Leesvordering:

Hemelvaartdag in Brugge – 21 Mei 2009

Mei 21, 2020

In 2009 het Hemelvaartdag ook op 21 Mei geval. Dit was die merkwaardigste Hemelvaartdag van my lewe. Daardie jaar is AfriForum genooi na ’n gesprek oor die toekoms van Afrikaans in Antwerpen, België en Kallie het my die kans gegee om ons daar te verteenwoordig. Ek het besluit om op eie koste langer te bly. Dit was my eerste besoek aan Europa ‒ in 1994 was ek wel in Engeland en Skotland, maar die kultuur verskil dramaties van Europa, dus was die belewenis van België totaal nuut vir my.

Een van my vriende het gesê ek moet na Brugge gaan, en so vertrek ek toe na die besoek aan pragtige Antwerpen na Brugge. Teen die tyd wat ek in Brugge aankom, het ek ook al stewig brongitis gehad, maar wie gee om as jy kan reis? Plus ek het destyds nog geglo ek moet alles wat ek besit inpak as ek my huis verlaat … Verder het ek verneem dat daar op Hemelvaartdag een of ander optog (processie) in die stad is, maar het nie veel daarvan geweet nie. Die res van die storie onder kom uit die dagboek wat ek toe getrou gehou het.  Die uittreksels begin op 20 Mei 2009 op die stasie:

“Eindelik stop ons en jy kan niks van die perron af sien van die stad nie, net enorme bouprojekte en hyskrane. Waar is die Middeleeuse stadjie vol swane waarvan almal my vertel? Ek staan op die perron saam met twee baie ou tannies. Dit blyk ons moet ’n verdieping afgaan. Hulle verstaan nie mooi nie en ek vra die kondukteur en verduidelik vir hulle. Toe ek by die trap wil af, skreeu die een tannie agter my aan: “Good Lord dearie, surely you do not mean to carry that huge case down the stairs?” Sy het ’n hysbak gevind en hulle hou die deur oop vir my! Van daar af volg ek die rigtingwysers na die taxi’s en land alleen in ’n reuse Mercedes bussie op. Die stelsel is jy vat die taxi wat voor in die ry staan – of dit nou ʼn bus is en jy net een mens is, of nie. Taxi’s hier is feitlik almal swart Mercedesse. Die pryse pas by die voorkoms van die kar … Ons ry verby ʼn pretpark en ek dink “O nee, dit gaan soos Brighton wees!” Maar dan skielik is ons op die mooiste plein. Dit is toegebou met stellasies en die vriendelike taxibestuurder sê dit is vir die eregaste by die processie more. Ek sê vir hom waar ek vandaan kom, is sulke ou geboue ongekend en hy lag en sê “Ag hier is ook baie moderne en nuwe geboue – kyk daardie een is eers in 1800 gebou!” Lieflike winkels … my mond water. Ek sal tog die kredietkaart moet toets. Die ou vleg deur strate en skielik besef ek ek gaan nooit weer die pad huis toe kry nie. Ek sal maar op die bed moet sit tot die taxi my weer oor 4 dae kan kom haal, want hier is geen vierkantige strate nie, alles is krom en skeef. Dan, skielik, stop ons by die B&B wat ek per e-pos bespreek het. Die taxibestuurder is so gaaf –hy gee my ʼn kaart en merk ʼn roete wat ek kan volg tussen die hotel en plein. Dit lyk vir my nog na ʼn saak van onmoontlikheid, maar ek waardeer sy moeite.  Hy is so trots op sy stad!

Die B&B se deur staan oop en ek sluip in.  ʼn Man met ʼn funky haarstyl en swartraambrilletjie nooi my in. “Benny?” vra ek. “Alana!” sê hy en ek voel dadelik tuis. Ek betaal en hy haal ook ʼn kaart uit en begin wys wat ek alles moet sien.  Dis net “kanaal” en “boot” en “Belfort” en “windmeuletjes” en “beguintjes” en “Dumon voor sjokolade” en “bier” en “eet” en “musiek” en … My kop draai binne sekondes, maar ek knik en raak al meer opgewonde.  Dalk kan ek tog ʼn bietjie uitgaan in die vier dae? Nog ʼn inwoner kom aan. Hy is ʼn jong Amerikaner wat saam met sy vrou toer en hy wil weet hoe om by die WWI-begraafplase te kom. Hy is ʼn grafsteenmaker en wil die grafstene gaan sien. Hy kry ook ʼn kaart vol aanwysings. Hulle het ʼn motor gehuur. Toe hy weg is, kry ek my beloofde afslagkaart. “En die processie?” vra ek.  Benny beduie jy moet ’n kaartjie hê om dit goed te kan sien en al die kaartjies is op, maar ek kan dalk langs ʼn straat ʼn sit- of staanplek voor ʼn winkel huur. Dit begin more om 3. Benny wys my hoe die veiligheidsdeur werk.  Hy sê sy skoonma se beursie is ʼn week tevore uit haar handsak gesteel, so ek moet maar wakker wees, maar sulke goed gebeur selde – dit is die eerste keer wat dit met iemand gebeur wat hy ken. Oral is plante, onder meer ʼn mooi malva by die voordeur – amper swart-rooi. Ons gaan teen ʼn styl en smal, donker stel trappe op. Arme Benny dra my tas en swets sover as wat hy gaan … Ek stel hom gerus dat ek nie stilweg met my hele huisinhoud immigreer het nie. “Je beter mij roep wanneer je weer gaat, dat ek de monster de trappe af kan dragen,” bied hy aan. ʼn Deur gaan oop en ek staan in die kamer wat ek maande tevore op die internet gesien het – net mooier as wat ek kon droom. Dit is ruim en lig en die lieflike ou St Gilliskerk staan reg voor die venster. Die badkamer is ʼn saal. Alles ruik na skoon wasgoed en vars lug. Jy kan self ligte eetgoed maak in die kamer – daar is allerlei eetgoed en ʼn yskas en ketel, plus ʼn hele bottel Nescafé. Die gedagte aan koffie maak my baie opgewonde.  eer is daar nie ʼn hangkas nie, maar ʼn pragtige swart ysterrak en –raam met kaasdoekgordyne omhul. Genoeg spasie vir al my goed. Na Benny weg is, was ek gou hande, kry die handsak reg en bestudeer die kaart. Benny se kaart is groter as die taxibestuurder s’n, dus neem ek dit saam en hoop maar dat ek weer die huis sal haal …

Hoewel ek nou aanhoudend hoes, sing ek toe ek met St Gilliskoorsstraat na die kanaal stap. Skielik sien ek die mooiste gesig – ʼn kanaal met smaraggroen water en rye ou huisies, romantiese bruggies, torinkies en groen bome. En voor in die pad, langs die kanaal, ʼn groen houtkruis en apteek.  Na die apteker na my hoes geluister het, gee sy my ʼn bottel hoesstroop en instruksies en verseker my oor ʼn dag of twee is my hoes verby (en dit was ook so!).

[Hierna volg ’n lang beskrywing van geboue, winkels, kos en inkopies … ek slaan dit eerder oor!]

Die Belfort (kloktoring) speel die mooiste melodieë op die uur. Ek kry sommer trane in my oë. Hierdie klokke weeg saam meer as 27 000 kilogram! ʼn Mens kan ook met 366 (een vir elke dag) trappe na bo klim om oor die stad uit te kyk, maar ek het eenvoudig nie die asem nie. Oral is stoele op die sypaadjies gepak vir die optog en pryse wissel van E10 tot E25. Ek besluit om die kat mooi uit die boom te kyk voor ek begin plek soek. Re die processie. Toe ek by Benny plek bespreek het destyds, skryf hy:  “The chosen long weekend is a special weekend in Bruges.  Then we have the blood procession.”  Ek het niks verstaan nie en my tot Wikipedia gewend.  Daar lees ek toe:

The Procession of the Holy Blood is a large religious procession dating back to the Middle Ages, which takes place each Ascension Day in Bruges.  The centerpiece is the Blood of Christ, a coagulated relic said to become fluid again each year on this day.  Sixty to one hundred thousand spectators watch the procession, a parade of historical scenes and biblical stories.  Choirs, dance groups (e.g. dance theatre Aglaja), animals (ranging from geese to camels), horse-drawn floats and small plays with many actors pass by within a couple of hours.  More than 3 000 people participate in the spectacle, which is also called “Brugges’ Schoonste Dag” (The Most Beautiful Day in Bruges).  The event retains its spiritual aspect, as many bishops, priests and nuns from all over the world come to celebrate.  When the Holy Blood passes by, the crowd becomes still and silent in reverence.

En hier is dit nou die dag voor die optog. Dan sien ek die Heilige Bloed Basiliek is langsaan en ek stap in. Daar is baie mense. Ek gaan na die boonste kapel. Die binnekant is ʼn verrassing – dit is ʼn reënboog van kleure en dit is klein. Oral sit mense en bid of steek kerse op voor ʼn altaar regs. Daar is ʼn besondere gewyde atmosfeer en ek gaan sit ook en bid. Die genade van die Liewe Heer oorweldig my so as ek dink hoe geseënd ek is om hier te sit en al hierdie goed te beleef, dat ek in trane is en natuurlik begin hoes. Ek stap dus eerder uit as om die mense om my aan te hou steur. Hoes-hoes land ek langs die tannie wat aandenkings by die deur van die kerk verkoop. Sy roep my nader en grawe in ʼn laai. ʼn Ou blikkie vol pepermente kom tevore en sy gee my een vir die hoes. Dit doen wondere en ons begin gesels – natuurlik my aksent wat haar laat vra: “Waarvandaan?” Sy het ʼn baie liefdevolle gesig. Ek koop ʼn kaartjie vir die museum langs die kerk.  Na die rondstap deur die museum, gesels ek en die tannie weer. Sy vra of ek ʼn kaartjie vir die processie het. Nee, sê ek, maar ek gaan ʼn stoel bespreek. Weer grawe sy in die laai en bring ʼn kaartjie te voorskyn. “Dis ʼn baie goeie plek, op die stellasies waar die processie op die Markt gaan inkom,” sê sy. Ek bedank haar hartlik en vra wat ek skuld. Sy sê vir my, niks – die Here het haar die kaartjie laat hou vir iemand spesiaal en sy glo dit was vir my. Ek voel ongelooflik oorweldig en beduie vir haar maar ek is dan ʼn Protestant. Moet sy dit nie eerder vir iemand van die kerk gee nie? Nee, sê sy, as jy die Here met jou hart kom soek, wat maak jou kerkverband saak? Ek kon haar nie genoeg bedank nie en was alweer in trane. Dit was net te wonderlik en het my so nederig laat voel. Ek kan nie eers mooi onthou waar ek toe heen is nie, maar ek het die kaartjie vasgeklou asof ek dit nooit weer sal los nie. Skielik het ek besef dat die reis ʼn ander dimensie het en dat ek inderdaad hier was as soeker na God.

In dié droomstaat dwaal ek deur die strate en verwonder my aan die voorbereidings vir more wat nou iets heeltemal anders vir my beteken. Ek loop terug op my spore en neem ʼn perdekar af. Die klanke van die perdepote op die keistene en die kariljon agter haak vas diep in my kop. Waar ek vroeër seker was waar ek heengaan, begin ek stap op gevoel en skielik besef ek ek het geen idee waar ek is nie. Daar is ʼn somber ou kerk voor my – St Walburga. Dit is reeds gesluit. Dit is gebou tussen 1629 en 1642. Die vooraansig is te groot vir my kamera se lens. Ek lees wat van die kerk gesê word in die portaal en ontdek die aangrypende boodskap waarvan die foto hierby verskyn. Oorkant is die mooiste ou huise wat ek wel afneem.

Benny se kaart help en ek vind die pad huiswaarts, maar stop kort-kort om my aan die huise te verstom. Toe die kanaal wat my by St Gilliskoorsstraat bring, sigbaar word, sien ek nog iets wat my oë nie kan glo nie – swane op die kanaal, en hulle het sowaar drie kuikens. Twee priesters voer hulle. Dit is al laat toe ek St Gillis in die oog kry, maar dit is so ʼn mooi aand, dat ek eers ʼn ruk buite die kerk gaan sit en luister na die voëls. In St Gillis se voorportaal is ʼn nota wat sê dat honde welkom is in die kerk, mits die base die poop-scoops onthou. Die nota is aan die hond gerig en sê iets soos: “Ons weet jy het mooi maniere, maar het jou baas?” Dis my soort plek die! Daar is ook baie mooi moderne geboue hier.

Die res van die aand word deurgebring met koffie, ʼn heerlike warm borrelbad, ʼn bietjie wasgoed wat gewas word en die uitpak van al my goeters.

[Die volgende dag het ek die stad verken en selfs ’n boottoer onderneem, waarna ek my plek op die stellasie gaan inneem het.]

Dit is vyftien minute voor die funksie begin, en nou eers plak die organiseerders die nommers op die stoele en vee die stoele rustig met lappies af. Mense drom saam en wag om te sit – ook bejaardes, maar dit skeel hulle min. Ek vra ewe vriendelik of ek kan help en kry ʼn kyk asof ek iemand ernstig probeer aanrand het. Uiteindelik sit ons – regs van my ʼn Belgiese ingenieur en sy Oosterse vrou, haar dogter en kleindogter, regs van my ʼn ma en seuntjie van so 4-jaar. Voor my is ʼn Vlaamse tannie met ʼn Franse gas. Die seuntjie se pa neem deel aan die processie en hy is opgewonde om sy pa te sien. Hy vra ook kort-kort: “Wanneer kom’t paardjes, ek wil NU het paardjes zien!!!” Dan sê die ma hy moet net wag, hulle kom nou-nou. Dan is dit weer: “Wanneer kom’t schaapjes, ek wil NU het schaapjes zien!!!” en so gaan dit aan. Hy stamp sy voetjies en dan weergalm die stellasies. Skielik staan die Vlaamse tannie op, gee hom ʼn houtjie en sê: “Nu stil sit, hoor?” Die arme outjie was stil soos ʼn muis. Tydens die processie sê die ma nou en dan: “Kyk die skapies, Lievert.” “Kyk die perdjies, Lievert.” “Daar is Papa, Lievert.” Maar hy gluur net vir die kwaai tannie!

Wat kan ek verder sê – dit was ʼn ongelooflike belewenis. Om te dink jy sien ʼn optog wat mense van voor 1291 reeds gesien het en wat van toe af elke jaar presies so herhaal word! ʼn Oulike boekie, deur seuns in ʼn tipe boyscout uniform verkoop, het vir goeie inligting gesorg. Om kortweg te verduidelik, groepe mense stap in ’n lang optog en voer die hele verhaal van die Bybel op met klein toneeltjies wat hulle uitbeeld. Soms te voet, soms op vlotte. Die optog gaan deur die stad en elke paar treë steek hulle vas, voer die toneeltjie op, en stap dan weer verder. Tussenin is groepe wat sing, dans of met allerlei interessante instrumente musiek maak. Laaste is dan ook ’n uitbeelding van hoe die reliek in Brugge beland het. Ek is te veel van ’n Protestant om in relieke te glo, maar die geskiedenis en die mense se ontsag en geloofsbelewing kan nie anders as om jou diep te raak nie. Vir my was die boodskap maar weer dat God jou orals sal vind. Volgens die boekie was die boodskap van die jaar ook “Het leven is een eeuwig zoeken …”

Die mense leef hulle in die gebeure in – hulle boe Josef se broers wat hom verkoop, gil as Johannes die Doper se kop afgekap word en sis woedend as Judas tydens die Laaste Avondmaal vra of hy die een is wat Jesus gaan verraai. Later sê die TV daar was 30 000 mense op die plein. Mense in rolstoele het ʼn spesiale plek gehad en polisiemanne, gewapen met pistole, het orde gehou. So drie weke tevore het ʼn man in ʼn skare met ʼn kar ingeploeg in Nederland en dalk daarom die voorsorg? Van die tonele het ook vir groot pret gesorg. Vader Abraham was met sy trop skape op pad, maar die skape het die toeskouers besonder interessant gevind en afgedwaal om aan almal te snuif. Gelukkig het Abraham ook ‘n flink skaaphond saamgebring en hy en sy hond het die troppie skade gou weer onder beheer gehad. Later het die herders van Betlehem oor verbygeloop met hulle swartgesig skapies, maar dié was baie soet en het agter hulle herder aangeloop, sonder om rond te kyk!

Toe ons gaan sit, was die weer swaar en dreigend, maar soos die processie vorder, het die lug al blouer geword – asof die seën van die gebeure selfs die weer verander. Om foto’s te neem, was soos heiligskennis, maar ek het besef dis iets wat ek nooit sal kan oorvertel nie, ek moet dit op ʼn manier vaslê vir later …  En toe die bloed die Markt ingedra word, daal ʼn vreemde stilte inderdaad oor almal neer. Toe alles verby was, is die mense verbasend vinnig uiteen. Ek het besluit om na die slotplegtigheid op die plein voor die kerk te gaan, waar daar min mense was – meer kerklikes en bejaardes, asook ʼn paar nuuskierige toeriste, maar dit was vir my net so aangrypend. Biskop Rogier het die seën oor almal uitgespreek en sy boodskap is in 14 tale vertaal. Ek wens Afrikaans was een daarvan. Elke keer na ‘n vertaling in ‘n taal gelewer is, het ons Ubi caritas saamgesing en nadat die boodskap die laaste keer gelees is, is die bloed gebêre tot Hemelvaartdag 2010, en is ons uiteen. Ek het my ontdekkingstog deur Brugge voortgesit.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest