Leesvordering:

Kersfees in Ierland

Des 13, 2021

Terwyl die begin van Desember ’n vreugdevolle tyd is waartydens ons vol verwagting uitsien na ’n see- of bosvakansie en Kerslysies wat deur die kleinspan opgestel word, hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in. Met Kerstyd dink ons altyd aan die kinders en kleinkinders of die broers en susters wat aan die ander kant van die wêreld die viering op hulle eie voortsit. Ons het die week met Hananja Liebenberg gesels om te hoor hoe hulle Kersfees in Ierland vier.

  1. Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies of besondere disse?

’n Nuwe land, nuwe mense, nuwe kulture en natuurlik nuwe tradisies. Kersfees is ’n opwindende tyd van die jaar en dit is selfs meer so wanneer jy in ’n nuwe land gaan bly. Hier in Ierland neem hulle Kersfees baie ernstig op. Van die winkels begin al in September Kersversierings opsit, maar die meeste mense sal eers hul huise van 1 Desember af begin versier. ’n Mens kan die opwinding op almal se gesigte sien wanneer die liggies opgesit word.


Die eerste tradisie waaroor ek gaan praat is meer vir die kinders. The Late Night Toy Show is ’n program wat gewoonlik aan die einde van November gewys word. ’n Klomp speelgoed word uitgetoets en ’n hele opvoering word gehou. Baie welsynsorganisasies is ook gewoonlik betrokke. Al die kinders bly laat wakker om dit te kyk en maak dan ’n lysie vir Kersvader van wat hulle alles wil hê. Dit is bitter groot hier. Die winkels verkoop gemerkte nagklere en ander handelsware. Die ouers maak lekkergoedpakkies op en maak dit ’n hele feesaand vir hulle kinders. Dit is gewoonlik die begin van die feesseisoen.


Vir die grootmense is daar ’n ander pret-tradisie. Hier in Ierland doen hulle “12 Pubs of Christmas”. Jy kry ’n lekker feestelike Kerstrui (hoe belagliker hoe beter). Vriende kry soms dieselfde trui sodat hulle in dieselfde drag die kroeë kan binnegaan. Die doel van die aand is om 12 kroeë te besoek en minstens een drankie by elkeen te drink. Baie mense probeer, maar nie baie bereik die eindpunt nie. Op Kersdag self durf honderde mense die yskoue Atlantiese Oseaan aan vir ’n Kersdagswem. Ek moet eerlikwaar sê dit is nie iets wat ek sommer binnekort sal doen nie – die water is selfs in die somer vir my te koud om in te swem.

Waneer die liggies opkom en die Kersliedjies begin speel, word die winkels gevul met besonderse en buitengewone Kersprodukte. Allerlei lekkergoed en kase van regoor die wêreld wat ons nie gewoonlik kry nie maak hul verskyning op die rakke. Met al ons gunstelingsjokolades wat in emmers verkoop word en ons wêreldberoemde “jellybeans” in 1,5 kg-bottels is dit maklik om ’n paar ektra kilogramme op te tel gedurende hierdie tyd.
Die Kersdagete is gewoonlik maar baie tradisioneel met kalkoen, ham, and Brusselse spruite met kastaiings.

  1. Is daar mooi Kersliggies in jou buurt of is daar ’n nuwe Kersfeesgier in Ierland ?

Liggies is ’n baie groot deel van Kersfees in die buiteland, nie net gedurende die feesseisoen nie maar ook hierdie tyd van die jaar. In die winter het ons “daylight savings”, wat beteken dat horlosies ’n uur teruggedraai word. In die winter kom die son laat op en gaan vroeg onder. Teen 17:00 is dit reeds donker. Wanneer jy werk, gaan daar soms dae verby wanneer jy nooit die son sien nie. Mense raak soms baie depressief. Die liggies is ’n opwinding, ’n manier om van die donker en die koue te vergeet en uit te sien na wat voorlê. ’n Mens kan regtig die vreugde en opgewondenheid op mense se gesigte sien wanneer die liggies opgesit word. Die mense in die buurte doen baie moeite, party soms baie meer as ander. Party mense sal hul huis so vol liggies versier dat ’n mens dit amper van die maan af kan sien.

Dit is altyd lekker om in die aand te gaan stap en na al die liggies te kyk. Die afgelope paar jaar is daar mense wat regtig hul huise in ’n winterwonderland omskep en dan elke aand klein ligvertonings hou om geld in te samel vir ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse. Verlede jaar is ons net voor Kersfees in ’n vlak 5 inperking geplaas. Mense se harte was gebreek omdat hulle nie by hul families kon wees nie. Almal was baie hartseer gedurende daardie tydperk. Die meeste mense het besluit om hulle liggies nog tot aan die einde van Januarie op te hou as ’n simbool van hoop en lig in die donker tye waardeur ons moes gaan. Dit was eintlik baie mooi.

  1. Verkies julle ou tradisionele eetgoed en vierings of vier julle Kersfees op nuwe maniere?

Toe ons nog in Suid-Afrika gebly het, sou ons gewoonlik oor die Kerstyd by die see gewees het. Ons sou ’n ham met slaaie gemaak het omdat dit net te warm was om enige gekookte kos te eet. Daarna sou ons die dag op die strand geniet het. Vandat ons in Ierland gekom het, het ons ’n punt daarvan gemaak om tydens elke feestydperk ’n ander land te gaan besoek.

Ons het na hul groot Kersmarkte toe gegaan en hul tradisionele kos probeer en natuurlik die lieflike warm glühwein van stalletjie tot stalletjie gedrink. Ons het elke jaar ons glühwein-koppies gehou as ’n herinnering om aan terug te dink. Kerstyd is onbeskryflik mooi and anders in elke land.

Amsterdam het die mooiste bewegende ligte oor die kanale, en stalletjies vol poffertjies en kaas. Oostenryk met hul drukvol marke, mooi poppies en warm versuikerde neute en natuurlik Duitsland met hul warm pretzels, glühwein, verskillende worse and genoeg schnapps om ’n mens warm te hou as jy buite is. Ons vier Kersfees altyd by die huis, soms saam met spesiale hartsmense van Suid-Afrika en soms alleen. Ons sal ’n groot warm Kersete hê en onsself.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest