Geklee in termiese onderklere, dik wolmussies en handskoene is ons amptelik Arktiese ontdekkersreisigers. Nie noodwendig goed voorbereide reisigers nie, en nie noodwendig stylvol met ons rooi neuse en pofbaadjies nie, maar ons is hier!

Tromso is een van die plekke in Noorweë waar jy die beste kans het om die noorderligte te sien. Die stad is bekend daarvoor dat dit die meeste ou houthuise in Noorweë het; die oudste huisie dateer uit 1789. Dit lyk voorwaar soos ‘n Arktiese sprokiesdorp met veelkleurige huisies omring deur indrukwekkende berge soos die bekende Tromsdalstinden in die ooste. Die noorderligte kan elke jaar van September tot vroeg April gesien word, maar die beste tyd om dié natuurverskynsel te sien, is van middel November tot middel Januarie wanneer die son nie hoër as die horison opkom nie.

HY: Die dorpie is oulik en dis lekker om daar rond te stap. Noorweë is bekend vir hulle tradisionele messe. Kyk veral uit vir die Helle-handelsmerk.

SY: Die toeristewinkels is oor die algemeen duur. My gunstelingkopie was takbok-cabanossi – al het ons dit nou nog nie geëet nie!

Met die hoop om die ligte te sien, daag ons middel November in Tromso op en vaar die dorp blindelings in. Gelukkig kry ons maklik ‘n toeragentskap om ons op ‘n toer te vat om die ligte te sien. Die ideaal is om uit die stad uit te kom omdat ligbesoedeling ‘n groot effek het op hoe duidelik jy die ligte kan sien.

HY: Ons het natuurlik vir ‘n plaaslike biertjie ingeval. Maar die twee biere het ons meer as R300 gekos, so dit was die laaste keer wat ons by ‘n kroeg in was…

Plaaslike inwoners vertel graag dat hulle gereeld in die winter op pad terug van hulle plaaslike kroeg die ligte duidelik sien. Ons besluit egter om nie die kans te waag nie – ‘n mens is mos net een maal in Tromso. Vir ons toer kies ons Chasing Lights. Die toere is ongelukkig redelik duur (soos alles maar in Noorweë is), maar die agentskap is definitief aan te bevele. Hulle kom laai ons by ons blyplek op in ‘n luukse, lugversorgde bus – ‘n noodsaaklikheid in die koue Arktiese aandlug. Tipies Skandinawies moet hulle eers ‘n veiligheidsvertoning hou en elke insittende se veiligheidsgordel moet vas wees voordat die bus vertrek. En dan begin die rit. Dit voel in der waarheid soos een van daardie TV-programme waarin hulle storms agternasit. Ons gidse is geklee in termiese oorpakke en met hulle radio’s lyk hulle na ‘n moderne weergawe van die TV-reeks oor die Vikings. Die radio’s is vir kommunikasie met ander busse. Elke bus is vol avontuurlustiges wat verskillende windrigtings inslaan om die ligte op te spoor. En so jaag ons van een punt na die ander agter mekaar aan om die blou-groen fenomeen net vir ‘n oomblik te kan aanskou.

SY: Die toeragente kan gelukkig goed Engels praat, en hulle vertel graag interessante staaltjies oor die omgewing!

HY: Die toeragente het self ook foto’s geneem en agterna vir ons gestuur. Ons het nie ‘n goeie kamera nie, so ons was baie bly daaroor.

Ons groep ry sowat ‘n uur en ‘n half uit Tromso en stop uiteindelik langs ‘n donker meer. Die toergidse is voorbereid vir ‘n lang, koue wag en maak vuur langs die meer. Dit verlig die water wat oor die klippe spoel ietwat en laat die pikgietswarte nag darem minder dreigend lyk. Die gidse deel warm sjokolade en Freya-sjokoladekoekies uit wat ons suikervlakke die hoogte in jaag. Intussen stel een van hulle ‘n kamera op die strand op en tuur elke paar minute daardeur om te kyk of daar al enige teken van die ligte is. Omdat die hoëkwaliteitkameras se lense baie sensitiewer as die blote oog is, is dit gewoonlik makliker om die begin van ‘n ligspel so te gewaar.

SY: ‘n Mens besef nie hoe koud dit raak as jy lank buite moet staan en wag vir die ligte nie. ‘n Kopmussie is ‘n moet!

Na sowat twee uur se gesellige wag en gesels met die gidse is die eerste tekens van lig uiteindelik daar. Vir sowat ‘n halfuur kan ons liggroen ligte op die horison sien speel en almal neem foto’s vir ‘n vale. Toe ons uiteindelik teen eenuur die volgende oggend by ons verblyf terug is, is ons pootuit en yskoud. Genoeg avontuur vir een aand.

Hoogtepunte

  • Chasing Lights-toeragentskap is betroubaar en baie professioneel.
  • Op die busrit stop hulle ook by mooi uitsigte oor die meer.
  • Die toeragentskap is bereid om so ver te ry as wat nodig is om die ligte te sien, selfs al moet hulle tot in Finland ry.

Laagtepunte

  • Jy het geen waarborg dat jy die noorderligte sal sien nie. Aangesien die toere duur is, kan dit ‘n groot risiko wees.
  • Die ligspel wat ons gesien het, was maar klein in vergelyking met wat jy op Google sien. Min mense sien die pers en groen kleure wat soos ‘n waterval reg bo jou dans. Dit kan skouspelagtig wees, maar daar is geen manier om te voorspel wanneer dit so gaan lyk nie.
  • In die werklikheid lyk die noorderligte minder indrukwekkend as op kamera. Kameras word ingestel om die kleure wat moeilik met die blote oog gesien kan word, vas te vang.

Wat moet jy saamneem?

  • ‘n Goeie kamera met ‘n driepoot
  • Jou eie fles koffie, want dit kan koud raak!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Charl Oberholzer
Charl Oberholzer

Pin It on Pinterest