Leesvordering:

Ja, jy kan jou Suid-Afrikaanse burgerskap verloor

Aug 9, 2021

Burgerskap is waarskynlik nie ’n saak waaraan ’n mens daagliks dink nie, maar om ’n nuwe burgerskap te aanvaar of ’n bestaande burgerskap prys te gee, kan ’n besonder emosionele ervaring wees, omdat jou burgerskap nou aan jou identiteit verbind is.

Suid-Afrika se burgerskapwet dateer nog uit die vorige eeu, maar om presies te bepaal wat ’n persoon se burgerskapstatus is, is nie so maklik as om die wet te lees nie, want regulasies wat oor die jare uitgereik is, bepaal fyner besonderhede wat nie in die wet self voorkom nie. Die tydstip waarop ’n persoon se status verander het, speel ook ’n belangrike rol, omdat die wet en regulasies wat in plek was toe die verandering plaasgevind het, sal bepaal wat op hom of haar van toepassing sal wees.

’n Mens verkry gewoonlik burgerskap van ’n land deur geboorte, op grond van jou herkoms (met ander woorde die burgerskap van een of albei jou ouers of van jou grootouers), op grond van jou lewensmaat se burgerskap, of wanneer jy nadat jy geïmmigreer het, aansoek doen en kwalifiseer daarvoor. Dié proses staan ook as naturalisasie bekend. Elke land het ander vereistes wat dié prosesse aanbetref.

Suid-Afrika is een van die lande wat toelaat dat ’n mens gelyktydig meer as een land se burgerskap mag hê. Ander lande is weer baie streng en as jy hulle burgerskap wil aanvaar, moet jy bewys lewer dat jy enige ander burgerskap wat jy gehad het, afgelê het.

In die geval van Suid-Afrika is daar nie ’n beperking op die hoeveelheid burgerskappe wat jy mag hou nie, MAAR indien jy meer burgerskappe as net jou Suid-Afrikaanse burgerskap wil aanvaar op grond van jou huwelik of naturalisasie na immigrasie, moet jy EERS om behoud van die Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek doen en dit skriftelik ontvang, VOOR jy die ander land se burgerskap aanvaar. Dit geld vir elke burgerskap waarvoor jy kwalifiseer. Byvoorbeeld:

Piet is in die VSA gebore, maar sy ouers was Suid-Afrikaners ten tye van sy geboorte. Hulle het sy geboorte in Suid-Afrika geregistreer en op grond daarvan kon hy ook Suid-Afrikaanse burgerskap saam met sy Amerikaanse burgerskap kry. Na sy studies het hy ’n werkspermit vir Engeland gekry en na die vereiste tyd kon hy ook vir Britse burgerskap kwalifiseer. Hy moes eers om die behoud van sy Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek doen en na hy skriftelike toestemming ontvang het, kon hy die Britse burgerskap aanvaar. Daarna is hy met ’n Nieu-Seelandse burger getroud en het daarheen verhuis. Na nog ’n aantal jare het hy ook vir Nieu-Seelandse burgerskap gekwalifiseer, maar nou moes hy weer aansoek doen om behoud van die Suid-Afrikaanse burgerskap voor hy die vierde status kon aanvaar.

As hy dit nie elke keer gedoen het nie, kon hy die Suid-Afrikaanse burgerskap verloor het, ongeag dat burgerskap ’n reg is wat in die Grondwet gewaarborg word. Baie regte word in die Grondwet gewaarborg, maar is onderhewig aan verpligtinge ook. Dit is ’n kontensieuse kwessie, maar of jy saamstem of nie, dit is die huidige stand van sake en ’n mens moet daarvan kennis neem.

Die feit dat iemand nie bewus was van die vereiste toe die burgerskap verloor is nie, word ook nie deur die Suid-Afrikaanse reg as ’n verskoning aanvaar nie – die onus rus op die burger om die gevolge vas te stel voor ’n ander burgerskap aanvaar word.

Om om behoud van die Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek te doen, word vereis dat jy bewys moet kan lewer dat jy wel vir die ander land se burgerskap kwalifiseer. Sommige lande reik briewe uit om dit te bevestig, in ander gevalle nie, en dan moet ’n mens ’n kopie van die betrokke land se burgerskapwetgewing in die hande kry en jou bewys, byvoorbeeld kopieë wat bewys hoe lank jy al ’n verblyfpermit vir die land het of met ’n burger daarvan getroud is, aanheg. Verder moet jy lewenslank jou Suid-Afrikaanse paspoort geldig hou en dit altyd gebruik om die land binne te kom of dit te verlaat – dit is veral omdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wil weet hoeveel dae per belastingjaar jy binne die republiek deurbring met die oog op belastingheffing.

Wat beteken Suid-Afrikaanse burgerskap verder, buiten nou om maklik in die land te kan inkom sonder die noodsaak vir verblyfpermitte? Soos reeds genoem hou burgerskap altyd belastingimplikasies in, jy kry die reg om te kan deelneem aan nasionale verkiesings vanuit die buiteland waar moontlik en dan ook baie belangrik, as jy jou status verloor, ontneem jy jou kinders van die reg om aanspraak te maak op burgerskap deur hulle herkoms.

’n Mens kan weer jou burgerskap terugkry, maar dit vereis onder meer dat jy ’n vaste woonadres in Suid-Afrika moet hê en duidelik hier woonagtig moet wees. Dit is ’n langdurige proses en terwyl dit voortsleep, moet jy jou status as wettige vreemdeling in die land kan bewys en ook ander ongerieflikhede te bowe kom, soos die uitdagings om as nie-burger ’n bankrekening en bestuurderslisensies te probeer verkry.

Indien jy twyfel, gaan lees gerus meer oor die kwessie by https://www.gov.za/af/services/permanent-residence/apply-sa-citizenship# of kontak Wêreldwyd om meer inligting te bekom. Dit bly makliker om te vra as om ’n fout te maak en skielik te besef jy het jou burgerskap verloor.

Onthou ook dat wat ons bo beskryf, ook wat die voorbeeld van “Piet” aanbetref, net na Suid-Afrikaanse wetgewing en regulasies verwys. Elke land het ander verpligtinge en vereistes en indien jy in die burgerskap belangstel, of dit reeds aanvaar het, moet jy deurentyd bewus weet wat die betrokke land se wetgewing van jou vereis. So het Nederland ’n aantal jare gelede die wetgewing met betrekking tot burgerskap wat op grond van herkoms toegestaan is, verander en baie mense was verplig om hulle Suid-Afrikaanse burgerskap prys te gee ten einde die Nederlandse burgerskap te behou.

Wanneer ’n ander land die prysgawe van Suid-Afrikaanse burgerskap vereis, geskied die proses ook deur middel van ’n aansoek wat by die Suid-Afrikaanse departement van Binnelandse Sake ingedien moet word. Dit is dan belangrik om te noem dat die prysgawe onder druk (in Engels spesifiek “under duress”) geskied en nie vrywillig nie, want sou jy in die toekoms weer die Suid-Afrikaanse status terugverlang, help dit met die aansoek om herinstelling. Nog ’n voorbeeld:

Lynette het met ’n Duitse burger getrou en hulle het in Duitsland gaan woon. Na ’n aantal jare het sy Duitse burgerskap gekry en haar Suid-Afrikaanse burgerskap afgesweer. Sy het aanvaar dat haar toekoms by haar man in Duitsland is. Na die geboorte van hulle twee kinders, is haar man onverwags oorlede. Sy wou na haar ondersteuningsnetwerk van ouers, broers, susters en vriende in Suid-Afrika terugkeer. Nou moes sy egter eers om bewys van verblyfreg in Suid-Afrika vir haar en die kinders aansoek doen, toe vir die herinstelling van haar burgerskap en eers daarna vir haar kinders om ook Suid-Afrikaanse burgers te word wat nie meer enige permit benodig om in die land te mag skoolgaan en studeer nie. Dit het koste, lang ure in rye by die departement van Binnelandse Sake en senutergende wagtye tussen aansoeke tot gevolg gehad.

Dus, al dink jy dalk nie elke dag aan burgerskap nie, is dit so ’n belangrike kwessie, dat jy nie kan bekostig om glad nie daaraan te dink nie!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest