Leesvordering:

Hoe vier Suid-Afrikaners in die buiteland Kersfees?

Des 11, 2019

Somerkersfeeste in Suid-Afrika is ‘n uitbundige kombinasie van seevakansies, familiekuiers en uithangetes. Dit maak nie saak of jou familie op Oukersaand of Kersoggend presente oopmaak en of julle groot ete ‘n middag- of aandete is nie, Suid-Afrikaners weet hoe om Kersfees spesiaal te maak en die lang somerdae ten volle te benut.

Talle van die ongeveer 23 000 Suid-Afrikaners wat per jaar emigreer na onder andere die Verenigde State, Kanada, Australië en die Midde-Ooste verruil die vreugde van ‘n Somerkersfees vir ‘n Winterkersfees of vir nuwe Kerstradisies wat ‘n mens laat terug verlang na die warmte en gasvryheid van jou eie land.

Danie, wat reeds ses jaar in Dubai woon en in die gasvryheidsbedryf werk, vertel dat Kersfees nie daar gevier word nie. Behalwe dat hulle jaarliks oor die Kerstyd werk, is daar nie Kersliggies in die strate nie en daar is geen teken van die tradisies waarvoor ons so lief is nie. “Ons ekspats vat gewoonlik ‘n dag in die feestyd af en kom bymekaar om saam te eet. Ons bring resepte van die huis af en probeer iets van elkeen se tradisionele Kersfeesvieringe herskep,” vertel hy. In Arabiese lande soos Dubai wat weens geloofsoortuigings glad nie Kersfees vier nie, kan dit veral moeilik raak om as Suid-Afrikaners Kersfees te vier.

Die Verenigde State is natuurlik ‘n heel ander storie. Die grootste deel van die land is in Desember ‘n wintersprokiesland met karakters soos Sinterklaas en takbokke wat ‘n baie prominente rol in die feesvieringe speel. Louise het onlangs met ‘n Amerikaner getrou en na Texas verhuis. Vanjaar sal haar eerste tradisionele Amerikaanse Kersfees wees, en so mooi soos wat die sneeu is, verlang sy terug na lang somerdae, die reuk van sonskerm en speletjies op die strand. Sy voel vasgevang in haar huis. “Ek verlang reeds huis toe en hoe meer ons met die Kersbeplanning doenig geraak het, hoe meer het ek besef ek wil vreeslik graag ‘n Suid-Afrikaanse element inbring. Ons het mekaar toe tegemoetgekom: Ek het die Thanksgiving-tradisies ten volle aanvaar, terwyl Kersfees ‘n meer Suid-Afrikaanse invalshoek gaan hê met lamsboud, tong, koperpennieslaai en my ouma se melktert,” verduidelik sy entoesiasties.

Soms is dit nie net die kultuurgrense wat dit vir ekspats moeilik maak om Kersfees in hul nuwe tuiste te vier nie, maar natuurlik ook die taalgrens. Vir Suid-Afrikaners in Suid-Korea is dit goed om te weet dat hierdie land een van die toeganklikste in die Ooste is vir Kerstradisies. “Dit beteken natuurlik nie dat jy sommer net by die vieringe betrokke kan raak nie. Ek sien dit as my plig om hulle Kerswoorde en tradisies te bestudeer om seker te maak ek kan hulle ‘n goeie feestyd toewens. Iets so kleins soos om “Geseënde Kersfees” te kan sê, laat ‘n mens sommer klaar meer tuis voel,” verduidelik Magriet wat al twee jaar in Seoel skoolhou. Sy vertel ook dat sy elke jaar ‘n Koreaanse én Suid-Afrikaanse Kersfees het. “Ek ken ‘n paar ekspats in die stad en ons kom gewoonlik op Oukersaand bymekaar om treffers soos Stille nag en Somerkersfees te sing en ‘n Kersspel te doen. Dit herinner my baie aan hoe ons kleintyd saam met al die nefies en niggies ons eie Kerstonele opgevoer het.”

Die feestyd kan baie alleen raak vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Daarom is dit belangrik om vas te klou aan die tradisies en gebruike van jou tuisland, maar ook bereid te wees om nuwe tradisies te ervaar en aan te leer sodat jy met jou nuwe omgewing kan assimileer en sterker bande kan bou.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest