Leesvordering:

Immigrasie: ʼn Oop gesprek met Charlene Breytenbach

Sep 20, 2018

Deur Charlene Breytenbach

As jy dié artikel lees, oorweeg jy dit waarskynlik om te emigreer of jy wonder hoe mense sommer net hul tasse kan pak en hul land en mense agterlaat.

Tien jaar gelede het ek besluit om my tasse te pak en my ouers na Nieu-Seeland te vergesel. Dit was moeilik om my broer en sy gesin, my vriende en ander familie agter te laat, maar ek was gereed vir ʼn nuwe uitdaging.

Die laaste 10 jaar het ek in Auckland, Nieu-Seeland, en in Forster, Brisbane en Sydney in Australië gebly. Ek het die man van my drome ontmoet, ons is getroud en ons het ʼn pragtige dogtertjie.

Dis vir my vreeslik moeilik om al my uitdagings en hoogtepunte op een bladsy vas te vang, want so baie kan in 10 jaar gebeur. ʼn Mens verander so baie en jy kry soveel wysheid, maar terselfdertyd bly sommige dinge dieselfde en sal dit nooit ooit verander nie.

Die uitdagings van immigrasie:

  • Dit kos baie geld, veral as ʼn mens dit met rande wil doen. Jy moet glad nie dink wat jy met al daai rande in Suid-Afrika sou kon koop nie, want dit sal jou teen die besluit laat draai. Moet ook nie dink waar jy sou wees as jy in SA gebly het nie. “No looking back!”
  • Geleenthede is nie so volop soos wat dit altyd van buite lyk nie. Onthou, jy het jou hele netwerk, al jou kontakte en jou reputasie in ʼn ander land agtergelaat. Jy moet weer van voor af begin, van voor af mense leer ken en ʼn reputasie opbou.
  • Jy praat anders en dink anders as die meeste mense om jou. Jou fondasie is net anders gelê en jou beginsels verskil heel moontlik van dié van die meerderheid om jou.
  • Kerk en geloof is nie so ʼn groot deel van almal se lewens nie en skielik moet jy jouself elke dag herinner aan God se goedheid, want ander om jou praat nie so baie daarvan nie. Inteendeel, die meeste laster en is oneerbiedig.
  • Jy is ver van jou mense! Moedersdag, Vadersdag, Kersfees, verjaarsdae, kinders kry of mense groet is nie meer so maklik nie … ʼn Mens kan nie elke keer as daar ʼn troue of begrafnis is terug vlieg Suid-Afrika toe nie en so loop jy groot ervarings mis. Om sommer reguit te praat – ʼn paar familielede is al oorlede en ek kon hulle nie groet nie. My ma was nie by my toe my dogtertjie gebore is nie. Dis GROOT gebeurtenisse, en soms ervaar ʼn mens dit alleen.
  • Die verlange en heimwee gaan nooit weg nie. My hartsmense is nog in Suid-Afrika. My kultuur en my menswees is nog in Suid-Afrika. Ons skree nog vir die Bokke, (ek weet, ten spyte van al die opsies om ons J), ons braai nog elke naweek (met hout – nie gas nie), ons luister nog na Suid-Afrikaanse kunstenaars en ons hunker nog na Wimpy, Spur en Ocean Basket!

So hoekom doen ons dit? Hoekom kies ons om elke dag op te staan en die buitelander te wees, die een met die snaakse aksent, of die een in die kantoor wat nie regtig inpas nie?

  • Ons het ʼn ongelooflike lewenstandaard. Ons kan winkels toe stap of bus ry of trein ry. Ons kan in parkies gaan speel of op strande gaan kamp.
  • Ons geldeenheid is redelik sterk, so ons kan darem ʼn bietjie oorsee gaan vakansie hou.
  • Ons het toegang tot uitstekende hospitale en die meeste mediese koste word deur die staat betaal.
  • Die land word in stand gehou. Strate is skoon, openbare toilette is meestal skoon, paaie is in ʼn goeie toestand, parkies is skoon en versorg, strande is skoon en veilig.
  • Ek, my man en dogtertjie is veilig. My man reis baie gereeld vir werk en ek hoef my nooit oor sy veiligheid te bekommer nie. Ek werk baie aande tot laat in die middestad en ry dan trein huis toe. Soms stap ek van die stasie af huis toe (±2km) en ek is veilig. My dogtertjie kry uitstekende sorg by haar skool en sy is veilig.
  • My kind het ʼn toekoms in hierdie land. Sy het gelyke geleenthede en toegang tot uitstekende universiteite.

My raad aan enige persoon wat oorweeg om te emigreer:

Kom hou vakansie, kyk of jy hou van wat jy sien, gesels met die “locals” en besluit.

As jy klaar besluit het om te immigreer, moenie ʼn beperking op die tyd of prys sit nie. Dit vat lank om aan te pas en dit kom teen ʼn prys, maar kom skakel in by die mense en word deel van die gemeenskap. Maak Aussie-/Kiwi-vriende en doen moeite om hulle kultuur ook te verstaan.

As jy kies om in Suid-Afrika te bly – dankie! Dankie dat jy ons kultuur en ons taal aan die gang hou. My grootste hartseer is dat my dogter en haar familie nooit ons kultuur en taal sal ken of verstaan nie. Dis ongelukkig die prys wat ons betaal.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest