My liefde vir Nederlandse teëltjies het begin in my ouma se kombuis, waar daar ’n raam daarvan om die stoof was. Vandag nog assosieer ek die teëltjies met al die huislikheid, gasvryheid, smulkos en gesellige tye om Ouma en Oupa se kombuistafel.

Met ’n eerste besoek aan Nederland het ek by die keramiekfabriek in Delft ingeloer.  Baie van die werk daar word deesdae meganies gedoen. Die blou versierings word meestal oorgedra op die keramiek en nie meer oorspronklik daarop geskilder nie.

So lees ek toe vroeër vanjaar van die Harlinger Aardewerk- en Tegelfabriek in die pragtige hawestad Harlingen. Ek moes ’n konferensie in Friesland gaan bywoon en na afloop daarvan is ek na Harlingen. Vroegoggend in die stad was al wat winkel is, nog toe. My getroue selfoon-GPS het my egter na die sakekern van die stad gelei en toe ek weer sien, staan ek voor die winkel. Dit was sowaar al oop en ’n vriendelike dame het my na binne genooi.

Die eerste ruk het ek my aan alles wat gemaak word, verstom – daar is benewens asemrowende mooi teëls, ook porseleinhonde, breekware en dan ook tradisionele wit muurteëls, alias witjes, asook vloerteëls wat in Nederlands as estrikken en plavuizen bekend staan.

Hierdie tradisionele tipe geglasuurde keramiek staan oorkoepelend as faience, majolica of sommer soos ons dit ken, as Delftware bekend. Dit word reeds sedert 1598 in Harlingen vervaardig.

Daar is verskeie redes waarom die hedendaagse fabriek uniek is. Dit is tans ’n familiebedryf. Pas voor die Eerste Wêreldoorlog het die laaste keramiekfabriek in Harlingen gesluit. Vir ongeveer veertig jaar het die bedryf in die dorp tot stilstand gekom. In 1972 is die Harlinger Aardewerk- en Tegelfabriek deur Henk en Maaike Oswald geopen en daarmee het die trotse tradisie herleef.

Die egpaar het ’n ou huis gekoop en in die kelder ’n klomp eeue-oue teëls en ander keramiekvoorwerpe ontdek. Hulle het smoorverlief daarop geraak. Hulle het argiefmateriaal saam met die keramiekkunstenaar Hubert de Haas bestudeer om die ou tegnieke en resepte (wat uit die sestiende eeu dateer) vir klei, glasuur en pigmente te laat herleef en toe die fabriek oopgemaak. Hulle huis is vol van die mooiste panele – Maaike het aanvanklik gesê sy wil dit net in die sitkamer en dalk die kombuis sien, maar sy moes voor die liefde swig en vandag is die hele huis met teëls versier!

Alles wat in die fabriek vervaardig word, word ten volle met die hand gedoen, van die klei wat gemeng word, tot by die skilderproses. Die proses verskil weinig van dié van eeue gelede. Om dié rede is die fabriek dikwels betrokke by restourasiewerk aan historiese geboue wat met teëls versier of ingerig is.

Die Harlinger Aardewerk- en Tegelfabriek doen ook opdragwerk vir Nederlandse en internasionale projekte – van restaurante tot herehuise in onder meer Europa en die VSA spog met skeppings wat hiervandaan kom. Een van die mees ambisieuse projekte is vir Ferring International aangepak. Die maatskappy besit ’n kasteel, Chateau Mukhrani, op die Duitse eiland Föhr wat vir skakel- en welstandsprojekte aangewend word.  Die fabriek moes ’n reusegroot paneel van teëls maak om by die binnenshuise swembad van die kasteel aan te bring en dit het 25 vierkante meter beslaan.

My gasvrou het my ’n begeleide toer van die hele fabriek gegee en ek kon oral inloer, van die oonde waarin die produkte dae lank gebak word, tot by die werkstafels waar die teëls met die hand geskilder word. Dit is fyn werk en iemand word ’n minimum van drie jaar opgelei voordat hy of sy die skilderwerk behoorlik kan doen. Kwassies wat van drie hare uit die oor van ’n koei gemaak word, word hiervoor gebruik!

Die fabriek maak steeds die bekende en geliefde tradisionele keramiekware, maar skep ook moderne items en ontwerpe, want nuwe produkontwikkeling is vir hulle net so belangrik vas die bewaring van eeue-oue vervaardigingstegnieke en produkte.

Hulle is veral bekend vir hulle teëls. Dié is presies dieselfde grootte as wat dit eeue tevore was ‒ effens groter as die teëls wat in Delft gemaak word. Die blou kleur van die verf verskil ook effens van die blou pigmente van Delft – ware kenners kan die twee bronne se produkte maklik van mekaar onderskei. Harlingen se teëls het ook “snygaatjies”.  Wanneer die klei klaar gemeng en die regte dikte gerol is, amper soos koekiedeeg, word ’n houtraampie wat presies die regte grootte is, daarop gedruk. Die raampie het spykertjies op twee van die teenoorstaande hoeke daarvan om die raampie op die klei vas te hou terwyl dit gesny word. Sodoende word verseker dat geen teël skeef gesny word nie. Die finale produkte vertoon steeds die twee snygaatjies op teenoorstaande hoeke van elke teël – ’n kenmerk van die fabriek se werk.

My gasvrou het my geamuseerd vertel dat hulle tans met groot moeite teëls maak met glasuur wat vol barsies is. Dit word op versoek van ’n kliënt gedoen wat ’n antieke voorkoms aan nuwe teëlwerk by sy huis wil gee. Sy wys my egter dat teëls wat meer as driehonderd jaar gelede gemaak is, steeds sonder barsies is. Glasuur wat reg gemaak is, behoort nie te bars nie, dus is barsies geen teken van hoë ouderdom nie, maar van swak tegniek, sê sy.

Die wye verskeidenheid produkte wat van die fabriek beskikbaar is, foto’s van die projekte wat hulle al afgehandel het en fassinerende inligting en video’s oor die vervaardigingsprosesse is op hulle webwerf, https://harlinger.nl/, beskikbaar. Dit kan egter nie kers vashou by ’n besoek aan die fabriek self nie, veral nie vir ’n keramiekentoesias nie! As jy een van laasgenoemde is, merk die Harlinger Aardewerk- en Tegelfabriek solank op jou emmerskoplys.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum, verantwoordelik vir Internasionale skakeling, taal en kultuur.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest