Leesvordering:

ICML 2021-kongres bewys noodsaak van veeltaligheid

Mar 31, 2021

Alana Bailey, hoof van Kultuursake, AfriForum

Die agtiende Internasionale Konferensie oor Minderheidstale (ook bekend as ICML 2021) is pas aanlyn vanuit Bilbao in Baskeland, Spanje aangebied. Dit vind elke tweede jaar plaas en fokus op minderheids- of klein tale regoor die wêreld. In aanbiedings word interdissiplinêr gekyk wat minderheidstale wêreldwyd doen om uitdagings soos druk van meerderheidstale die hoof te bied en in multikulturele omstandighede staande te bly.

Een van die mees aktuele referate, was dié Ingrid Piller. Sy is ’n sosiolinguis, verbonde aan Macquarie Universiteit in Sydney, Australië, wat spesialiseer op die terreine van interkulturele kommunikasie, taalverwerwing, veeltaligheid en tweetalige onderwys.

Die tema van haar referaat was “Linguistic justice – what is it and how can it be achieved?” Linguistiese geregtigheid is ’n minder bekende term in Suid-Afrika. Breedweg kom dit neer daarop dat die sprekers van alle tale redelik behandel moet word, ongeag van die aantal sprekers van ’n taal, of die politieke of ekonomiese gewig daarvan. Sprekers moet die reg hê om hulle taal in openbare skole aan te leer, deur openbare platforms inligting daarin te ontvang en hulle taal vryelik in die openbaar en hulle privaatlewe te gebruik, sonder dat daar enige beperkings op hulle toegepas word, of daar teen hulle gediskrimineer word.

Piller het ’n studie gemaak van die inligting wat verskillende lande oor COVID-19 onder hulle inwoners versprei het. Sy beskryf die pandemie as die grootste uitdaging vir massakommunikasie waarvoor die wêreld al ooit te staan gekom het.

Nuwe terme soos “sosiale afstandhouding” en woorde wat nog nooit in kleiner tale bestaan het nie, moes geskep word. “Inenting” is byvoorbeeld in afgeleë dele van die wêreld nog ’n onbekende konsep.

Daar was internasionaal grootskaalse pogings om inligting veeltalig beskikbaar te maak, maar ook vele voorbeelde van linguistiese ongeregtigheid, omdat taal nie net koud en klinies as kommunikasiemiddel aangewend kan word nie. Taal is nou verweef met die identiteit en lewensomstandighede van die sprekers daarvan en as al hierdie elemente nie in ag geneem word nie, word sprekers van veral minderheidstale se regte maklik geskend.

Piller het die volgende voorbeelde genoem:

  • die meeste lande het sterk op digitale kommunikasie gesteun, terwyl dié soorte media nie noodwendig vir al hulle inwoners beskikbaar of toeganklik was nie;
  • daar is aanvaar dat sekere tale in sekere areas algemeen gebruik word, wanneer dit nie die geval was nie;
  • voorskrifte was nie noodwendig prakties uitvoerbaar vir die gemeenskappe aan wie dit oorgedra is nie, soos in Peru waar inligting oor handewas in 15 inheemse tale beskikbaar gemaak is, maar van die gemeenskappe nie toegang tot lopende water het nie;
  • die gebruik van vertalingsprogramme, soos Google Translate, het soms sinnelose tekste tot gevolg gehad;
  • inligting is aanvanklik wyd versprei, maar is nie gereeld opgedateer met nuwer regulasies en feite nie;
  • wanneer vertalings in verskillende alfabette gepubliseer is, is soms nie in ag geneem dat alle mense nie van links na regs lees nie – so het die opskrif van ’n Koerdiese teks dus met “IDRUK” in plaas van “KURDI” begin.

Die gevolgtrekking wat Piller bereik het, is dat taalgebruik sal bepaal hoeveel vertroue gemeenskappe in die inligting wat aan hulle voorsien word, en diegene wat dit voorsien, sal hê. In die geval van omstandighede wat mense se fisiese veiligheid raak, is dit lewensbelangrik om die gemeenskappe se vertroue te behou. Wanneer hulle met swak vertalings te make het, kan dit ook as disrespek beleef word, wat ewe skadelik kan wees as wanneer hulle tale geïgnoreer word.

Vertaling alleen is nooit genoeg nie. Daar moet gekyk word watter tale algemeen in ’n gebied gebruik word. Die vertaler moet verder weet wat die lewensomstandighede van die sprekers van ’n taal is om seker te wees dat instruksies vir hulle uitvoerbaar sal wees. Vertalings moet van die beste moontlike gehalte wees – as ’n meganiese vertaalprogram gebruik word, moet dit ook deur ’n kundige persoon nagegaan word voordat die inligting verder versprei word.

Met Piller se referaat het die organiseerders van ICML 2021 opnuut bewys dat inligting wat by akademiese kongresse beskikbaar raak, ook groot praktiese waarde het. Owerhede, gesondheidswerkers en enige ander instellings wat inligting aan die publiek beskikbaar stel, moet van die bostaande uitdagings en wenke kennis neem, ten einde gemeenskappe se vertroue te wen en behou, en die groter samelewing na behore te kan beskerm. Dit geld baie beslis ook wat Suid-Afrika aanbetref.

COVID-19 het bwys dat die wêreld totaal onvoorbereid op die behoorlike aanwending van taal in ’n ramp- of noodsituasie van dié omvang was. Dit geld ook vir Suid-Afrika, waar die meeste inligting slegs in Engels aangebied is. In 2020 het ons reeds op plaaslike tekortkominge gewys – sien https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/veeltalige-diens-en-selfhelpplanne-teen-covid-19/. AfriForum het ’n poging aangewend om inligting in meer amptelike tale bekend te maak, wat ’n belangrike bydrae op dié gebied gelewer het.

Die bostaande taalondervindings bewys ook weer waarom dit noodsaaklik is om die behoud van Afrikaans as primêre, sekondêre en tersiêre onderrigmedium te eis. As Afrikaans verder afgeskaal word, het ander inheemse tale geen kans om tot hierdie vlakke te ontwikkel nie en word al die gemeenskappe buiten die Engelse moedertaalsprekers van hulle regte ontneem. Dit gaan nie oor “taalbulle”, sogenaamde giftige nasionalisme of eksklusiwiteit nie, maar juis oor geregtigheid en regverdigheid vir almal.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kinderboeke vir oud en jonk!

Kinderboeke vir oud en jonk!

Nuut op die rakke: Kinderboeke vir oud en jonk! Skerwe - Sally Partridge Ses vriende woon ’n musiekfees in die Cederberg by. Net vyf kom terug. Vir haar sewentiende verjaarsdag nooi Demi Crowley haar vyf beste vriende saam met haar na ’n musiekfees vir die partytjie...

Lapa Uitgewers: Ouma Mollie en die mensvreter

Lapa Uitgewers: Ouma Mollie en die mensvreter

Ouma Mollie en die mensvreter Fanie Viljoen Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootse moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai. Gelukkig hou Nina haar ouma (gewoonlik) uit die moeilikheid. Vandag is egter nie...

Oom Paul, sy soldate en die plein

Oom Paul, sy soldate en die plein

Terwyl die storms oor die geskiedenis woed en betogers onlangs nog met spuitverf rondom Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria gedans het, staar dié ou staatshoof in stilte in die verte. Sy klipvoete staan dalk nou (nog) rustig op Kerkplein met sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest