Deur Johan Nortje

Al langs een van die stofpaaie buite Hartswater staan ’n lang ry bloekombome. Die lug aan die westekant van die pad is helder genoeg dat jy tot op die horison kan sien. ’n Gunstige wind het vroeër begin om stof, wat nou soos bergbruin poeier lyk, deur die grasvelde te waai.

Hartswater is stellig nie op Trip Advisor se kortlys van 100 plekke om te sien voor jy die stof byt nie, maar elke onontginde juweeltjie het sy trekpleister.

Aaneenlopende boorde smaraggroen pekanneutbome wat op die vlaktes uittroon, word deur die somersonsondergang verlig. Dit lyk soos ’n plek waar ’n bruid en bruidegom tussen lanings bome mekaar met skaapogies aanstaar terwyl ’n troufoto geneem word.

My vinger wys na een van die landerye. My oom weet instinktief wat ek wil vra.

“Jong, ons voer die neute uit na die Chinese toe. Hulle gebruik dit in baie van hulle disse,” sê hy met ’n sagte stem.

Ek het hom vier jaar laas gesien. Hoewel sy liggaamsbou smaller geword het met tyd, wys ou foto’s van sy jeug die liggaam van ’n man wie se spiere gevorm is deur arbeid – nie in ’n lugversorgde gimnasium met gebottelde water nie.

My vermoedens oor die oes is bevestig. Met ’n bevolking van meer as ’n miljard en gekoppel met uitsonderlike ekonomiese groei het die Rooi Draak ’n groot aptyt ontwikkel. Tog het hulle nog nie alles baasgeraak nie. Die Noord-Kaap- en Noordwes-nommerplate wat verby ons jaag, sê dat mense hier steeds Japannees, Amerikaans en Duits verkies vir vervoer.

“’n Groepie van hulle het ’n paar jaar gelede die plek kom besoek. Hulle wou sien hoe ons te werk gaan.” Hy begin by homself lag soos ’n stout kind. “Jong, hulle neem foto’s van alles. Vra heeltyd vrae. Wat van dit? Hoekom doen ons dit so? Kla oor die hitte. Hulle was wel baie verbaas oor jou tannie se Chinese teestel.”

Die toneel van hom in sy kakiehemp en denimkortbroek tussen ’n groep Chinese in besigheidspakke speel af in my kop. Ek vermoed wel die melktert-en-tee-kletspraatjies was oor die weer en die ingenieursvernuf van die Groot Muur en nie oor die katastrofiese Great Leap Forward se grondhervormingsbeleid van die 1950’s nie.

Omtrent elke plaashuis wat verby ons skiet, is omring met ’n donkergroen grasperk en kanale wat water vervoer, strek kilometers aaneen tussen die paaie en landerye.

Met al hierdie oordadige groen moet ek myself weer daaraan herinner dat hierdie eintlik woestynland is en dat die plante wat hier kan groei, nie ’n geskenk van die natuur is nie.

Vaalharts is nie uit hoop gebore nie. Gedurende die depressiejare van die vroeë dertigs is die Vaalharts-besproeiingskema op die been gebring as ’n hawe vir duisende boere wat gedurende daardie tyd se droogte hul plase moes verlaat. Die skema beslaan sowat 113 100 hektaar. Ruweg so groot soos Hongkong.

Die bou van die besproeiingskema laat my dink aan iets wat die joernalis Robert Kaplan vertel oor mense se stryd om struikelblokke wat die natuur daargestel het, te oorkom.

In 1755 is die stad Lissabon in Portugal deur ’n aardbewing getref. Dit was een van die dodelikste aardbewings in die geskiedenis van die mens. Die aardbewing is deur ’n tsoenami gevolg. ’n Vuurstroom het ook later ontstaan en het vyf dae lank aanhoudend gebrand.

In reaksie hierop het die Franse filosoof Voltaire verklaar dat hy moreel gekant is teen die aardbewing. Hierdie stelling, wat op die oog af nie sin maak nie, word deur Kaplan verduidelik, naamlik dat Voltaire gekant was teen enige onpersoonlike magte wat mense se bestaan inperk, hetsy in die vorm van natuurkrag of geografiese of ekonomiese struikelblokke. Mense moet nie die natuur se deterministiese lot aanvaar nie, en volgens hom is die aanvaarding hiervan ’n klap in die gesig vir mense se dryfkrag.

Dit is hierdie dryfkrag wat gemaak het dat Hartswater dwarsdeur sy geskiedenis terugslae soos droogtes, rentekoerse en oorstromings te bowe gekom het. Ek kan vir die oomblik nie my vinger daarop plaas nie, maar nadat ek weer hier kom besoek aflê het, is dit asof iets hiervan verlore geraak het en vermoeienis al hoe meer inbreuk maak.

Dalk is dit die Kersversierings teen die straatligte van Jan Kempdorp wat, weens ’n geldtekort by die munisipaliteit, nie meer kan skyn nie. Dalk is dit die rommel wat in die kanale van Pampierstad afstroom. Meestal kitskospakkies. Min mense doen deesdae die moeite om saam met geliefdes by tafels te sit en eet. Die kanale kan ook nie meer aan almal water voorsien nie. Dalk die dwelmprobleem op die dorp.

Of dalk moes mense nooit hier gewees het nie. Edward Abbey in Desert Solitaire bieg dat “there is no shortage of water in the desert but exactly the right amount, a perfect ratio of water to rock, water to sand, insuring that wide free open, generous spacing among plants and animals. There is no lack of water here unless you try to establish a city where no city should be.”

Miskien is dit die moeite om in hierdie ongenaakbare landskap ’n bestaan te kan maak of die lyne op my oom se gesig wat jare se harde ure in die skel son verklap, maar ek weet hier moet inspanning én onuitputbare drif eenvoudig saam stap.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest