Leesvordering:

Inkopies in die buiteland: Waar om te koop.

Jul 15, 2020

Om ‘n gunsteling supermark te hê, is een van die eerste stappe van grootword. Of jy nou saamstem of nie, daar is sekere winkels wat jy wéét altyd die voorraad het waarna jy op soek is, hetsy dit nou vars slaaiblare, puik kwaliteit biefstuk, of ‘n winskopie op koffie, toiletpapier en ander noodsaaklikhede is. Suid-Afrika se grootste deelnemers aan dié kompetisie is Woolworths, Checkers, Pick n Pay en Spar. Maar hoe gemaak in die buiteland?

Ons vriende oorsee weeg dieselfde kategorieë op wanneer hulle besluit of ‘n supermark moet bly of gly. Ontdek die gewildste opsies in ‘n paar lande saam met ons.

Australië

Volgens ‘n artikel deur Choice, ‘n Australiese groep wat na verbruikers omsien, word die waarde van supermarkte in Australië nie bepaal deur aandeelpryse nie, maar eerder deur kopers se menings. Dit is tog immers hulle wat die aankoopwerk doen.

Foodland, wat in Suid-Australië gebaseer is, styg uit bo ander gewilde Australiese supermarkte soos Coles en Woolworths. Kopers meen Foodland is so gewild omdat die verskeidenheid en kwaliteit van produkte en kliëntediens belangriker as winskopies en uitverkopings is. Coles, die supermark wat jy gereeld op TV-programme soos MasterChef Australia en My Kitchen Rules sien, word beskou as Foodland se grootste kompetisie.

En dan is daar natuurlik die Suid-Afrikaanse Woolies se naamgenoot, Woolworths. In Suid-Afrika is Woolworths ‘n gunsteling onder jong werkendes en die middelklas; hulle bied ‘n wye reeks produkte wat strek van velsorg en klere tot vars produkte en tuisgemaakte etes. In Australië bied Woolworths egter slegs vars groente, vrugte, vleis en huisware. Moet dus nie verwag om dieselfde verskeidenheid in ‘n Australiese Woolies te vind as in Suid-Afrikaanse Woolies nie.

Verenigde State van Amerika

Alhoewel kitskos groot is in die VSA, het hulle geen tekort aan supermarkte nie. Inteendeel, die VSA het so ‘n groot verskeidenheid supermarkte dat jy sal sukkel om ‘n produk nié te vind nie. Vir kosinkopies is die ekwivalent van Suid-Afrika se Woolworths winkels soos Whole Foods Market of Trader Joe’s, terwyl Costco soortgelyk is aan die Suid-Afrikaanse Makro of Game. Die prys van vars groente en vrugte verskil natuurlik van staat tot staat. As jy in New York $20 vir ‘n vars avokadopeer betaal, kan dit jou in Arizona dalk net $3 kos.

Die VSA se een-grootte-pas-almal winkel is natuurlik Walmart waar jy van klere en TV-speletjies tot kunsbenodigdhede en vars groente en vrugte kry. Dink aan daardie bekende kinderspeletjie: “As jy die res van jou lewe in een winkel kan bly, watter winkel sal dit wees?” Die antwoord vir die VSA sal altyd Walmart wees.

Brittanje

Die twee kompeterende supermarkte in die VK is beslis Waitrose en Tesco. Waitrose is soortgelyk aan ‘n Suid-Afrikaanse Woolworths, terwyl Tesco meer ‘n middelklasmark dien. Volgens ‘n artikel deur Expatica fokus Tesco op prys eerder as kwaliteit. Mense wat “organic and fresh produce” verkies, gaan eerder na markte as supermarkte.

Net soos in Suid-Afrika, word plastieksakke verkoop en nie gratis verskaf nie; so sny supermarkte kostes en ondersteun terselfdertyd die “Groen rewolusie”. Supermarkte is wetlik verplig om op groot vakansiedae gesluit te bly, so beplan vooruit as jy VK binnekort besoek.

Nieu-Seeland

Nes ander lande, het Nieu-Seeland ‘n paar welbekende supermarkte, byvoorbeeld New World, Countdown, PAK’nSAVE, Four Square en FreshChoice. Om by hierdie winkels inkopies te doen en by die huis, gastehuis of hotel kos te maak, sal jou goedkoper uitwerk as om uit te eet. En natuurlik het selfs Nieu-Seeland ‘n Woolworths! Net soos in Australië fokus hulle slegs op kruideniersware en jy sal nie dieselfde soort produkte daar kry as in ‘n Suid-Afrikaanse Woolies nie.

PAK’nSAVE is soortgelyk aan Suid-Afrika se Shoprite of selfs Pick n Pay; hulle fokus nie soseer op kwaliteit nie maar eerder op kwantiteit vir lae pryse. Alle vars aankope in Nieu-Seeland kom teen ‘n stewige prys aangesien die meeste van Nieu-Seeland se vleis en inheemse vrugte en groente uitgevoer word. Toeriste word dus aangeraai om lojaliteitskaarte vir toeriste te kry; dit sal jou in staat stel om oral winskopies te kry, en dit sluit gewoonlik toerspesifieke benodighede in.

Soos in Suid-Afrika moet jy ‘n paar supermarkte uittoets voor jy sal kan besluit wat vir jou werk en wat nie. Ons advies? Probeer elke winkel eers ‘n keer en besluit dan. Besluit vooraf watter eienskappe van ‘n supermark vir jou belangrik is. Verkies jy kwaliteit of kwantiteit? Is kliëntediens vir jou belangrik, of soek jy net iets wat so veel as moontlik na huis voel? Kies self!

Meer oor die outeur

Andri Johnston

Andri Johnston het in 2018 saam haar man na die Verenigde Koninkryk verhuis met die plan om 18 maande daar te bly. Bykans vyf jaar later is hulle steeds daar. Sy werk in die akademiese uitgewerswese as ’n spesialis in digitale volhoubaarheid. Haar passie vir ’n volhoubare leefstyl deel sy ook in haar vrye tyd op haar blog en sosialemediaprofiel The Sustainable Library. Wanneer sy nie skryf en lees nie, geniet Andri tuinwerk, lang hardloopsessies met hul aangenome husky Ace en fietsry.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest