net ’n dag of wat voor ons twee se troue. Natuurlik effens langer as wat enige praktiese mens in die werklike lewe kan gebruik, want dis mos darem troustories!

Nodeloos om te sê – die tweede dag op wittebrood, toe moes daardie plastiek-“pointers” af!  Sommer so knip-knip en byt-byt in die kar oppad Stormsrivier toe. Ek weet, ek weet … die hele naelbrigade ril nou. Want dit is níé hoe jy dit doen nie.

Ewenwel …

So ’n maand of wat later wonder ek wat sal gebeur met ’n tweede probeerslag. Die lengte dalk net so bietjie getem, en dalk met ’n langer induksieperiode voor ek die eksperiment as ’n mislukking klassifiseer …?

17 jaar later kan mens seker die aanloklikheid beskryf as ’n gewoonte.

Hier in Engeland was die aanpassing … interessant. Want hier is daar Adams wat die Evas se hande so mooi versorg en dit was interessant. Soos reeds genoem.

Ek vind toe ’n oulike Chinese Katie (om te pas by ons Sui-Afrikaanse Katie, natuurlik) en sy word my gereelde instandhoudingsindraai.

En toe, in jaar 18, gebeur Covid. Katie-hulle maak toe en so ook elke ander Adam en Eva wat naels doen. Vir 15 maande loop ek rond met my eie, oorspronklike naels – net so bietjie opge-”zoosh”. Maar nie te veel nie – ons werk nog van die huis af.

Toe die ergste versigtigheid eers verby is, het my werk-aftiklysie egter die opslaan van ’n rooi gazebo bygekry (jy kan hiervan gaan lees by Lesse uit ‘n Rooi Gazebo) en ek het gedink dit sou fataal wees om die bloedjies bloot te stel aan soveel rowwigheid.

Tot ’n week gelede. Julle weet mos hoe ’n mens die dringendheid kry om jouself so ’n bietjie te pamperlang … die haartjies word gekleur (uit ’n boks, of nie), die voete word gespa (in die sitkamer, of by die Regte Een), en vir my was dit toe Nuwe Naels. By Katie.

Ná twee jaar gaan kuier ek weer daar en stap uit met ’n “French” op die naels en ’n glimlag in my hart. “Small things amuse small minds,” dink sommige van julle dalk nou.

Ek verkies om te sien hoe ’n mens vreugdes kan vind in die klein dingetjies in die lewe.

En buitendien – dit het my iets gegee om met julle te deel vanaand.

Want sedert ek my Nuwe Naels het, kom ek agter:

Ek vat sagter. Of dit nou die wasmasjiendeurtjie is wat so halstarrig kan wees, of bokse voorraad wat ek moet oopmaak, my oorbel wat op die badkamervloer beland, of die pak met ses liters water wat oopgemaak, afgevee en gebêre moet word.

Alles word sagter hanteer.

Myself ook.

Die maskaramerk op my oog word baie versigtiger benader.

My lyfroom met meer eerbied aangesmeer.

My denim word versigtiger vasgemaak en toegerits.

Ek is sagter met myself.

Vir die Adams wat niks met naels te doen het nie, klink hierdie dalk na totale onsin.

En vir die Evas wat dit nog nooit nodig geag het om enigiets anders as hul eie te hê nie, dalk ook.

Maar vir iemand wat gewoond was om te vat wanneer ek vat, nie twee keer te dink om iets met geweld te wil uitrig nie, en nie terug te staan om self sterk baba te speel as daar nie ’n Adonis in die omtrek was nie, was dié naels ’n wonderlike tuiskoms.

Ek kan maar sagter wees met die wêreld.

En met myself.

Die Here vorm ’n muur van vuur om my.

Ek hoef nie self brandweer en brandblusser en redder te speel nie.

Ek mag maar sag wees en Hom toelaat om die beskermwerk te doen.

Soos wat Hy belowe het.

En wanneer ek rooi gazebo’s moet opslaan, sal Hy my wys hoe om met ’n sagte hand die werk te doen wat nodig is.

Soos wat Hy belowe het.

“Ek gryp jou regterhand vas.

Ek is die Here jou God.

En Ek sê vir jou:

‘Moenie bang wees nie.

Ek is daar om jou te help!’”

Jesaja 41:13 NLV

Jou inspirasie vir die week: GOD will work it out

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest