Leesvordering:

Heimwee na die heimat – waarna verlang ons harte?

Des 5, 2023

Die HAT definieer heimwee as ’n “sterk verlange na jou tuiste”. Die woord heim wat in Duits “tuis” beteken, word gekombineer met “weë” – asof jy op paaie in jou gedagtes terugloop na jou tuiste toe. Dis besoeke aan plekke en herinneringe wat die verlange weer laat posvat.

Ons het met so paar Suid-Afrikaners wêreldwyd gesels en die vyf dinge waarna hulle die meeste verlang, hier gelys.

1.  Ons mense

Hierdie is heel bo aan elkeen se lysie – hulle mense. Familie, vriende en kennisse word die meeste gemis.

Sodra jy jouself elders vestig en daar ingrawe, begin jy dalk ’n hele nuwe lewe met ’n nuwe lewenswêreld, maar die ou een sterf nie af nie. Die samesyn en geselskap van hartsmense is vir elkeen ’n groot gemis. Jy is ook intens bewus van elke korreltjie tyd wat wegwaai in die wind van ewigheid.

Jy mis nie net die mense nie; dis verjaarsdae, verlowings en Vrydagaanduitstappies. Dis ook plooie wat verdiep, hospitaalbesoeke en begrafnisse.

Alhoewel tegnologie deesdae die wêreld bietjie kleiner maak met video’s en gesigoproepe, kom niks by ’n fisiese drukkie van ’n geliefde nie. Maar vir die wêreld en sy tegnologie is ons dankbaar!

2.  Suid-Afrikaanse natuur

Vir sommiges is dit die sout in die mis wat vanuit die see waai op ’n koel Weskusoggend. Ander verlang weer na donderstorms smiddae in die Noorde.

Wanneer ’n koue en mistroostige dag in die buiteland jou sommer in jou spore stuit, dink mens dikwels aan die son in Suid-Afrika. In Suid-Afrika steek die son nie sommer lyf weg nie, dit is oral teenwoordig, jy kan jou selfs verbeel dat jy sonskyn kan ruik. Die aarde in Suid-Afrika ruik na sonskyn en ’n gasvrye warmte. ’n Sonbesie se gesing vervolmaak die prentjie van sonnige Suid-Afrika.

Gesels saam – waar is jou gunstelingplek in Suid-Afrika? Hoe lyk, ruik en klink dit?

3.  Afrikaans en kultuur

Afrikaans bied ’n raakpunt vir mense wat grense breek. Afrikaans is ’n sentimentele kultuurelement wat vêrmense nader aanmekaar trek – dit is ’n hartsaak.

Die meeste Suid-Afrikaners wêreldwyd met wie ons gesels het, verlang daarna om in Afrikaans te lééf!

Vir ons Suid-Afrikaners in die buiteland, is Afrikaans soms ’n luuksheid wat slegs tussen hulle vier mure geniet kan word. By die werk en in die alledaagse lewe moet hulle totaal in ’n ander taal funksioneer. Om ’n Afrikaanse musiek- of toneeluitvoering te beleef, is ook ’n skaarsste.

Wanneer jy dus ’n Afrikaanse meevallertjie in die buiteland raakloop, voel jy sommer tuis en asof jy wil sê: “Jislaaikit, jy is een van MY mense!”

LEES OOK: Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?  

4.  Tradisies en doendinge

Om ’n Suid-Afrikaner te wees lê dieper as taal of tuisdorp, dis nie net WAT jy doen nie, maar ook HOE jy iets doen.

Dit is Sondagbraaivleisvure, Peppermint Crisp-terte en kondensmelkkoffie.

Dit is om tent op te slaan in die middel van niks en nêrens en eerder die duisende sterre te verkies bo ’n vyfsterhotel.

5.  Die “hart”

Soos Johnny Clegg ook weet – Suid-Afrika het “hart”. Alle Suid-Afrikaners, waar hul hulself ook al bevind, weet dit. En dis hierdie hart waarna hulle ook verlang.

Jy beleef die “hart” in geselsies oor die weer en ’n glimlag van agter ’n toonbank. Dit is om in Afrikaans ’n koffie te kan bestel of met die oom in die vliegtuig oor die Springbokke te gesels.

Ons hartlikheid, gasvryheid en sonskyngesigte is deel van die gees en atmosfeer wat van Suid-Afrika “huis” maak.

Die dinge waarna ons die meeste verlang, is dikwels ’n miljoen klein dingetjies wat jy nie kan invoer nie. Jy kan dit nie met ’n skip stuur nie en jy kan dit nie skep nie.

Dis juis daarom dat ons, moeilike berigte en donker nuus ten spyt, altyd paaie terug begin stap om weer nog een keer kaalvoet op ons eie aarde te kan trap.

Hiermee ’n Afrikagedig om jou op jou heimwee te vergesel:

AFRICA SMILED

Africa smiled a little when you left.

“We know you,” Africa said.

“We have seen and watched you,
we can learn to live without you,
but we know we needn’t yet.”

And Africa smiled a little when you left.

“You cannot leave Africa,” Africa said.

“It is always with you, there inside your head.
Our rivers run in currents in the swirl of your thumbprints;
Our drum beats counting out your pulse,
our coastline, the silhouette of your soul.”

So Africa smiled a little when you left.

“We are in you,” Africa said.
“You have not left us, yet.”

– Bridget Dore

Foto:  Hu Chen/ Unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest