Leesvordering:

Hoe om makliker met kinders na Australië te verhuis

Jun 21, 2022

Deur Robyn Vogels

Om te verhuis, bring sonder twyfel baie spanning mee. Jy is baie senuagtig en bekommer jou oor alles en nog wat, ook oor die kinders. Maar onthou, dit is die onbekende wat jou die bangste maak. Ons wil jou graag voorberei sodat jy weet wat om te verwag.

Kinders dink nie so ver vooruit soos ons as volwassenes nie. Ons wonder al voor ons trek hoe die nuwe skool gaan wees, hoe gou hulle gaan aanpas en nuwe vriende maak. Maar die kinders begin hulle eers ’n paar dae voor die skool begin daaroor kwel. Jou kinders se tydlyn is baie korter as joune; moenie hulle aandag te gou vestig op alles waaroor jy jou bekommer nie.

Jou prioriteite vs. jou kinders s’n

Ons weet ’n trekkery kan jou baie gespanne maak, veral ’n internasionale skuif waarvoor jy so baie goed moet finaliseer voordat julle vertrek. Onthou jou kinders se prioriteite verskil van joune. Jy as ouer moet aan 10 000 verskillende goed dink, maar klein Jannie is net bekommerd oor sy teddiebere wat gaan bang raak in die donker boks.

Ons het dit ook al beleef. Ons het gesien Tinkerbell hou ook nie van die donker nie. Jy moet verstaan dat dít wat vir jong kinders belangrik is, verskil van wat vir jou belangrik is. Moenie sommer oor alles baklei nie; daal net eers ’n bietjie af tot op hulle vlak en luister waaroor hulle hulle bekommer. Jy kan gewoonlik maklik aan ’n oplossing vir hulle probleme dink, byvoorbeeld ’n paar sterre in die donker vir Tinkerbell. Kinders wat gespanne is, het nodig dat jy aktief en aandagtig na hulle luister.

Betrek die kinders

’n Goeie idee is om kinders hul eie bokse te laat versier. Dit werk vir kinders van alle ouderdomme, tieners ook. Niks kan lekkerder wees as om hulle gesigte dop te hou wanneer hulle versierde houers in Australië aankom nie. Hulle glimlag van oor tot oor as hulle hul bokse herken.

Opruim, pak, weggee … Daar is so baie om te doen! Onthou, die kinders kan ook help. Sit drie bokse in die gang by elkeen se slaapkamer. Noem hulle “liefdadigheid”, “weggooigoed” en “inpak” of wat jy ook al wil. Laat die kinders hulle kamers se inhoud sorteer en besluit wat hulle wil saamvat en wat hulle wil weggee of weggooi. Jy sal verbaas wees hoe “volwasse” dit hulle laat voel en hoe ernstig hulle die taak opneem. (Jy kan dit altyd agterna weer sorteer as hulle nie kyk nie.)

Wanneer en hoe om vir die kinders te vertel julle gaan trek

Mense vra dikwels wanneer moet hulle vir die kinders vertel hulle gaan trek. Volgens ons hang dit van die kind se ouderdom en tydsbegrip af. Hoe ouer die kinders is, hoe vroeër kan jy vir hulle vertel. Veral vir tieners moet jy vroegtydig vertel, want hulle moet tyd hê om daaroor te dink en aan die idee gewoond raak; en dalk sal hulle jou ook vra om die trekkery te heroorweeg. Hulle wil verstaan wat aangaan en uit hul eie saamwerk eerder as om te voel hulle word oorhaastig in iets ingeboender.

’n Tweejarige en ’n vyfjarige het nie regtig ’n goeie begrip van tyd nie. Vir hulle vertel jy so na as moontlik aan die datum waarop julle gaan vertrek. As hulle verstaan hoe ’n kalender werk, kan jy die dae op die kalender doodtrek soos die dag naderkom.

Nog ’n wenk is om by die feite te hou. Jy en jou maat moet dikwels baie aspekte rakende die trekkery bespreek, byvoorbeeld werkskontrakte of die nuwe werksomgewing. Hou daardie gesprekke so privaat as moontlik. Moenie sulke sake voor die kinders bespreek nie, want dit kan dalk in ’n hewige debat ontaard. Jy dink dalk jy en jou maat ruil net menings uit, maar die kinders ervaar dit anders. Hulle kan in hulle dop begin kruip omdat hulle aanvoel dat ma en pa gespanne is. Beperk sulke gesprekke tot die minimum. Vertel vir die kinders presies wat gaan gebeur en hou by die feite.

Wat jy nooit vir die kinders moet vertel nie

Kinders bekommer hulle altyd omdat hulle hul vriende nie meer gereeld gaan sien nie en dalk gaan verloor. Ons hoor gereeld hoor hoe ouers vir hulle kinders sê: “Moenie kwel nie. Jy sal gou nuwe vriende maak.” Moet dit asseblief nie sê nie; jy gaan jou kind se hart breek.

Vriende is nie vervangbaar nie, en jy gaan jou kinders niks help deur te sê hulle moet hulle vriende vervang nie. Stel hulle liewer gerus deur te verduidelik hoe hulle met hulle vriende in kontak kan bly, byvoorbeeld deur te Skype of aanlyn speletjies te speel.

Maak seker jy bestuur jou kinders se verwagtinge rakende Skype en aanlyn speletjies. Verduidelik vir hulle hoe die tydsones verskil. Ons ken baie gesinne wat na Australië verhuis, veral met tieners, en dan moet die kinders om 00:00 of 02:00 aanlyn speletjies speel, want dit is wanneer hulle vriende in Suid-Afrika wakker is.

Herinner jou kinders gereeld dat hulle in Australië “meer” vriende gaan maak, nie net “nuwe” vriende nie.

Ander topwenke vir ’n trekkery met kinders

Bestuur verwagtinge

Een van die dinge wat jy moet doen, is om jou kinders se verwagtinge te bestuur. Verduidelik vir hulle dat julle ’n huis sal moet soek en dat hulle dalk met tye baie saam met julle sal moet rondry of sit en wag. Kinders verwag glad nie dat hulle die eerste paar weke in die nuwe land heeltyd in ’n kar gaan sit nie.

Hou ’n paar wortels voor hulle neus

Dis altyd goed om ’n kind met ’n paar wortels voor die neus te lok. Beplan ’n paar geleenthede om iets saam met jou kinders te doen wanneer julle in Australië aankom. Kyk op die internet wat in die stad aangaan waarheen julle op pad is. Laat jou kinders saam met jou iets lekkers kies waarna hulle kan uitsien terwyl jy hulle steeds daaraan bly herinner dat alles in die eerste paar weke nie net pret en plesier gaan wees nie.

Sluit by internasionale organisasies aan

As jy beplan om met kinders na die buiteland te verhuis, laat hulle by ’n internasionale organisasie aansluit. Dan kan julle reeds voor julle oorsee vertrek kontak maak met ’n groep in die land waarheen julle verhuis.

Dit kan enigiets wees wat jou kinders geniet en wat in die land waarheen julle verhuis ook beoefen kan word, byvoorbeeld karate of die Scouts of Girl Guides. Laat hulle so gou as moontlik aansluit sodat hulle daarna uitsien om in die nuwe land ook weer by ’n groep aan te sluit. Die Scouts is altyd ’n goeie keuse, want jou kinders kan kontak hou met die groep by die huis. Hulle word dikwels penmaats en die groepe in die twee lande sal dalk met mekaar kontak maak vir die internasionale ervaring.

Dink ’n bietjie wat jou kind op die oomblik doen en hoe jy met ander groepe in Australië kan skakel. Google hulle en reik uit. Baie klubs reageer goed op navrae op hul Facebook-blad. Stuur net ’n boodskap en sê: “Hallo. Ons trek daar na julle toe.” Hulle reageer meestal baie verwelkomend.

Jy kan natuurlik vir jouself iets soortgelyk doen. Dink ’n bietjie aan watse sport jy deelneem en aan jou stokperdjies. Reik uit en begin netwerk.

Nog wenke …

Onthou, jou kinders leer eintlik baie. Gaan lees gerus meer daaroor op ons blog.

Lees gerus ook Ruth E. van Reken en David C. Pollock se wonderlike boek Third Culture Kids. Ruth verduidelik dat kinders ’n bietjie soos verkleurmannetjies is. Hulle kyk dinge deur waar hulle begin skoolgaan en verander ’n bietjie van kleur om in te pas. Dan kyk hulle dinge weer deur en pas nog ’n bietjie aan. Jou kinders gaan leer om onbewustelike lyftaalleidrade te lees en groepsgedrag te verstaan, en dit gaan hulle in hulle latere lewe baie goed te pas kom. Om lyftaal te verstaan en om te kan interpreteer wat mense dink en voel, is wonderlike vaardighede. Die boek lees lekker en ons beveel dit sterk aan.

Jy neem dalk nou besluite wat vir jou kind op die kort termyn baie spanning meebring, maar ons belowe jou die langtermyneffekte is baie meer positief. Moet dus nie te veel aan die hier en nou dink nie; fokus liewer op die lang termyn. Wat jy doen, gaan beslis in die toekoms voordelig wees vir jou kinders.

LEES OOK: Migrasie met kinders – Topwenke vir verhuising met jou kind

Meer oor die outeur

Robyn Vogels

Robyn Vogels het Personnel Relocations in 2008 gestig om mense wat na Australië verhuis te ondersteun. Haar persoonlike ervaring van verhuising oor die wêreld heen gee haar begrip vir die ingewikkelde verhuisingsproses, veral vir gesinne met kinders. Haar dienste vereenvoudig die proses om dit gemaklik en moeitevry te maak teen ’n bekostigbare prys.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Jou kind en verlies

Jou kind en verlies

’n Mens wil glo dat kinders nie verdriet ervaar nie, maar hulle beleef dit wel. Selfs as ’n mens dit regkry om kinders teen die ergste hartseer te beskerm, sal daar tog ’n keer kom wat hulle een of ander vorm van verlies ervaar en daaroor sal rou. Die dood van hetsy...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. ‘Komitee moet Phala...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest