Leesvordering:

Hulp vir kinders in Suid-Afrika

Aug 7, 2019

Wêreldwyd en AfriForum ontvang die afgelope tyd baie navrae oor die lot van kinders in Suid-Afrika. Dit kom voor asof vals nuus hieroor in die buiteland versprei word, daarom hierdie inligting.

“Plaasmoordwesies”

Verskeie mense wat in die buiteland woon, wou al plaasmoordwesies aanneem en het gevra hoe hulle te werk moet gaan om dit te doen. In hierdie stadium is ons nie bewus van enige kinders wat sonder ouer of voog gelaat is weens plaasmoorde nie. In gevalle waar ouers van minderjarige kinders vermoor is, is dit meestal net een ouer wat dood is en kan die ander ouer steeds na die kinders omsien. Al sou beide ouers sterf, is daar gewoonlik steeds ook ’n uitgebreide familie en vriende wat na kinders omsien, soos in enige ander geval van gesinsuitwissing. Die finansiële las wat dit vir die oorlewende ouer of voogde meebring, kan dramaties wees, daarom het AfriForum byvoorbeeld die Wilmien Potgieter Fonds gestig waar bydraes vir die kinders gemaak kan word.

Kinders in kinderhuise

’n Groot aantal kinders in Suid-Afrika leef in nypende armoede. Van hulle is weeskinders, met ander woorde hulle het geen ouers of ander voogde wat na hulle kan omsien nie. Ander word wettiglik uit hulle ouers se sorg verwyder en in tydelike of permanente sorg geplaas. Soms beteken dit dat hulle in ’n kinderhuis geplaas word. Die meeste kinderhuise in Suid-Afrika bied uitstekende sorg aan kinders. AfriForum en van ons personeel is betrokke by van hierdie instellings en weet hoeveel moeite die personeel doen om ’n liefdevolle omgewing met ’n huislike gevoel vir die kinders te skep. Van die voormalige inwoners presteer op universiteit en in verskillende loopbane, wat daarvan getuig dat hulle dieselfde geleenthede as enige ander kind gehad het.

Die staat is veronderstel om hierdie instellings te subsidieer, maar dikwels word betalings nie betyds gemaak nie en ontstaan kontantvloeiprobleme. Die bedrag per kind is ook maar gering, soos alle maatskaplike toelaes in die land. Die instellings maak dus noodgedwonge grotendeels staat op openbare steun. Baie mense skenk speelgoed en klere, maar toiletware, skooltoerusting en kos is groot uitgawes wat ook in aanmerking geneem moet word. Mense wat regtig vir hierdie kinders omgee, kan ’n enorme verskil maak deur ’n klein maandelikse donasie aan ’n betroubare instelling van hulle keuse te maak.

Aanneming

Aannemingswetgewing het baie verander in onlangse jare en word tans weer hersien omdat baie vergrype al plaasgevind het en weeskinders ’n sagte teiken vir mensesmokkelaars is. Dit is ’n internasionale proses en nie net tot Suid-Afrika beperk nie.

Vir ’n buitelander om ’n Suid-Afrikaanse kind aan te neem, kan ’n baie lang en duur proses wees; dit kan oor jare strek en selfs dan mag howe weier om die aanneming goed te keur. Die ideaal is steeds dat ’n kind binne gemeenskapsverband aangeneem word.

Hulp aan kinders in noodsituasies

Die media loods gereeld veldtogte namens die een of ander instelling wat kinders in nood help. Dikwels is dit kinders wat in plakkerskampe of ander informele woongebiede grootword. ’n Donateur kan ’n groot rol speel om hierdie kinders te help. Die belangrikste is om seker te maak dat die organisasie aan wie skenkings gemaak word, geloofwaardig is en dat hulle fokus nie alleen moet wees om aan kinders kos of skuiling te gee nie, maar ’n element moet bevat om kinders te help om uit die spiraal van armoede en afhanklikheid te breek. Kinders moet byvoorbeeld ook gehelp word om onderrig te ontvang, of die ouers moet betrokke wees om die kind te ondersteun terwyl hulle self bemagtig word met meer kennis oor positiewe ouerskap. In die Solidariteit Beweging fokus Helpende Hand op sulke projekte – kyk https://helpendehand.co.za/veldtogte/. Daar is ook baie ander wonderlike inisiatiewe wat toegespits is op kinders in nood en waar enigeen sinvol betrokke kan raak.

Dikwels kontak mense wat speelgoed, klere of onderwyshulpmiddels van die buiteland af na Suid-Afrika wil stuur ons. Die eerste probleem is dat vervoer duur is – beide die versending na Suid-Afrika en dan die vervoer na die gemeenskap waar dit gebruik kan word. Tweedens is invoerbelasting meestal op hierdie goedere van toepassing, selfs al is dit tweedehandse goedere. ’n Finansiële donasie is daarom gewoonlik die effektiefste bydrae wat iemand wat omgee kan maak. Dit stel die instelling wat dit ontvang in staat om dit juis dáár aan te wend waar die nood die grootste is in die gemeenskap of gebied waar hulle werk.

Van die organisasies bied ook ’n geleentheid aan vrywilligers om vir ’n tyd lank aktief deel te neem aan hulle aksies. Weer moet belangstellendes net deeglik navorsing doen oor die geleenthede wat bestaan en die geloofwaardigheid van die instelling waarop hulle besluit voordat hulle die taak aanpak.

Suid-Afrikaanse kinders ervaar soveel nood dat ’n klein inset die wêreld se verskil in ’n kind se lewe kan maak. Belangstellendes moet versigtig wees om nie deur onetiese instellings ingeloop te word of deur vals nuus en emosie oorweldig te word nie. Soos met enige betrokkenheid, moet keuses op grond van betroubare inligting gemaak word. Hiermee kan instellings soos Helpende Hand leiding gee.

Ons bedank almal wat omgee en deur wie se bydraes kinders ’n beter kans op ’n veilige, suksesvolle toekoms kan kry!

 

Lees gerus die volgende artikel oor presies hoe ingewikkeld die aannemingsproses is: https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2019-01-17-why-adoption-is-a-problem-in-south-africa/

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest