Leesvordering:

Huisbouavonture in Nederland

Feb 15, 2024

Deur Alecia Odendaal

Toe ek verlede jaar vir AfriForum Wêreldwyd geskryf het, was ons huis toe onder die stof, oë die meeste dae rooi gehuil (myne, nie my man s’n nie) oor ’n kamer wat nog in wording was terwyl my maag net elke dag groter geword het!

Die goeie nuus is dat ons wel die sperdatum van 37 weke van swangerskap gehaal het met ’n kamer én babakamer wat afgehandel is. My verloskundige was baie beslis dat geen bouwerk mag plaasvind ná week 37 van my swangerskap nie, en ek het natuurlik die kans gebruik om te sorg dat my man stiptelik daarby hou. My man was dapper en presies op 36 weke en 6 dae het hy ongeveer 19:00 die aand die laaste lamellering gelê en selfvoldaan verklaar dat die baba nou maar kan kom! Vriende het saam duim vasgehou dat ons die sperdatum gaan haal en boodskappe met die eindproduk is daardie Sondagaand uitgestuur. Nooit weer nie! Dit sê ek áltyd en dan bevind ons onsself in allerhande interessante penaries.

Ek het die afgelope twee jaar baie na ons projek gestaan en kyk, en gewonder waarom op dees aarde ons besluit het om die projek aan te pak. Elke keer was die antwoord maar net dieselfde: Hoekom nie? Ek en my man is gelukkig genoeg dat ons uitkyk op die lewe dieselfde is – jy lewe net een keer; doen soveel as wat jy kan in hierdie lewe wat vir jou gegee word, en wees dankbaar vir elke ding wat jy wel kan aanpak.

Ons huisbouavontuur het in November 2021 afgeskop. Ons het ons vorige gemaklike, lekkerblywoning verkoop, ons besittings alles gestoor met die oog op vier maande, wat toe sewe maande geword het. Ons het eers ’n bietjie getoer en amptelik in Februarie 2022 met bouwerk begin, in die hartjie van die winter! Enigiemand kon duidelik sien ons was groentjies met bouwerk om dié mal perd in die Europese winter te wil opsaal. ’n Dak oor ons kop moes ons kry en ons het maar aan die werk gespring. Ons het vir onsself sowat drie maande gegun om ’n gedeelte van ons huis leefbaar te maak. In dié drie maande het ons verblyf gehuur in onbekende klein dorpies wat ons wou verken, wat ook darem naby genoeg was om naweke te gaan klus – die Nederlandse woord vir werk of bou.

Miskien is dit ook goed om vir julle ’n bietjie agtergrond te gee oor die huis (wat my ma in trane laat uitbars het toe sy die eerste keer vir ons kom kuier het). Ons het begin jeuk vir ’n nuwe uitdaging (asof die trek na ’n nuwe land toe nie genoeg van ’n uitdaging was nie!). Een middag het ons al twee ’n huis op die huismarkwebtuiste gesien waarin niemand belanggestel het nie, ongeveer 100 km van waar ons toe gewoon het. Ons het sommer dieselfde middag gaan kyk en die volgende dag is ons aanbod aanvaar. Gits, ons eie huis was nog nie eers verkoop nie! Gelukkig was ons huidige woning verkoopsgereed en binne twee weke verkoop. Ons kon begin droom. Die huis het aan ’n kluisenaar behoort, wat 15 jaar alleen gewoon het nadat haar man oorlede is. Alle vensters was enkelglas of plastiek; daar was geen isolasie in die dak of onder die vloere nie. Die voordeur was toegerank met klimopplante en sowel die deurglas as die kombuisvensters was gebreek. Die arme vrou het die winters dus sonder isolasie deurleef – ons kon seker ook maar die eerste winter só aanpak! Ons erf bestaan uit ’n hoofgebou, en so vyf meter verder is ’n ander gebou wat ons in ’n garage, ’n studio met ’n bad- en studeerkamer, en ons fietsafdak verander het. As jy verby ons huis loop, staan jy op die oewer van die Lekrivier, ’n pragtige uitsig vroegoggend.

Maar terug na die gestoei van ’n dak oor ons kop kry. Ons het gou gesien ons gaan ietwat meer ure moet insit om ons teikentyd te haal. Wel, en so het ons ná werk met koplampies, termiese klere en handskoene begin afbreek en oorbou. Die bure het gedink ons is stapelgek – ons weet dit, want hulle het dit vir ons gesê!

Ons eerste groot projek was om die bestaande dak se helling te verander. Dit het beteken dat ons die bestaande dak sou moes afbreek en oorbou. Daarna moes ons vloere gooi; ons het self 60 sementsakke gedra (hier lewer hulle jou aankope in die straat af), gemeng en gegooi, en eers ná middernag kon ons terugsit. Ons het nie rekening gehou daarmee dat alles in een sarsie gegooi moes word nie.

Daardie eerste aand wat ons in Maart 2022 onder ons eie dak – wat ons twee self oorgebou het – geslaap het, het ek lekker gehuil. Wie sou kon dink dat ons twee kantoorwerkers ’n dak en die vloer van die eerste verdieping self kon bou? Ek was baie trots – en yskoud, want ons verhitting het die vertrek nog nie warm genoeg gemaak nie en ons twee Suid-Afrikaners moes nog leer van mooi isoleer sodat die wind nie orals ’n gaatjie kry om in te kom nie. Dit was glad nie lekker vir my om vir ’n hele paar weke met ’n mussie op my kop te gaan slaap, dan die volgende dag my mooi werksklere aan te trek en te gaan korporatiewe Nellie speel nie, net om weer die middag terug te gaan huis toe en bouklere aan te trek.

Nie lank daarna nie het ek op ’n lekker koue winterdag die man jammer gekry wat ons ou staal kom oplaai het. Ons het hom gehelp om die staal op sy bakkie te laai. Iets het verkeerd gegaan; die staal het van die bakkie afgegly en op my voet geval. Ek het my groottoon gebreek en was vir ses weke in ’n moon boot. Dit het sommer gevoel of alles dan moeiliker is. Terwyl my man my in die huis indra, hardloop die oom agter ons aan met ‘n €10-noot vir blomme om jammer te sê (blomme was vir ’n slag laaste op my brein!). Ons lag wel nou nog as ons terugdink aan die arme oom wat weke daarna nog kom jammer sê het en belowe het dat hy nooit weer ’n vrou sal laat staal dra nie.

Die tyd het aangestap en so het ons stukkie vir stukkie dinge gedoen gekry; soms lelik in die stof gebyt, maar uitgehou en aangehou. My ouers het in die somer van 2022 kom kuier. Ek was baie op my senuwees oor hul reaksie, maar tot my verbasing was hulle baie ondersteunend en het sommer dadelik ingespring en gehelp. Dis nou totdat ons teruggekeer het uit Italië ná ’n paar dae saam met hulle daar, toe my ma begin snik aan tafel die aand. Sy kon nie dink dat ons só kan bly nie, en ook nie dat sy en my pa ons oor ’n week so moes los om na Suid-Afrika terug te keer nie. Nodeloos om te sê, hulle was intussen alweer twee keer hier.

Die projek het baie meer geword as net ’n huisoorbouprojek, maar het ons soveel dinge die afgelope twee jaar geleer.

Dis ’n ander tipe gesukkel as jy graag net ’n spesifieke pyp wil koop wat almal in Suid-Afrika ken, maar niemand hier ’n idee het waarvan jy praat nie. So leer ons toe maar om die prentjies te Google, en dit dan aan die verkoopsagent te wys, wat dan gewoonlik met verbasing uitroep: “O, you’re looking for a …!”

Ons het tot dusver al 900 m2 se rommel en boumateriaal verwyder, wat insluit die vorige eienaar en haar man se klere, asook sy gereedskap wat sy net so laat staan het. Ons het ook ’n vleuelklavier saam met die huis ryker geword – maar as daar nou iets is wat ons nié is nie, is dit musikaal. Ons het toe maar die klavier op die Suid-Afrikaanse groep geadverteer en gesê enige iemand wat na hul klavier in SA verlang kon hierdie een maar kry. Die reaksie was oorweldigend en ’n Suid-Afrikaanse paartjie uit België het die klavier vir hul dogtertjie kom haal.

Met die geboorte van ons seuntjie het ons so bietjie rem aangedraai en ons plan is nou om in 2024 klaar te bou. Dis ’n heel ander speletjie om met ’n baba in die huis te bou – dit het ons sommer baie gou gesien die eerste naweek in 2024 toe ons weer begin bou. Hy is tans nege maande oud en wil na alles kyk en aan als deelneem. So, nou kruip hy maar deur die kaste en oor die gipsplate en geniet homself gate uit. Ek hoop maar net hy wil nie ook eendag self ’n huis oorbou nie!

Vyf bome het al omgewaai: vier op die dak en een waar die karre parkeer. Die goeie ding is daar kan net soveel bome omwaai; die slegte ding is egter dat ons nog sowat 22 bome op ons erf het!

So tussendeur die huisbou het ons besluit dat ons tog nou in die restourasiefase van ons lewens is en het dus ’n 1964 Volkswagen T1-bussie gekoop. Dié keer het iemand ons darem gehelp met die restourasie; dié man is gek oor Safari-koejawelrolle uit Suid-Afrika! So tussen die koejawelrolle aflewer en kombi restoureer deur is Kevin die Bus gebore en nou deel van ons gesin. Hy staan trots op ons nuwe parkeerarea wat eens op ’n tyd ’n swembad was, en ons vyf (drie mense en twee honde) toer lekker saam met hom deur Europa.

Aangesien ons studio ook nou reeds klaar is, stel ons ons huis oop vir mense terwyl ons op vakansie gaan, en in ruil kyk hul dan na ons twee honde en versorg die plante. Ons gebruik Trusted Housesitters en ons geniet die konsep vreeslik! So het ons eerste huisoppasser sommer van Suid-Afrika af gekom, Carla van die Kaap. Ons het so lekker saam met haar gekuier voor en ná ons vakansie dat ons sommer hartseer was toe sy na haar volgende oppaswerkie moes gaan! In Desember het hier twee vroue van Peru kom woon en onlangs ’n paartjie van Switzerland. Ons is ryklik met heerlike Switserse sjokolade beloon!

Om alles op te som, het ons al baie gepraat oor wat ons al geleer het, wat ons anders sal doen en die gewone diep gesprekke wat met groot besluite gepaard gaan. My man het geleer dat jy dit moet aanvaar as vriende hulp aanbied. Ons het saam geleer dat ons albei ons eie wyse het van beplan en kommunikeer, maar ons kan aan die einde van die dag as ’n span iets klaarmaak, maak nie saak hoe anders ons dinge aanpak nie. Ek het geleer dat ek wel meer van gemak hou as wat ek gedink het. Ons het geleer dat jy met sommige dinge mooier moet dink voordat jy doen, maar om ook dankbaar te wees dat jy die tipe persoonlikheid het wat kanse waag – ’n soort paradoks.

Nie een van ons twee weet regtig of ons die projek weer sou aanpak as ons die geleentheid kry nie. Ons het die weersomstandighede onderskat en ook die verbintenis wat dit verg omdat ons albei boonop voltyds werk. Ons geniet die lewe en al sy fasette ’n bietjie te veel om net op een ding te fokus. Dit gesê, sou ons beslis nie so ’n groot erf en die privaatheid wat daarmee gepaard gaan in Nederland kon bekostig nie. Nederland het ’n groot tekort aan wonings, met die gevolg dat eiendom baie duur is en die meeste mense in rijtjeshuisjes woon (dit is soortgelyk aan Suid-Afrika se skakelhuise, een gebou wat bestaan uit ’n hele aantal huise wat elk met ’n muur aanmekaar verbind is en ’n ry vorm). Ons sou nie die interessante mense ontmoet het wat al oor ons pad gekom het of ’n paar dinge oor onsself geleer het nie. So ja, ons sou dit seker weer doen, maar een ding is seker: As ek volgende somer op my stoep sit met ’n huis agter my wat klaar gerestoureer is en ek dus ekstra tyd op my hande het, gaan daardie glasie witwyn ekstra lekker wees!


Volg Alecia-hulle se Instagram-blad by Lifewithyou.homebase.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Nicolene Coetzee, wat vir...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest