Leesvordering:

Hoe oop is die VK-ekonomie vir Suid-Afrikaanse ondernemings?

Okt 12, 2017

Die konsultante by Breytenbachs Immigration merk al meer op dat die wyse waarop Suid-Afrikaners oor emigrasie dink al meer verander. Waar die fokus voorheen op ’n permanente trek oorsee was, het die denkwyse nou meer geskuif na beweegbaarheid in die wêrelddorpie en om sakebedrywighede na die Europese mark uit te brei.

Theresa May, eerste minister van die Verenigde Koninkryk (VK) het voorheen vanjaar beklemtoon dat die VK-regering alle sakeondernemings, groot en klein, as die ruggraat van die VK-ekonomie beskou, en ’n rede waarom die VK altyd sakeondernemings sal verwelkom. Dit is uiteraard uitstekende nuus vir die groeiende aantal Suid-Afrikaanse sakeondernemings wat dit oorweeg om oorsee uit te brei.

Tans heers daar onsekerheid in die VK-mark oor die invloed wat Brexit op die ekonomie en werksgeleenthede sal hê. Die goeie nuus is egter dat die vertrek van menig EU-burger en -onderneming tot meer sakegeleenthede vir Suid-Afrikaners mag lei.

Sake-emigrasieroetes na die VK

Suid-Afrikaners het ’n aantal sake-emigrasieroetes na die VK tot hul beskikking. Elke roete het verskillende vereistes en bied verskillende voordele.

Die meeste sake-emigrasieroetes lei tot Indefinite Leave to Remain, en uiteindelik VK-burgerskap. Gelukkig hoef Suid-Afrikaners nie hul Suid-Afrikaanse burgerskap op te gee om VK-burgerskap te bekom nie, omdat Suid-Afrikaners dubbele burgerskap kan behou as hulle sekere prosesse volg. Dubbele burgerskap bied natuurlik die voordeel dat die persoon met gemak tussen die twee lande kan beweeg en sake sonder enige visumomslagtigheid kan doen.

Die meeste ander VK-immigrasiekategorieë, buiten gesin- en voorouerroetes, vereis die betrokkenheid van ’n VK-werkgewer of -borg. In dié artikel fokus ons op sake-emigrasieroetes wat nie die betrokkenheid van ’n VK-werkgewer of -borg vereis nie.

Tier 1 Entrepreneur

Die Tier 1 Entrepreneur-immigrasiekategorie bied ’n veilige, sinvolle geleentheid om geld in die VK te belê in sakeondernemings wat jy self oprig of reeds ’n lopende saak is. Aansoekers van dié kategorie moet aktief by die bestuur van een of meer sakeondernemings in die VK betrokke wees.

Dié roete bied verskillende geskiktheidsvereistes wat daarvan afhang of die aansoeker tot beleggingsgelde van tussen £50 000 en £200 000 toegang het.

Een van die voordele van dié emigrasieroete is dat dit keuse bied om ’n entrepreneurspan met een ander Tier 1 Entrepreneur-aansoeker te vorm. Die beleggingsfondse kan daarom gedeel word, wat aan streng vereistes onderhewig is. Ons merk egter op dat daar gewetenlose ondernemings is wat kliënte die keuse bied om te belê in ’n onderneming wat hulle sal “opspoor”. Wees versigtig omdat dit niks minder as ’n geldmaakskema vir bedrieërs is nie.

Tier 1 Investor

Die Tier 1 Investor-kategorie vereis ’n aansienlike finansiële belegging in die VK. Hoewel ’n baie voordelige VK-emigrasieroete, is die hoëvlakbelegging dikwels ’n hindernis vir baie Suid-Afrikaanse sakelui.

Die aansoeker moet sy/haar eie geld hê wat onder sy/haar eie beheer is, in ’n beheerde finansiële instelling gehou word, in die VK bestee gaan word en nie minder is as £2 miljoen is nie. Die aansoeker moet ook ’n rekening by ’n VK-beheerde bank hê vir die doel om nie minder nie as £2 miljoen is die VK te belê nie, met ’n keuse van finansiële instrumente waarin daar belê kan word.

Tier 1 Graduate Entrepreneur

Dit is ’n onbekende en baie opwindende emigrasieroete wat tot nie-EU-graduandi beskikbaar is. Onlangse graduandi wat opregte en geloofwaardige sake-idees vir die VK het, kan aansoek doen deur van dié roete gebruik te maak. Die aansoeker moet ’n proses volg om deur die VK se departement van internasionale handel (DIT) of deur ’n gemagtigde VK-hoëronderwysinstelling onderskryf te word.

Sole Representative-visum

Die gewildheid van die Sole Representative-visum kan toegskryf word aan die feit dat daar geen betrokkenheid deur ’n VK-werkgewer of aanvangskapitaal benodig word om te kwalifiseer nie.

Dié roete stel Suid-Afrikaanse maatskappye in staat om een sleutelpersoon na die VK te stuur om ’n volfiliaal of VK-tak te stig. Die werknemer moet ’n seniorwerknemer wees, beoog om voltyds in diens te wees en oor volle mag beskik om operasionele besluite namens die maatskappy te neem. Die aansoeker mag ’n aandeelhouer in die oorsese maatskappy wees, maar mag nie ’n meerderheidsaandeelhouer wees nie.

Indien jy belangstel om meer inligting oor sake-emigrasieroetes na die VK te bekom, kan jy ons webtuiste by http://www.bic-immigration.com/ besoek of die sake-emigrasiekenner JP Breytenbach by info@bic-immigration.com e-pos.

Twitter: @BIC_immigration
Facebook: @immigrationconsultants

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest